Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Suid-Afrika se slegte haardag

Suid-Afrika belewe tans ’n slegte haardag weens ’n Clicks-advertensie van ’n haarproduk wat ’n groot negatiewe reaksie uitgelok het.

In 2016 was daar ’n rasse-insident in verband met die hare van swart meisies by die San Souci Girls High School in Kaapstad. Hulle hare is as slordig en onbetaamlik volgens die skoolreëls beskou. In 2019 was daar ’n soortgelyke insident by die Malibu High School, ook in Kaapstad, toe daar na swart meisies se hare verwys is as “outrageous”, dat hul hare soos bome lyk, en dat “net ape en leeus met Afro’s gebore word”.

Nege meisies is oor hul hare geskors en dit het tot protes by die skool gelei – tot so ’n mate dat die Wes-Kaapse departement van onderwys moes ingryp.

Dit blyk dat geen lesse uit hierdie insidente geleer word nie.

Die advertensie versterk die koloniale idee van swart vroue as “anders”, en dus minderwaardig.

In die Tresemmé-advertensie op Clicks se webwerf word foto’s van ’n swart vrou en ’n wit vrou langs mekaar geplaas. Die hare van die swart vrou word onder meer as “dry & damaged” en “frizzy & dull” beskryf, en die wit vrou s’n as “fine & flat” en “normal”.

Wat as normaal beskou word, word aan ons opgedring deur jare se kondi­sionering deur die Westerse (lees: wit) standaarde vir skoonheid. In hierdie geval lang, reguit hare – wat ook Westerse idees van vroulikheid versterk.

Die advertensie versterk die koloniale idee van swart vroue as “anders”, en dus minderwaardig.

Vir baie lank het swart vroue gepoog om hul hare te laat voldoen aan hierdie sinnelose standaarde deur ure in haarsalonne deur te bring om hulle hare te laat “stryk” en dit reguit te maak, of vlegsels te laat insit, of dit te laat weef. Om vlegsels te laat insit kan tot meer as ses uur duur.

Clicks het apologie aangeteken, so ook Tresemmé. Al die werk wat Clicks jaarliks doen met hul “natuurlike haardag”, is ondermyn deur hierdie advertensie. Die apologie word nie deur swart mense aanvaar nie, wat dit sien as ’n normalisering van houdings oor swart vroue se hare.

Swart vroue word uitgedaag om Clicks te boikot, en die opportunistiese EFF het Maandag Clicks-winkels stormgeloop om hulle te dwing om vir ten minste ’n week lank te sluit sodat “kapitaliste die pyn aan hul sakke kan voel”.

Waarom is dit nodig om produkte te adverteer deur swart en wit mense te vergelyk?

Waarom is dit nodig om produkte te adverteer deur swart en wit mense te vergelyk? Ons interpretasie van hare is nie dieselfde nie. Soos die sosioloog Zimitri Erasmus van Wits oor hare geskryf het: “When my hair was ‘done’ I felt proud and confident. I felt beautiful. I did not feel white. And I did not look white either. You see, black and white people mean different things when they talk about straight hair. For us, the ‘bouncin and behavin’ look in black hair is straight. For us, white people’s hair is stringy” (Agenda, 1997).

Daar is ’n hewige onsensitiwiteit in hierdie advertensie in ’n tyd wat die Black Lives Matter-beweging bewustheid kweek oor hoe swart lewens as minder geskat word, dat swart lewens aan die ontvangkant staan van staatsgeweld, diskriminasie en haatspraak.

’n Mens moet vra of die mense wat die advertensie bedink het bloot oningelig en uit voeling is met wat in die wêreld aangaan, of bloot arrogant is?

Die advertensiewese is een van die kernsektore van inligtingsverspreiding in ’n globale wêreld. Hoe is dit enigsins moontlik dat die huidige klimaat rakende rasseverhoudings nie begryp is nie?

Of het die advertensiemense dalk gedink hulle maak ’n advertensie vir ’n wit gehoor (hoekom anders sou jy dan jou swart klante beledig)?

Indien dit die geval is, dra Tresemmé by om wit meerderwaardigheid in stand te hou.

  • Prof. Gouws is verbonde aan die departement politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Clicks  |  Amanda Gouws  |  Hare  |  Erfenisdag  |  Rassisme  |  Witmense
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.