Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Suid-Afrika sit op riooltydbom

Volgens die program Fokus op SABC2 ervaar Cradock erge probleme met sy rioolaanleg. Rioolvuil word onverwerk in die Groot-Visrivier gestort. Dit vloei in die strate en sommige buurte ervaar erge probleme met verstopte rioolpype. Dit wel ook in van die agterplase op – en al wat die munisipaliteit blykbaar doen, is om kalk daaroor te strooi.

Uit die onderhoud wat die SABC2-span met die munisipale bestuurder gevoer het, blyk dit dat hy geen idee het wat om te doen om hierdie omgewings- en humanitêre krisis op te los nie!

Waarom hy en sy direktoraat verantwoordelik vir die bestuur van die rioolaanleg nie betyds die nodige herstelwerk gedoen het nie, gaan my verstand te bowe. Dit spreek boekdele oor hul professionele ingesteldheid, integriteit, onbaatsugtigheid en medemenslikheid om die welsyn van die inwoners en die omgewing eerste te stel.

Die gebrek aan verantwoordbaarheid, etiek en bevoegdheid raak nie net die inwoners en omgewing van Cradock nadelig nie, maar dit raak ook alle ander gemeenskappe wat van die Groot-Visrivier vir hul waterbehoeftes afhanklik is. Boere, sakeondernemings en groot stede soos Port Elizabeth is almal afhanklik van die rivier vir water.

Die munisipale rioolaanleg het ook blykbaar tot stilstand gekom.

Die munisipale rioolaanleg het ook blykbaar tot stilstand gekom. Uit die insetsel blyk dit daar was nie ’n enkele beampte in sig om dit te herstel en aan die gang te hou nie.

Miljoene mense is dus blootgestel aan allerlei bakterieë en virusse wat in die Groot-Visrivier kan voorkom. Die onverskilligheid van munisipale amptenare en hul blatante minagting van inwoners se belange hou ernstige implikasies in vir almal. Siektes soos cholera, hepatitis, giardiase en disenterie infekteer en veroorsaak ook die dood van derduisende mense wêreldwyd. En hulle sal moet pa staan as sulke uitbrekings voorkom.

Die gemeenskap van Cradock en baie ander dorpe met dieselfde uitdagings hoef wel nie te wag totdat daar ’n uitbreking van cholera is en inwoners een ná die ander sterf nie. Vervolg die munisipale bestuurder, burgemeester en raadslede strafregtelik. Ek is nie ’n regsgeleerde nie, maar meen dat indien pligsversuim en onverskilligheid deur ’n munisipaliteit ’n direkte en indirekte bedreiging inhou vir inwoners se lewe en die omgewing, moet hulle beslis strafregtelik vervolg kan word.

Cradock se storie is nie uniek nie. Vele ander amptenare en munisipaliteite is skuldig aan die storting van onverwerkte rioolvuil in riviere en swak instandhouding en bestuur van rioolaanlegte. Dít ondanks plaaslike regerings se grondwetlike verantwoordelikheid vir die verskaffing van dienste wat verband hou met huishoudelike afvalwater en rioolafval. En die opgradering, uitbreiding en verbetering van dié stelsels.

Maar luidens die Groen Druppel-verslag funksioneer die helfte van Suid-Afrika se 824 rioolaanlegte nie na behore nie. Dringende ingryping is nodig. Slegs 60 (7%) aanlegte het Groen Druppel-sertifisering ontvang. Suid-Afrika sit dus op ’n riooltydbom.

Die regering en Lindiwe Sisulu, minister van water en sanitasie, sal drasties moet optree om die situasie te beredder. Dis haar plig om ons waterhulpbronne te beskerm en seker te maak dit is geskik vir menslike gesondheid en omgewingsvolhoubaarheid. Om dus jaar ná jaar allerlei verskonings in die parlement op te diep en die skuld op onbevoegde amptenare te plaas, is onaanvaarbaar. Hoekom nie die regte mense in die eerste plek aanstel nie?

Suid-Afrika en al sy inwoners gaan nog vorentoe duur betaal vir munisipale amptenare en die regering se onverskilligheid teenoor water en die swak bestuur daarvan. En dit is misdadig!

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.