Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Suid-Afrikaners hunker na nuwe normaal

As ons na die nuusvloei van die laaste paar weke kyk, wonder ek of Suid-Afrikaners deesdae behoorlik kan onderskei tussen wat normaal is, wat abnormaal is en of ons ’n nuwe normaal gaan sien?

Sekerlik kan die getuienis wat ons daagliks by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping hoor, die gebeure by die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) wat by die Mpati-kommissie van ondersoek uitspeel en die sukkelende openbare beskermer (OB) nie normaal wees in ’n land met ’n grondwetlike demokrasie nie.

Theo Vorster Foto:

Net so kan die tragedie dat Eskom in ’n dekade van ’n nutsmaatskappy van wêreldklas gestrompel het tot ’n entiteit wat Suid-Afrika kan laat sink, sekerlik nie as normaal beskou word nie.

Ongelukkig het Suid-Afrikaners veral in oudpres. Jacob Zuma se tweede termyn aan ’n abnormale omgewing ge-woond geraak.

Hoewel Zuma intussen vervang is, is dieselfde bende rowers (soos Eugène Marais destyds na meelopers van Paul Kruger se ZAR-regering verwys het) besig met ’n hewige terugveg­poging juis om die Zuma-jare as die normaal te probeer in stand hou.

Teen dié tyd weet almal sekerlik nou waar die lêplekke is vanwaar die terugvegpoging plaasvind, met die huidige persoon wat die amp van OB beklee en die huidige sekretaris-generaal van die ANC as die beheersentrums vir die abnormale.

Uit ’n finansiëlemarkte-persepsie verdiskonteer die waarde van Suid-Afrikaanse bates steeds die Zuma-jare as normaal en hier het die Amerikaanse reus PepsiCo die hele boel omgeskop.

Die aanstelling van sakelui en niepolitici in kernsakeposte is sekerlik tekens van die nuwe normaal waarna Suid-Afrikaners hunker.

In April 2017 het Pioneer Foods aangekondig dat gesprekke met ’n buitelandse party skipbreuk gely het, juis omdat Suid-Afrika pas afgegradeer is en, volgens die amptelike aankondiging deur Pioneer, die koper verdere afgraderings gevrees het.

Daar word taamlik wyd bespiegel dat die party wat in April 2017 koue Zuma- politieke voete gekry het, die einste PepsiCo is wat nou ikoniese en eg Suid­Afrikaanse handelsmerke, soos Marmite, ProNutro en Bokomo, vir net meer as R24 miljard opraap.

Die vraag is: Is die slim internasionale geld besig om deur die daaglikse geraas na ’n nuwe normaal te kyk en gebruik hulle juis hierdie daaglikse geraas om uitstekende ondernemings teen abnormale Zuma-era-pryse te koop?

Aan die ander kant begin die gevolge van Eskom se berg skuld huis toe kom.

Vandeesweek se aankondiging dat die tesourie op kort­ termyn verligting aan Eskom gaan bied, is volgens Moody’s negatief vir die kredietgradering van die land as geheel.

Moody’s volg dit op met die opmerking dat die gebrek aan ’n strategie om Eskom terug in ’n gesonde finansiële posisie te kry die probleem net gaan vergroot. In die pres. Cyril Ramaphosa- normaal moet die Eskom-probleem daadwerklike ingryping vereis!

Uitstekende nuus vir ’n nuwe normaal was die aanstelling Donderdag van dr. Reuel Khoza, ’n wyd gerespekteerde sake­man, as voorsitter van die OBK.

Die eerste keer in twee dekades is die voorsitter van die grootste fondsbestuursmaatskappy op die Afrika-vasteland nie ’n ANC-kaderontplooide politikus nie.

Die aanstelling van sakelui en niepolitici in kernsakeposte is sekerlik tekens van die nuwe normaal waarna Suid-Afrikaners hunker.

  • Vorster is uitvoerende hoof van Galileo Capital.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.