Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Suid-Afrikaners se insig gee hoop
Barnard Beukman

Twee meningspeilings wat die afgelope week verskyn het, bied hoop wat geput kan word uit die insig wat gewone Suid-Afrikaners wys oor belangrike kwessies.

In die eerste een is bevind dat die land se inwoners baie meer bekommerd is oor werkloosheid, swak dienslewering, ’n gebrek aan huisvesting, misdaad en swak onderwys as oor die voorkoms van rassisme.

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) het in sy peiling bevind dat net 3% van Suid-Afrikaners bekommerd is dat rassisme ’n ernstige probleem is.

Minder as 3% meen ook regstellende aksie en swart bemagtiging sal hul ­lewe verbeter en net 1% glo grondhervorming gaan hul lot verbeter.

Maar moenie glo dit gaan die drywers van al die faktore afsonderlik en gesamentlike afsit om dit steeds vir politieke gewin te probeer aanvuur nie.

Want die rede waarom hulle dié hoogs vlambare bestanddele in ’n pot gooi en roer, hou regstreeks verband met wat verder in die peiling bevind is. Die mense soek resultate oor werkloosheid (40%), dienslewering (34%), onderwys en misdaad (albei 15%).

Dit alles is natuurlik net moontlik omdat daar – soos in enige samelewing ter wêreld – hardnekkige rassiste oor alle kleurgrense heen is.

Dit is oor dié kwessies wat ANC-politici ontbloot staan as groot mislukkings. En die populistiese EFF kon ook nog nie soveel kiesers as wat hulle verwag het, oortuig dat hulle oplossings daarvoor gaan bring nie.

So, nou probeer albei die kampe kwessies soos grond en rassisme gebruik om emosies op te sweep. En die SAIRV waarsku juis dat dié taktiek veld wen. Want verlede jaar het 62% van Suid-Afrikaners rassisme en kolonialisme gesien as verskonings wat politici gebruik om hul eie mislukkings te verdoesel. Vanjaar is dit net 50%.

So, hoewel rasseverhoudinge nog sterk is, “is dit besig om uit te rafel”, aldus die SAIRV.

In ’n diverse land soos Suid-Afrika bly dit onverantwoordelik om kwessies soos rassisme opswepend as politieke speelbal te gebruik. Net so gevaarlik is die nuwe orde van rassisme-McCarthyiste wat nou kop uitsteek. Hulle probeer rassiste agter elke moontlike bos uitwys om hul eie bestaansdefinisie as “vromer regverdiges” in die kollig te kry. Ook in die Afrikaanse gemeenskap. Dit alles is natuurlik net moontlik omdat daar – soos in enige samelewing ter wêreld – hardnekkige rassiste oor alle kleurgrense heen is wat steeds medemense beledig met hul uitlatings. Vir hulle moet daar toenemend geen beweegruimte meer in ons samelewing wees nie. En soos Beeld verlede jaar standpunt ingeneem het, kan geen “ja, maar hulle . . .”-teenargument eens geduld word nie.

Die peiling se uitslag bied egter steeds hoop dat die meeste mense deur al die opportunisme sien, van sowel die rassiste as die slim opswepers en uitbuiters daarvan.

Die tweede peiling wat hoop bied, is deur Ipsos vir die TV-kanaal eNCA gedoen.

Daarin word bevind dat pres. Jacob Zuma se gewildheid steeds daal en nou op 4 uit 10 staan teenoor 5,7 aan die begin van sy tweede termyn.

Hopelik dui dit daarop dat hy finaal gesien word as die volslae mislukking wat hy is en groei die besef van hoe omvangryk hy sy kiesers versaak het.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa en Pravin Gordhan, minister van finansies, staan albei sterker as hy onder Suid-Afrikaners met 5,2 uit 10. Nkosa­zana Dlamini-Zuma is hulle ’n kortkop voor met 5,3. So, as sy dan werklik die voorloper is in die ANC se leierstryd soos baie waarnemers aandui, kan Ramaphosa tog moed put uit die jongste syfers. Die deelnemers aan die peiling gaan nie die ANC-leier kies nie, maar kan die klimaat help bepaal.

Meer oor:  Barnard Beukman  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.