Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Suid-Afrikaners se lewe maak saak, asseblief

Ek is bevrees Siya Kolisi, die Springbok-kaptein, die Protea-snelbouler Lungi Ngidi en die meeste swart én wit Suid-Afrikaners sit die pot mis oor die Black Lives Matter (BLM)-beweging.

BLM is ’n geregverdigde opstand in Amerika teen die getal swart mense wat deur wit polisielede doodgeskiet word. Die dood van George Floyd was net die laaste knie op ’n groep mense se keel wat die woede laat losbars het.

Die opstand het intussen ook in ’n swart en wit beweging teen Donald Trump en sy regse leerstellinge geword. Hy is kniediep in die moeilikheid in die Amerikaanse presidentsverkiesing daaroor en oor sy vrotsige hantering van die koronapandemie in Amerika.

Maar hoe die BLM-beweging in Suid-Afrika almal só verdeel het, terwyl ons die grootste krisis tot nog toe in die gesig staar en duisende mense gaan sterf weens die virus, gaan ’n mens se verstand te bowe. Die ANC-regering is al wat daarby baat vind, want nou is almal se aandag weg van die krisis en is wit en swart weer teen mekaar opgestel.

Swart mense sterf elke dag weens ’n swart regering se korrupsie en plundering en onbeholpenheid, al speel apartheid steeds ’n reuse-rol. Swart-op- swart-geweld is ’n pandemie, maar só ook gesinsgeweld en gesinsmoord in wit Afrikaanse huishoudings. Dis in ons bloed. Die moord op en mishandeling van vroue in die land is ’n nagmerrie, maar ons wil baklei oor ’n Amerikaanse beweging.

Die ANC-regering is al wat daarby baat vind, want nou is almal se aandag weg van die krisis en is wit en swart weer teen mekaar opgestel.

Kolisi behoort as die land se mees geliefde rolmodel ná Nelson Mandela van beter te weet as om ’n goedkoop hou na Afrikaans in te kry.

Afrikaners in die Springbokspan was van die sterre in die verowering van die Webb Ellis-trofee, insluitende die afrigter, Rassie Erasmus, met sy Despatch-Engels. Die Bokke se leuse was “Saam is ons een” en Afrikaners, Sotho’s, Xhosas en almal in die land het soos een man hulle ondersteun.

Ons het nie nóg verdeling nodig nie. Ons het ’n leier soos Kolisi nodig wat sê black lives matter, maar alle Suid-Afrikaners se lewe maak nou saak. Hy kon swart, bruin en wit verpleegsters wat hul lewe waag om ons lewe te red se hande in die lug gehou en gesê het: “Suid-Afrikaners se lewe maak saak, dankie. Julle is kampioene.”

Pres. Cyril Ramaphosa kan in sy openbare rede sê black lives matter, ja, maar my hart is by elke Suid-Afrikaner vandag wat veg om oorlewing te midde van die ergste pandemie wat die wêreld tot nog toe getref het. Agri SA en TLU SA kan op die televisie sê boere se lewe maak saak, maar óók ons plaaswerkers s’n. Met elke boer en werker wat sterf, sterf die land ’n bietjie.

Kruip honger en anargie nader.

Suid-Afrikaners se lewe maak saak. Jou buurman se lewe is kosbaar, wit of swart. Dra jou liefde vir die land uit deur hoe jy ander mense behandel. Die land het ons almal nodig.

Suid-Afrika maak saak vir ons almal.

Meer oor:  Charles Smith  |  Anc  |  Rassisme  |  Amerikaanse Politiek  |  Apartheid  |  Blm  |  Lewe  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.