Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Suid-Afrikaners verdien beter (partye) as dít

Suid-Afrikaners verdien politieke partye wat die land en ál sy inwoners áltyd eerste stel.

Nie partye wat deur selfsugtige leiers van binne gekaap word en wat alles moontlik doen om hulself, hul familie en lojale trawante ten koste van die oorgrote meerderheid landsburgers te verryk nie.

Llewellyn Prince

In aanloop tot die verkiesingseisoen wat op hande is, is dit ’n gegewe dat nuwe politieke partye soos die spreekwoordelike paddastoele sal verrys soos wat die ambisieuse individue wat die partye stig ook poog om deel van die hoogs winsgewende politieke soustrein te word.

Die jongste party wat die lewenslig aanskou het, is die Good-party van Patricia de Lille, die voormalige Kaapstadse burgemeester, wat Sondag amptelik gedoop is.

In die voorafgaande paar maande het ook verskeie ander nuwe politieke partye landwyd onder die radar hul toetrede tot die verkiesingswedloop gemaak.

Hoewel dit almal se grondwetlike reg is om ’n party te stig, is dit egter ook elke kieser en landsburger se grondwetlike reg dat hul belange deur die politieke party wat hulle ingestem het, bevorder word.

Dié ideaal was duidelik nie ’n topprioriteit vir die ANC onder oudpres. Jacob Zuma nie.

In die huidige bedeling het partye se leiers gans te veel magte.

Dit is bevestig toe adv. Ngoako Ramatlhodi, ’n oudminister en een van die langsdienende lede van die regerende party se nasionale uitvoerende komitee (NUK), verlede week bom ná bom oor die ANC se interne probleme in veral Zuma se tweede termyn voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping laat val het.

Ramatlhodi het onder meer getuig hoe Zuma as ANC-president met sy dominerende faksie die ANC se NUK feitlik verlam het, die party se meerderheidsbesluite verwerp het, en sy eensydige besluite op die party afgedwing het.

Volgens Ramatlhodi het hierdie roekeloosheid van Zuma die deur oopgelaat vir die “giftige” Guptas om hulself soos ’n luislang om Zuma te wurm en sodoende beheer oor Zuma, die ANC en die land te neem omdat Zuma “sy uitvoerende magte (aan hulle) opgeveil het”.

Kiesers, van wie die meerderheid die ANC in die vorige paar verkiesings in die regering ingestem het, kon daarna net hulpeloos toekyk hoe die ANC – wat belangrike beleidsbesluite vir Suid-Afrika moet neem – en die land verlam is, terwyl Zuma, die Guptas en hul netwerk van patronaatskap die staatskas straffeloos plunder.

Ramatlhodi het erken dat partyleiers onder die huidige bedeling in die land se jong demokrasie gans te veel magte het.

Hy het dit duidelik gestel dat dit hoog tyd is dat politieke partye hulle van binne hernu en meganismes ingestel word om te voorkom dat toekomstige partyleiers wat deur gulsigheid en hebsug gedryf word, hul partye van binne kaap.

Sulke meganismes is noodsaaklik om te verseker dat partye, wanneer hulle verkiesings wen, te alle tye in belang van die land se burgers optree en nie net in belang van vernietigende trogvreters nie.

As dit nie gedoen word nie, is dit ’n gegewe dat ’n regerende party en die land iewers in die toekoms weer deur ’n partyleier aan die hoogste bieër verkoop sal word.

  • Prince is Netwerk24 se parlemen­têre verslaggewer.
Meer oor:  Politieke Partye  |  Inwoners  |  Suid-Afrikaners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.