Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sukses en selfrespek
selfrespek
selfrespek

As pres. Cyril Ramaphosa lesse uit die geskiedenis leer, kan hy slaag waar oudpres. Thabo Mbeki en sy voorgangers duidelik misluk het. Dan moet hy presteer en die Eskom- en ander probleme suksesvol oplos, skryf Pieter Mulder. 

In meeste parlementêre toesprake ná 1994 moes ons hoor dat die grootste skade wat apartheid aangerig het, die feit was dat dit mense se waardigheid aangetas en hulle minderwaardig laat voel het.

As Afrikaner het ek begrip daarvoor en glo ons kan help. Brittanje het vanaf 1806 vir meer as 150 jaar uit sy pad gegaan om Afrikaners minderwaardig te laat voel en so hul menswaardigheid aangetas.

Britse kolonialisme was skaamteloos gebaseer op “Anglo-Saxon racial superiority”. Britse leiersfigure in Suid-Afrika soos Cecil John Rhodes en Alfred Milner het sonder om te huiwer hulle meerderwaardigheid oor al die ander inwoners van Suid-Afrika uitgestippel.

Vir hulle was “home” nie Suid-Afrika nie, maar ’n geromantiseerde Engeland bewoon deur, soos Rhodes dit beskryf het, “die beste, die menslikste en die eervolste ras wat in die wêreld woon”.

“To be born an Englishman is to win first prize in God’s lottery,” het Rhodes blatant gespog.

“I am an Imperialist … because I am a British Race Patriot,” het Milner homself beskryf.

Base en klase

Hoe het hulle die Afrikaners minderwaardig teenoor die Engelse laat voel?

In die 1930’s het meer as die helfte van alle Afrikaners nie st. 6 (graad 8) gehad nie. Slegs 3% is na universiteite.

In 1948, toe Afrikaners die bewind oorneem, was Afrikaners ekonomies ver agter die Engelssprekendes. Hoewel Afrikaners byna 60% van die wit bevolking uitgemaak het, het hulle net 29% van die totale persoonlike inkomste verdien.

Waar die Engelse verstedelik was, het ’n derde van Afrikaners hul inkomste op plase verdien. In die stedelike gebiede het slegs 27% Afrikaners witboordjiewerk gehad. Die res was werkersklas in ambagte of het handearbeid verrig.

Die Engelssprekendes was die base wat die ekonomie beheer het. In 1937 was daar slegs 20 Afrikaner-ondernemings in Johannesburg.

Prestasie al antwoord

Hoe herwin jy jou menswaardigheid en skud die gevoel van minderwaardigheid af uit so ’n slegte situasie?

Om ’n slagoffer van jou omstandighede te speel en vir hulp te wag, soos die ANC tans maak, sou nie help nie. Jy presteer jouself uit hierdie situasie uit en herwin so outomaties jou menswaardigheid.

Na die Ekonomiese Volkskongres van 1939 was daar ’n skerp toename in Afrikaner-sakeondernemings en ondernemingsgees. Volkskas, wat in 1937 as “Afrikanerbank” begin is, en Santam en Sanlam wat vanaf 1917 kom, het vinniger begin groei. Afrikanertrots het begin terugkom.

As ’n belangrike verdere stap het Afrikaners na die 1948 bewindsaanvaarding aangedring op moedertaalonderwys.

Met die oog op Afrikaanse onderwys is meer as 450 vakwoordeboeke en terminologielyste in Afrikaans ontwikkel vir byvoorbeeld die mediese, rekenaar- ruimte- en vele ander velde. Net vyf tale het in die twintigste eeu ontwikkel tot op die hoogste taalvlak: Hebreeus, Katalaans, Indonesies, Hindi en Afrikaans.

Die aantal Afrikaanse skole het grootliks toegeneem. Waar in die middel vyftigerjare slegs 16% van die Afrikaners verder as st. 8 (graad 10) geleer het, was hierdie syfer tien jaar later 38%. Die Engelssprekendes se syfer was 43%.

Afrikaners het die Randse Afrikaanse Universiteit, vier kilometer vanaf die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), gebou. So het Afrikaners simbolies die stad oorwin en alle tekens van minderwaardigheid begin afskud.

Anders as die ANC het Afrikaners na 1948 nie die regeringsmag gebruik om Wits van ’n Engelssprekende universiteit na ’n Afrikaanse een te “transformeer” nie. Dit is wat die ANC sedert 1994 doen.

Ná die Afrikaner-bewindsoorname in 1948 het Arthur Keppel-Jones, ’n geskiedenisdosent aan Wits, massiewe Engelse emigrasie, grootskaalse swart opstande en die ineenstorting van alles voorspel.

In die staatsdiens, wat dienste moes lewer, was by die Afrikaner-bewindsoorname in 1948 in die meeste departemente byna 80% van die senior staatsamptenare Engelssprekend. Dit terwyl Engelssprekendes slegs ongeveer 40% van die wit bevolking uitgemaak het. Hulle was dus heeltemal oorverteenwoordig in die staatsdiens.

Daar was geen massiewe “suiwering” van Engelssprekende staatsamptenare ná 1948 soos dikwels beweer word nie. (Vgl. Giliomee Hermann, Die Afrikaners, p. 444). Engelssprekendes het nog ’n dekade lank oorverteenwoordig gebly in die hoër range van die staatsdiens. Met ’n geleidelike oorname is verseker dat kundigheid en ervaring nie verlore gaan nie en dat daar nie ’n grootskaalse in duie stort van alle dienste was nie. Hiermee is Arthur Keppel-Jones verkeerd bewys. Eers in 1960 het die amptenare in hierdie hoër range die wit bevolkingsamestelling weerspieël.

Transformasie-ideologie

By ’n parlementêre skemerkelkfunksie kort ná 1994 kla Thabo Mbeki, as nuwe adjunkpresident, oor sekere regeringsprobleme wat hulle ondervind.

Ek reageer deur te sê dat hulle nie van hul senior staatsamptenare moet ontslae raak nie. Daardie senior staatsamptenare se kennis en ervaring kan nie gekoop of oorgedra word nie. Hulle bepaal grootliks of ’n minister of president suksesvol is.

Mbeki reageer deur te sê dat die meeste amptenare Afrikaners is – dus nie ANC-ondersteuners nie wat hulle sal saboteer.

Ek verskil van hom en verduidelik waarom.

“Hulle is staatsamptenare. Hulle is geleer om die regering van die dag te dien – of dit nou ’n NP- of ANC-regering is. Daardie staatsamptenare gaan eerder vir my as opposisielid kwaad maak omdat hulle ANC opdragte so stiptelik gaan uitvoer uit vrees om hulle werk te verloor,” reageer ek.

Mbeki verstaan nie wat ek probeer oordra nie. Hy gee opdrag dat elke staatsdepartement en alle staatsondernemings soos Eskom jaarliks aan die parlementêre portefeuljekomitees moet kom verslag doen oor hoe hulle met transformasie vorder. By die komitees word hulle jaarliks berispe en teruggestuur om hul personeel se rassesamestelling vinniger te verbeter. Volgens hierdie Mbeki-transformasie-ideologie was rasseverteenwoordiging baie belangriker as doeltreffendheid.

Kaderontplooiing

In die Zuma-tydperk verskuif dit verder van rasseverteenwoordiging na kaderontplooing. Dit beteken dat slegs ANC-lojaliste nou aangestel is ongeag hulle kennis of ervaring. Swart mense wat nie ANC was nie, se werk het ook in die slag gebly. Die logiese gevolg was dat al hierdie instellings tot op ’n punt van ondoeltreffendheid getransformeer is. Ons sien dit in die getuienis voor die Zondo-kommissie en in die krisisse by Eskom en ander staatsinstellings.

Sabotasie van die staat

Mbeki was bang vir Afrikaner-sabotasie. Sy transformasieproses het die staatsdiens en staatsinstellings ernstig gesaboteer. Miskien onbedoeld, maar kortsigtig. Ek wonder of Mbeki dit vandag so insien?

Onder druk het 10 200 wittes Eskom vanaf 1994 tot 2002 verlaat. Vanaf 2008 tot 2011 het nog 455 ingenieurs, waarvan 110 wit, by Eskom bedank. As gevolg van kader-ontplooiing sien nie wit of swart ingenieurs kans om in so ’n atmosfeer te werk nie. Dit terwyl Eskom se personeelkorps oorweldigend toegeneem het.

Geen organisasie kan so ’n verlies aan institusionele geheue en vaardighede bekostig nie. Dit is nie ’n politieke of rasse-argument nie, maar ’n eenvoudige bestuursbeginsel wat in Japan en Nigerië ook geld.

Net met jou toestemming

Eleanor Rooseveldt is reg dat niemand jou minderwaardig kan laat voel sonder jou toestemming nie. Sukses en prestasie is egter net so belangrik. Afrikaners het met harde werk en prestasie hul waardigheid herwin en die gevoel van minderwaardigheid oorkom.

Prof. Johann Rossouw van die Vrystaatse Universiteit het gesê Afrika se grootste stryd is ’n stryd om sy selfrespek te herwin. Ek stem daarmee saam. Sukses en prestasie help hiermee. Ongelukkig lei mislukking daartoe dat die gevoel van minderwaardigheid versterk en nie afgeskud word nie. As pres. Cyril Ramaphosa lesse uit die Afrikanergeskiedenis leer, mag hy slaag waar Mbeki en sy voorgangers duidelik misluk het. Dan moet hy presteer en die Eskom- en ander probleme suksesvol oplos.

Dr. Mulder is die voormalige leier van die Vryheidsfront Plus.

Meer oor:  Pieter Mulder  |  Cyril Ramaphosa  |  Sukses  |  Kolonialisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.