Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Súlke maatreëls is baie skadelik
Christo van der Rheede Foto’s VERSKAF

Suid-Afrika, soos die res van die wêreld, is nie op ’n goeie plek nie.

Terselfdertyd is ons ook nie op ’n te slegte plek nie. Die boere sorg dat daar bekostigbare en veilige voedsel op ons winkelrakke is. Ons medici en gesondheidswerkers probeer hul bes om die siekes te versorg. Tegelyk het die regering doeltreffende stappe gedoen om die verspreiding van die Covid-19-pandemie te stop.

Ons ervaar die laaste tyd dat regulasies toenemend drakonies van aard word. Met die instelling van die inperkingsmaatreëls en ook vooraf, is daar wyd met belangegroepe soos die sakesektor gekonsulteer.

Georganiseerde landbou dien ook in die taakspan van die landbouministerie en deur middel van dié se insette is voedsel en die dienste wat daarmee verband hou, as noodsaaklik verklaar. Georganiseerde landbou soos Agri SA, die TLU en Agbiz speel ook deurgaans ’n sleutelrol om regulasies aangepas te kry en om ander selfs opgehef te kry.

Die eensydige herroeping en instelling van regulasies wat die ekonomie groot skade aandoen en die onwilligheid om na rasionele advies te luister begin egter die laaste dae kop uitsteek. Om nie eens te praat van die hardhandige optrede teen burgerlikes deur sommige polisie- en weermaglede nie.

Daar is reeds voorvalle van sterftes weens sodanige beweerde hardhandige optrede. Dit word tans ondersoek.

Daar is reeds voorvalle van sterftes weens sodanige beweerde hardhandige optrede. Dit word tans ondersoek.

Verlede week is die verkope van gekookte warm kos verbode verklaar. So ook is die vervoer van wyn vir die uitvoermark eensydig opgehef.

Toerisme-besighede wat baie hard deur die inperkings getref word, word aan allerlei diskriminerende kriteria onderwerp as hulle om hulp aansoek doen. ’n Ramptoestand is verklaar en álle burgers wat swaar getref word, moet uit ramphulp voordeel trek.

Die lys van ondeurdagte en irrasionele regulasies en kriteria raak al hoe langer soos wat sommige ministers toenemend hul politieke spiere bult en drakonies begin optree. Maar soos die drakoniese wetgewing van ene Draco, ’n aristokraat wat in die 7de eeu v.C. in Athene die taak gekry het om nuwe wetgewing saam te stel om arbitrêre regsuitsprake in die kiem te smoor en aan almal gelykheid voor die reg in Griekeland te verleen, het dit net die teenoorgestelde uitwerking.

Draco se omvattende stel wette was van toepassing op elke burger, ongeag agtergrond en sosiale stand. Ongelukkig was die strawwe baie wreed. Die straf vir diefstal van ’n appel of kool was die dood. ’n Skuldeiser het die reg gehad om iemand wat hom geld skuld, sy persoonlike slaaf te maak. Dit het groot ongelukkigheid veroorsaak.

Alhoewel fundamenteel billik, het dit beslis nie geslaag in die aanvanklike doel om ’n regverdige en oop stelsel daar te stel nie. Die strawwe was irrasioneel, diskriminerend en baie wreed. Ironies genoeg word Draco erken as die eerste mens wat in Athene die weg gebaan het vir gelykheid voor die wet en demokrasie. Klink dit nie bekend nie?

Dat die inperkingsmaatreëls noodsaaklik is om die verdere verspreiding van die pandemie te keer, is gewis. Suid-Afrika kan egter nie bekostig om op ’n glybaan te beland van politieke vergrype deur ministers wat hul hand met drakoniese maatreëls oorspeel nie.

Ministers moet eerder saam met belangegroepe om die tafel sit en met oplossings na die tafel kom. Soos die slim toepassing van regulasies, die inwerkingstelling van ’n nasionale ekonomiese herstelprogram en die uitrol van ’n nasionale voedselhulpskema.

  • Burgerlikes en besighede is nie die vyand nie, maar die pandemie en die maatskaplike en ekonomiese gevolge daarvan wel!
Meer oor:  Christo Van Der Rheede  |  Inperking  |  Geweld  |  Ekonomie  |  Koronavirus  |  Toerisme  |  Regulasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.