Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Sulke mense’ gaan nooit werklik dood
Prof. Hennie van Coller

‘Sulke mense”, sê my vriend T., is daardie spesiale spesie wat jy moeilik kan klassifiseer.

Toe ek ’n regstudent was by Wits, het ek ook Afrikaans en Nederlands as hoofvak geneem. Destyds is die “en Nederlands” nog ernstig opgeneem en ’n groot deel van ons kursus het uit Nederlandse letterkunde bestaan.

Middelnederlands, veral, was nie ’n vulletjie nie en Le Roux en Le Roux se Middelnederlandse grammatika het baie van ons nagmerries besorg. Dié geel boekie het my lus vir die mooi storie van die nonnetjie wie se geloof swakker was as seksuele begeerte na ’n man, ernstig bederf.

In my honneursjaar stap daar ’n nuwe dosent ons Middelnederlandse klas binne. Stywe jeans en modieuse hemp met die lyf van ’n skrumskakel. Aantreklik – lei ek af, want die vrouestudente skuif onrustig rond – met lang hare, ’n soel vel en skerp gelaatstrekke.

Prof. Ernst van Heerden, departementshoof, stel die nuwe dosent aan ons voor: Dr. A.J. (Ampie) Coetzee. Pas terug van die Rijks-universiteit van Gent in België waar hy gestudeer het in die Middelneder­landse letterkunde en enkele jare dosent was aan die Universiteit van Natal in Durban.

My studietydperk by Wits het bestaan uit talle kultuurskokke: Betogende studente, loslyf-meisies, staatsfilosofie én die dosente in Afrikaans en Nederlands. Dat jy vrae mag stel in lesings, het my ná my eerste jaar by Stellenbosch al verbaas. Maar dat dosente mense was wat ook grappies kon maak en selfs studente se name ken, het my verbyster.

Ampie het skielik die horingdroë Middel­neder­lands van vlerke voorsien.

Ons akademiese assistente het die jonger dosente – op hul aandrang – op hul voorname aangespreek. Maar dit het nooit beteken dat respek verlore gegaan het nie. John Miles, August Cluver en Ampie Coetzee was daarvoor gewoon net te knap.

Ampie het skielik die horingdroë Middel­neder­lands van vlerke voorsien. Sy lesings was waarskynlik ook die rede waarom ek vir jare – dalk onsuksesvol – studente probeer oortuig het van die waarde en skoonheid van dié tekste.

Ná N.P. van Wyk Louw dood is in die middel van my honneursjaar, het Ampie ook die literêre teorie oorgeneem en met dieselfde erns en toewyding onderrig. Hy was my referent vir my eerste doseerpos by sy ou universiteit in Durban. Daarna het ek hom sporadies gesien.

Veel later het ek hom genooi vir ’n seminaar oor die werk van André P. Brink en hy het André se siel uitgetrek oor dié se tipiese vrouekarakters: Parmantig, slim, gewillig en ge-train. Kritiek en dodelike erns is altyd in bedwang gehou deur ’n ontwapenende laggie en humor; nonchalantheid en informaliteit het net so dikwels mense laat vergeet van sy indringende literêre studies.

Stephen le Roux, John Miles, Ampie Coetzee en Breyten Breytenbach is almal “sulke mense”. Nooit gaan hulle werklik dood nie, want jy hoor dikwels hul lag en hul woorde bly klink in jou kop.

Meer oor:  Hennie Van Coller  |  Ampie Coetzee  |  Afsterwe  |  Afrikaans  |  Huldeblyk  |  Letterkunde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.