Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sunday Times lei tot nadenke

Vanuit ’n joernalistieke blik is geen behae te put uit Sunday Times se erkenning dat sy beriggewing oor die sogenaamde polisiemoordbendes in KwaZulu-Natal, ’n skurkbende (rogue unit) in die SA Inkomstediens en die onwettige deportasie van Zimbabwiërs foutief was nie. Hy gee nou die pryse terug wat hy daarvoor verower het.

Gert Coetzee

Bongani Siqoko, huidige redakteur, se apologie aan lesers (eintlik aan Suid-Afrika) en hernude verbintenis tot joernalistieke wigte en teenwigte – vir feitelik korrekte beriggewing – is deel van skadebeheer ná die tyd, maar tog welkom. Nie een van die betrokke joernaliste is meer by Sunday Times nie, wat onhoudbaar sou wees.

Ook die skade van die beriggewing vir individue is onberekenbaar. Darem het die Suid-Afrikaanse media hom in die ragfyn fase van demokratiese metamor-fose andersins onderskei.

Die defektiewe joernalistiek toon oor-eenkomste met twee berugte gevalle van gefabriseerde beriggewing in die wêreldnuusmedia op die kruin van die golf – The Washington Post (ná sy Watergate-roem) se Janet Cooke, wat haar Pulitzer-prys vir die versinde “Jimmy’s World” oor ’n agtjarige ghetto-dwelmslaaf moes teruggee, en New York Times (ná 9/11) se Jayson Blair, wat plagiaat gepleeg het.

Sunday Times se joernaliste het hulle op sleeptou laat neem deur “sinistere magte” (luidens Siqoko) wat die feite oor staatskaping toegesmeer wou hê. Dit her-inner aan Suid-Afrika se Inligtingskan-daal (met die regering toe wat sy eie me-dia met geheime geld verkry het om die “waarheid” oor apartheid te verkondig) en aan die ANC-regering onder Jacob Zuma wat die Guptas se The New Age vir sy propaganda gekoöpteer het.

’n Joernalis van Cape Times het later erken hy het in die vroeë 2000’s geld van die Wes-Kaapse ANC-regering onder Ebrahim Rasool vir gunstige berigge-wing gekry. By Sunday Times het staatskapers die senior verslagspan gevoer met hul “binne-inligting” wat met huidjie en muitjie gesluk is.

Wat het skeefgeloop “in die proses van inligtingsinsameling en verslagdoening” (Siqoko) en wat is te leer?

In 1998 se rigtinggewende Bogoshi-uitspraak oor laster in die media het regter Joos Hefer juis gesê feitefoute deur die media is onvermydelik in die nakoming van hul plig “to ferret out corruption, dishonesty and graft” (komende uit ’n vroeëre uitspraak).

Die punt van die Hefer-uitspraak was die media moet vir nalatigheid pa staan – al dra die klaer die bewyslas van laster.

Joernalistieke sedeprekies sluit in:

  • Aanname is ’n joernalistieke euwel want dit laat jou glo wat jy wil glo, al is dit te goed om waar te wees.
  • Elke bron het ’n agenda. Wat hulle laat sleg lyk, wil hulle uit die media hou en wat hulle laat goed lyk (of hul byltjie namens hulle slyp), wil hulle in hê. Sonder fluitjieblasers kan waghond-joernaliste nie katneste oopvlek nie, maar veral anonieme bronne moet honderddubbeld getoets word.
  • Blywende gehaltejoernalistiek kan nie vir ego-strelende eendag-scoops verpand word nie.
  • Daar is risiko, maar beperk skade. Gee deeglike kans vir reaksie en berig gebalanseerd. Wat berig is, kan nie onklaar gemaak word nie. As nie berig is nie, kan later reg berig word.

Maar in waghondjoernalistiek se balanseertoer help basiese beginsels net sover. As die ongemaklike kwaliteit van sobere selfondersoek nie in die fyn net van joernalistieke integriteit en instink ingeweef is nie, is dit vergeefs.

Waarheidsgedrewe joernalistiek, Guptaleaks-beriggewing inkluis, het staatskaping onthul. En die werk van die Zondo- en die Nugent-kommissie en andere ingelui.

Sterkte aan Sunday Times, wat ’n joernalistieke ankerrol te speel het.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Rogue Unit  |  Sunday Times
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.