Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Super-Cyril is nodig vir virus, nie ANC-Cyril
Charles Smith

Baie Suid-Afrikaners het enorme respek vir pres. Cyril Ramaphosa. Hoe hy met Ace Magashule afgereken het, was meesterlik. Hy het die land van die afgrond af teruggepluk. Die ekonomie steier orent, en om die deur self oop te skop vir private kragopwekking was die regte ding om te doen.

Dit was goed om ’n president wat soos ’n staatsman lyk en optree langs pres. Joe Biden van Amerika te sien om die bande met die Weste te herstel ná die Zuma-era se uitverkoop aan Rusland en China.

Superman-Cyril het ingevlieg gekom toe ons hom die nodigste gehad het en ons uit die kloue van die Guptas, staatskapers en die kommuniste gered. Dink net aan waar ons sou wees as hy die verkiesing as die ANC-president teen dr. Nkosa­zana Dlamini-Zuma verloor het. Ace sou nou in beheer van die land gewees het.

Die manier hoe hy Ace in ’n ystergreep op ’n ongemaklike plek beetgekry en bly draai het terwyl hy glimlaggend met sy werk voortgegaan het, is ’n storie vir ’n boek werd. Die aartskommunis Gwede Mantashe, wat rustig geslaap het toe Zuma die land vir ’n handvol roepees verkwansel het, wou nog teëstribbel toe Cyril private kragopwekking na 100 MW verhoog. Dit bring lig in ’n donker toekoms. Miljarde dollars se beleggings gaan volg en duisende mense gaan werk kry. Son- en windkrag sal goedkoper word en help om aardverwarming te keer.

Maar, wonder baie mense, as Cyril Ramaphosa só goed is as leier om dié krisisse te bestuur, hoekom die bal laat val met onteiening en die bestuur van die Covid-19-pandemie?

Maar, wonder baie mense, as Cyril Ramaphosa só goed is as leier om dié krisisse te bestuur, hoekom die bal laat val met onteiening en die bestuur van die Covid-19-pandemie? Hy het sterk weggespring, maar nou kom die wiele af. Die regering se hantering van die Covid-krisis laat veel te wense oor. Ons is diep in die moeilikheid. Mense wat gered kon word, sterf oral om ons. Die aankondiging dat ons terugskuif na vlak 3 is te min te laat.

Ons groot probleem is dat ons inentings te stadig is. Ons het nie betyds entstof bestel nie en die koers is hopeloos te laag om gou kudde-immuniteit te kry. Die vreemdste besluit is om inentings tot mense bó 60 te beperk, terwyl daar te min mense by die inentingspunte opdaag. Baie mense bó 50, of boere, werkers, onderwysers en kinders kon al ingeënt gewees het.

Die regering moet ook sê hoekom die tydelike hospitale voortydig afgebreek is. Daar moes voorsien gewees het dat mense in ’n derde vlaag beddens, ventilators en suurstof nodig gaan hê. Siekes lê al met suurstof in hul motors voor hospitale, sê dokters vir ons.

Pres. Cyril Ramaphosa moet besef dat die regering nie die pandemie alleen kan hanteer nie. Soos met Eskom en kraglewering moet die stryd ander lande en maatskappye betrek. Ons land het Superman-Cyril vir die pandemie nodig, nie ANC-Cyril nie. Die ANC is self ’n dodelik virus.

Ons land is aan ’n ventilator gekoppel. Ons het die regte besluite nodig, soos met Eskom. Die suurstofvlakke word gevaarlik min.

Meer oor:  Charles Smith  |  Cyril Ramaphosa  |  Armoede  |  Politiek  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.