Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
SuperSport en SAUK se selfsugtige skrum

Die moontlikheid dat ’n groot deel van die bevolking nie die Springbokke in aksie gaan sien in die Wêreldbeker-rugbytoernooi nie, is ondenkbaar. En onaanvaarbaar.

Daardeur stel albei uitsaaihuise hul eie selfsugtige belange bo ’n broodnodige bydrae tot nasionale belang. Dit veral noudat ons enigiets kort wat eenheid, ’n gevoel van sukses en selfs versoening kan meehelp.

Barnard Beukman

Dit is te verstane dat SuperSport, wat waarskynlik meer as ’n groot bedrag geld moes uitgrawe vir die uitsaairegte, jaloers daaroor sal waak. Ook omdat SuperSport se kanale een van die min oorblywende unieke verkoopsaanbiedinge vir die pre­mium-DStv-pakkette is. En waarskynlik heelwat kykers in moeilike ekonomiese tye motiveer om hul inskrywings te hou.

In sy verklaring oor die saak erken die SAUK dat hy as nasionale uitsaaier dit as deel van sy mandaat beskou om sportbyeenkomste “van nasionale belang” uit te saai. Maar dat die prys ter sprake nie “kommersieel haalbaar sal wees of enige opbrengs op die belegging sou bring nie”.

Wel, in daardie geval is die vraag wat al lank in die tesourie se gange gefluister word, dalk tog die regte vraag om oor die SAUK te vra: “Waarom het ons nog ’n nasionale uitsaaier nodig? Moet dit nie ontbind word nie?”

Die slim woorde van die SAUK is maar net ’n rookskerm daarvoor dat die verduistering van al die geld die afgelope jare die instansie so bankrot gemaak het dat hy nie die uitsaairegte kan bekostig nie. Daar is skaars geld vir programvervaardigers.

Daar is ook geen versekering dat die Springbokke die eindstryd gaan haal nie.

Tóg is die span een van die min dinge in die land wat op ’n soort suksespad is. Hulle wen en is die mees verteenwoordigende kombinasie in die geskiedenis van die span.

As daar iets is wat die potensiaal het om weer passie, trots en eenheid in die land te bring, is dit juis die span. Is dit nie die soort “opbrengs op enige belegging” wat die SAUK en SuperSport as hul bydrae tot die land behoort na te jaag nie?

Van die SAUK, mandaat en al, kan ’n mens dit nog deesdae verstaan. Hulle kan nie eens die regte opname van die president se boodskap uitsaai nie en flits op die skerm van hul Afrikaanse televisienuusbulletin dat dit “pres. Jacob Zuma” se boodskap is. Wat ’n hopelose spul.

Hier is wel ’n saak uit te maak dat SuperSport ’n belegging in ons nasionale eenheid behoort te doen. Al is dit net die wedstryde waarin die Bokke speel. Of halfuur lange opsommings daarvan vir later in die aand. Of dalk net die drie latere uitklopwedstryde, as daar is. Of die volle eindstryd as ons betrokke is.

Pres. Cyril Ramaphosa het nie eens ’n kans om ’n nuwe daeraad te skep as ons uitsaaibedryf so kortsigtig en selfsugtig is nie.

  • Ons hoef nie 1995 se rugbyroem of 2007 se afgeskaalde weergawe te herskep nie. Ons kort ’n unieke 2019-oomblik.
Meer oor:  Supersport  |  Springbokke  |  Sauk  |  Wêreldbeker-Rugbytoernooi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.