Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sussie met wie als gebeur het
Willie Spies

My ma is op 23 Mei 1932 gebore. Dit was die jaar van die Groot Depressie. Hulle was baie arm.

As ’n bos-meisiekind van sewe jaar oud het sy in die lente van 1939 gehoor van ’n oorlog in Europa.

Die politici was verdeeld. Die Natte en Hertzog-gesinde lede van die Verenigde Party wou neutraal bly, maar die Engelse en Smuts-ondersteuners wou oorlog verklaar. Die Volksraad het gestem vir oorlog teen Duitsland en so het die Europese konflik óns oorlog geword.

In my ma se familie was daar Sappe en Natte. Die Sappe, en sommer ook die res wat net te arm was en die inkomste nodig gehad het, het by die weermag aangesluit. Oom Charles en sy broers was deel van die duisende jong Suid-Afrikaners wat aangesluit het.

Willie Spies by sy susters Mariechen Ebersöhn (links) en Reinette Greyling. Foto: Willie Spies/Facebook

My ma het vertel hoe kos in daardie tyd gerantsoeneer is. Suiker was onverkrygbaar. Vleis was ’n luukse. My oupa het soms tuisgekom van sy werk as bosbou-opsigter met ’n wildsbok wat hy op pad huis toe in ’n strik gevang het en dan was daar vir ’n slag vleis saam met die patats op die tafel van die groot bosgesin van Gouna.

Die oorlog het verbygegaan. Die Geallieerdes het gewen. Oom Charles het teruggekom, maar van sy broers het nie die oorlog oorleef nie. Wanneer my ma hierdie stories vertel het, het ek baie gewonder: Hoe voel dit as jou land die oorlog wen, maar jou mense, jou jong soldaat, jou burgerlike in die bomaanval, jou kinderslagoffer van ’n pessiekte, oorleef dit nie?

Op my ma se 32ste verjaardag op 23 Mei 1964 is sy haastig na die kraaminrigting van die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein geneem. Op daardie dag is haar vyfde dogter gebore, met bruin oë en swart hare net soos sy.

Mariechen was ’n dapper dogter, jongmeisie en later vrou. Sy was die sussie met wie alles gebeur het.

Hulle het haar Mariechen genoem – sommer omdat dit ’n mooi naam was, maar later by ons Duitse buurvrou, tannie Christa Kreussel, gehoor dat dit die Duitse verkleinwoord van my ma se eie naam was.

Mariechen was ’n dapper dogter, jongmeisie en later vrou. Sy was die sussie met wie alles gebeur het.

Sy was ’n kleuter toe my ma met die ses sussies in haar vierdeur-Borgward Isabella gery het. Om ’n draai het die een agterdeur oopgeswaai en Mariechen het kop eerste uitgeval. Sy is hospitaal toe, maar het net skraapwonde opgedoen. My pa het vir haar ’n plaasstel gekoop. As die sussies wou saamspeel, het sy vir hulle gesê: “Nee, gaan val eers uit die kar uit!”

Sy was ook ’n soldaat. In 1981 het sy vir ’n jaar opleiding ontvang by die Vroueleërkollege in George sy-trom gespeel in die orkes en ’n korporaal geword.

Sy was ’n keurige bloemis. Haar blommerangskikkings was uitsonderlik.

Om ’n draai het die een agterdeur oopgeswaai en Mariechen het kop eerste uitgeval.

Sy was ’n sorgsame kleuter- en spesiale-onderwys-juffrou met ’n sagte, liefdevolle hart.

In Mei 2010, toe my bejaarde ma met asemnood in die sorgeenheid van Herfsmed was, het sy deurnag by haar gewaak tot sy die volgende dag oorlede is.

Met die aanbreek van die inperkingstyd is haar geskenkie gebore: ’n Tweede kleindogter met donker hare soos haar ouma. Haar naam is Mariechen Ebersöhn, soos haar ouma.

In die herfs van 2020 het ons oorlog uitgebreek. ’n Oorlog wat in die Ooste begin en uitgekring het na Europa en eindelik hier in felheid woed.

Soos in 1939 is ons weer verdeeld. Sommige wil uitbreek en die virus beveg, ander wil tuisbly en vir die virus wegkruip.

Ons gaan die oorlog wen, maar ons het vir Mariechen daarin verloor.

  • Spies is ’n prokureur en voorsitter van Pretoria FM.
Meer oor:  Willie Spies  |  Inperking  |  Herinneringe  |  Afsterwe  |  Koronavirus  |  Suster  |  Oorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.