Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Swak skole ook ’n gemeenskap se probleem

Die afgelope tyd is ’n aantal drastiese maatreëls aangekondig ná die afsterwe van verskeie jong mense by van ons nasionale instellings. Dit kan hulle nie terugbring nie, maar ’n mens moet oor ferm optrede dankbaar wees.

Natuurlik bly die vrae swaar in die lug hang oor waarom die regering so traag is om by van ons landelike inisiasieskole op te tree.

Terwyl die nuwe skooljaar begin het, word talle vrae steeds oor verlede jaar se matriek­uitslae gevra. ’n Mens hoor telkemale die kritiek dat ons onderwysstelsel ’n totale mislukking is. Mag ek ’n ietwat ander perspektief gee.

Ek gesels onlangs met ’n skoolhoof op die platteland wat moedeloos vertel dat sy skool se slaagsyfer minder as 50% was. Dan voeg hy egter by: “Die gemeenskap faal ons. As ons ’n oueraand hou, daag daar enkele ouers op. Dit was die vakke wat op ’n Maandag geskryf is, wat ons gekelder het. Van die kinders was nog só voos ná die naweek se gefuif dat ons van hulle halfpad deur die vraestelle moes wakker maak.” Stel jou dit voor: Jy raak gedurende die skryf van jou matriekeksamen-vraestel aan die slaap.

Op nóg ’n plattelandse dorp sê die skoolhoof vir my: “Die wit mense het die skool vergeet en die bruin mense het dit nog nie as hul eie aangeneem nie.”

Gemeenskappe en ouers neem nog nie genoegsame medeverantwoordelikheid vir skole nie.

Die punt is eenvoudig: Gemeenskappe en ouers neem nog nie genoegsame medeverantwoordelikheid vir skole nie. Waar dit wel die geval is, sien jy duidelik die verskil.

Die verdere probleem is dat ’n skool veel meer as ’n blote akademiese instelling vir ’n dorp is. Waar die skool verval in ’n hopelose, wettelose, ongedissiplineerde ruimte, spoel dit noodwendig oor na die groter gemeenskap.

Baie van die middelmisbruik en misdaad wat ons in dorpe aantref, kan direk met die afwesigheid van ’n gesonde onderwys- en opvoedingstelsel verbind word.

Laat ons dit egter weer sê: Daar is duisende onderwysers wat ’n edel roeping in die onderwys uitleef, maar self vuisvoos en moedeloos geword het. Daarmee sê ons nie dat ons onderwysstelsel perfek is nie. Tog sal ons as gemeenskap ook voor ons eie deur moet vee. Ouers kies, onder meer, te maklik blindweg die kant van hul kind en ondergrawe só onwetend die dissipline in die skool verder.

Christus het ’n baie sagte plek vir kinders gehad. Of dit nou die 9 miljoen kinders is wat in 2015 aan lugbesoedeling dood is, of Laticia Jansen, Enock Mpianzi of Leandro Hopley, almal maak saak. Ook die slagoffers van fetale alkoholsindroom met min toekomshoop.

Is ons skole so sleg omdat ons gemeenskappe so sleg is, of is ons gemeenskappe so sleg omdat ons skole in sommige plekke in so ’n benarde toestand is? Besluit maar self. Dit is egter tyd vir ons almal om moue op te rol.

  • Dr. Hanekom is direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis.
Meer oor:  Braam Hanekom  |  Onderwys  |  Skole  |  Gemeenskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.