Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Swart hare is nie ’n patch op bruin hare nie!’

Vier meisiekinders, vier koppe om in rollers te kry, al vier om die beurt onder die staan-dryer, elke liewe Saterdag. Jo-Ann Floris skryf oor die obsessie in haar kindertyd om "coloured hare" glad te kry.

Michaela Ruiters, Jo-Ann Floris se niggie, as kind met die berugte krullers onder die droër.

Ek gaan nie hare kloof oor die hareherrie nie. Ek gaan maar net vertel dat “swart” hare een ding is, maar dis nie ’n patch op die bitter stryd van bruin hare nie.

Dit dra baie name: Coloured hare. Kroes hare. African Caribbean, in snaaksman Marc Lottering se woorde. Taaikop. Pittekop.

Dis allergies vir water, sweet en klam lug en mis. Die laaste twee is Die Vyand want dit laat jou hare mince – dit vernietig die haredos wat met gróót moeite ingedraai, uitgeblow of geflat-iron is.

Ek kon nog nie eens regop staan teen die stoel nie toe die emosiebelaaide ding van hare onder my aandag kom. Want toe al was dit my arme ma Johanna Mari Christina, kortweg Molly, wat haar vier dogters se hare elke Saterdag moes was, in rollers draai en sorg dat dit droog kom. Later toe kom nog ’n meisiekind by, maar Mams het die hare-ding sonder kla gedoen.

Want dit was belangrik dat die hare tog net mooi ordentlik (lees: reguit) moet lyk.

Sy het wel ’n bietjie meer gesukkel met die jongste se hare – wat ’n welige bos was – en meestal hul eie kop gevolg het. Maar tem, dié is hulle getem.

Daar was ’n ouer suster, maar sy was ouma-kind, so ouma White het haar deel daar gedoen.

Dink jou nou in: Vier meisiekinders, vier koppe om in rollers te kry, dan al vier om die beurt onder die staan-dryer.

Ek glo mos dis hoekom bruin mense nie eintlik swem nie. Want water is die grootste bedreiging vir ons hare.

Daar sit ons dan rond, koppe die ene oranje, groen, blou en pienk krullers (die kleur is kode vir die grootte).

En as die hare droog is, moet dit geswirl word met afgeknipte nylon-pantyhose sodat dit kan set, want dit was voor die dae van GHD en flat-irons.

Terloops, ek dink die oorlewing van die nylon-broekiekousbedryf is uitsluitlik te danke aan die bruin vrou. Ons koop dit sommer net om die swirl-kouse te maak en jy moet joune soos goud oppas in ’n huis vol vroumense.

Ter verduideliking: Die swirl-aksie is om jou hare in sirkelbewegings om jou kop te borsel, rofweg so om die kroontjie. Dan kom die swirl-kous om alles mooi vas te vat.

Dis ook een van die eerste dinge wat ’n bruin kind leer: Hoe om hare te swirl, met trots aangepaas van geslag tot geslag.

Maar Sondae vir kerk was ons darem ’n spoggerige klomp, jong. Wuiwende lokke en al die dinge.

Die ding is, dit hou nie lank nie. Ek glo mos dis hoekom bruin mense nie eintlik swem nie. Want water is die grootste bedreiging vir ons hare. En dis te veel moeite om jou hare ná die tyd te blowdry.

Jo-Ann Floris.

My broer het mos hoeka kleintyd gesweer sy hare het “gedraai”. Hy het glo gladde hare en blou oë gehad by geboorte, maar toe was my ma glo sy hare met Sunlight-seep en koue water en toe begin dit kroes. Weet nie of die kleur van sy oë ook weggewas is nie . . .

Daar is ook ’n ironie wat my later getref het. Saam met my op skool was daar kinders van Ka’point. Dit was ’n gebied waar munisipale werkers wat meestal op die vullislorries gewerk het, in sulke askies-huisies gewoon het. Hulle het nie elektrisiteit gehad nie al het hulle by die munisipaliteit gewerk. Hul kinders het dan gereeld met rollers in die hare skool toe gekom, want hulle hare moes maar só droog word.

Maar ’n beheptheid met (gladde) hare is nie ons enigste kruis nie. Daar is ook ’n ongesonde beheptheid met skintone.

Ja, dis waar – bruin mense check jou by die gesig. Jy is orraait as jy ’n ligte vel het.

So as daai besige anties kom kyk na die nuwe baba, is dit hoofsaaklik vir twee redes: om die draad van die hare uit te check, en te kyk of dit darem ’n “geletjie” is (lig van kleur).

Dan tel hulle die kleintjie se vingers so onskuldig en liefderik op, maar loer skelmpies na die halfmaantjies vel net rondom die naels – dit vertel jou kastig watter skakering die baba gaan word.

So hoor ek eendag iemand vertel sy was op skool iewers op die Kaapse Vlakte, en was darem baie verergerlik omdat die kinders met die ghoema-hare nooit ooit Maria in die Krismis-opvoering kon speel nie.

So erg het die onnie gevoel Maria moet gladde hare het, sy het altyd een van die Moslem-meisies met hul lang donker hare gekies vir die rol.

Maar luister, moenie by my kom huil oor hare nie. Ek kan skaars deal met my eie.

* Jo-Ann Floris is ’n adjunkredakteur van Netwerk24.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.