Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Swart suidooster beteken dalk ’n goeie winter

Wanneer laas het ons hier in die Kaap so ’n tierende swart suidoos soos voorverlede week beleef? En is dit dalk ’n voorteken van ’n goeie winter?

Hieroor praat ek en ’n Piketbergse boer die Saterdagaand op ’n Stellenbosse wynplaas by ’n vriend se verjaardagviering.

En amper tegelyk sê ons teen vuilskemer vir mekaar: Dis mos hoe dit hoort, dis hoe ons die Kaap se weer ken – ’n tsoenami van wolke oor die Hottentots-Hollandberge, met ’n ongeskikte suidoos in Kaapstad en omstreke wat jou soos ’n riet in vloedwater rondpluk.

Laataand gaan laai ons iemand in die middedorp af, en sien in die verlate strate akkerblare en -takke net waar jy kyk. Amper dorp-uit op pad Durbanville toe begin dit saggies uit die suidooste reën – en kort voor lank besluit ons: Hier’s ’n swart suidoos aan die broei.

Swart suidoos, nè – ons sal hierdie naweek tydings van groot reën kry!

Sonder om nou in weerkundige terme te verval, ’n swart suidoos beteken bloot ’n baie sterk hoogdrukstelsel suid van die land, gekoppel aan ’n afsnylaag hier oor die Karoo rond wat saam vogtige lug met reën oor die Wes- en Suid-Kaap inpomp.

Nietemin, die Sondagoggend se suidoos-reën het my onwillekeurig aan prof. Bun Booyens laat terugdink. Laat op ’n Vrydagmiddag in Januarie 1981 moes ek iets in Stellenbosch by hom gaan afhaal.

Klaar gesels, stap hy saam kar toe – sy hand bokant die wenkbroue om swaar reëndruppels uit sy oë te hou. Met my wegtrek, wys hy in die rigting van die berge: “Swart suidoos, nè – ons sal hierdie naweek tydings van groot reën kry!”

Hoekom onthou ek hierdie datum? Want teen die Maandag het die eerste berigte oor die Laingsburg-vloed begin inkom.

Dikwels daarna met ’n swart suidoos het ek al gewonder: Hoe het oom Bun geweet? Want onthou, destyds was daar nog nie slimfone met weertoepassings nie, dit was maar bloot fyn waarneming.

Die tekens wys op ’n normale winter vir die Wes-Kaap.

My Piketbergse vriend sê die Saterdagaand die ou boere van die Swartland noem dit nou ook al geruime tyd: Die tekens wys op ’n normale winter vir die Wes-Kaap.

En dit, kortliks, beteken gereelde winterstorms met ’n loeiende noordwester, milde reënvlae wat tot in die suide van Namakwaland opswiep, en dan en wan ’n swart suidoos wat dit dae lank kan laat reën in die Overberg en die Suid-Kaap, daardie deel van die Wes-Kaap wat baie dekades gelede nog in die Weerburo se weervoorspellings op radio as die “kusgebied van Sir Lowryspas tot by Plettenbergbaai” beskryf is.

Met weervoorspellings kan ’n mens jou liederlik misgis – selfs die veelgeroemde YR-weerdiens was Saterdag totaal verkeerd.

Die ou Amerikaanse Indiane had ’n sêding dat net die Opperwese die gordyne voor ongebore tyd kan ooptrek, maar die mens kan wel die toekoms op grond van sy waarneming van die hede en die verlede oordeel.

Dis seker maar wat die ou boere van die Swartland nou doen – hulle lees die tekens, hulle dink terug. Maar veral hoop hulle, want die klimaat het so baie boere die laaste paar jaar so vinnig verarm.

Ons had baie lanklaas so ’n ordentlike swart suidoos soos dié ene. Kom ons hou saam met die boere duim vas vir ’n nat, koue winter. Soos dit hoort.

* Du Preez is 'n voormalige redakteur van Landbouweekblad. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Winter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.