Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Swerende klier in die DA se lies

Dis net verbluffend dat iemand met so ’n hoë politieke statuur twee keer in dieselfde slaggat kan trap en boonop kan dink dit is dooddollies.

Natuurlik praat ons eers hier van Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad en eens die hoofleier van die party.

Onder Zille het die DA ongekende hoogtes bereik en sy het die DA van ’n byspeler in een van die hoofakteurs in die Suid-Afrikaanse politiek verander.

Maar Zille se pyndrempel moet hoog wees: Eers was daar die koloniale twiet, wat haar die argwaan van veral swart Suid-Afrikaners op die hals gehaal het. Daarvoor is sy deur die party se eertydse leier, Mmusi Maimane, uitgetrap.

Maar DA-lede behoort hulle nou te ontworstel aan die tradisioneel oormatige – let wel, oormatige – eerbied vir Zille.

Nou, drie jaar later, is dit weer ’n twiet – dié keer oor apartheid – wat ’n gefladder in die DA se duiwehok veroorsaak.

Zille het skerp kritiek ontlok nadat sy op Twitter gesê het: “Daar is nou meer rassistiese wette as wat daar was onder apartheid. Alle rassistiese wette is verkeerd. Maar ’n permanente staat van slagofferskap word te hoog op prys gestel om dit te erken.”

Die onderonsie het soveel beroering in die DA se eie geledere veroorsaak dat sy in die openbaar deur haar eie kollegas gerepudieer is.

Kiesers en DA-lede het waarskynlik groot respek vir die bydrae wat Zille tot die opbloei van die DA gelewer het. Maar DA-lede behoort hulle nou te ontworstel aan die tradisioneel oormatige – let wel, oormatige – eerbied vir Zille.

Hulle sal moet leer dat daar sekere beginsels is waarvoor opgestaan moet word nadat dit in eie geledere behoorlik bevraagteken en uitgepraat is.

Die DA-leiers moet ook besef dis hoegenaamd nie onpatrioties om te kritiseer of kritiek te moet “vat” nie. Dit is ook nie dislojaal of ontwrigtend teenoor die DA se leierskorps om skerp vrae te stel oor Zille se doen en late nie.

Die ondersoek na die Zille-twiet moet so spoedig moontlik afgehandel word. In die politiek benut ’n mens die beste branders wanneer die gety inkom. En die gety is nou perfek.

Zille is ’n swerende klier in die lies van die DA. En, soos dit maar is, maak die kliertjie die hele liggaam miserabel. En as die DA begin mank loop, ly nie net die liggaam van die DA nie, maar ook die opposisie. Dit terwyl die land juis ’n heeltemal gesonde, parate opposisie nodig het.

Die skalpel is nou in die hande van die DA-leiers om aan die klier te begin sny. Of die chirurgiese prosedure vinnig, diep en voorkomend genoeg sal wees, sal net die tyd leer.

Versweer-kliere wat nie skoon met ’n mes uitgelig word nie, laat kwaad agter wat gou-gou weer ’n mank-lopery veroorsaak.

Hoe jammer, tragies en pynlik ook al: miskien moes die DA Zille reeds op verpligte verlof gestuur het totdat die lug oor haar apartheid-twiet gesuiwer is sodat die mank-lopery van die DA tot ’n einde kan kom. Tydelike pyn, maar vinnige genesing.

Die skalpel is nou in die hande van die DA-leiers om aan die klier te begin sny.

Om Zille ’n sabbatsverlof op sosiale media te gee, is doodgewoon nie goed genoeg nie.

Maar terug by die chirurgiese prosedure: Gesien die bewerings wat tans oor Zille gemaak word, en in die lig van die posisie waarin die DA hom as gevolg daarvan bevind, moet ’n snit gemaak word wat mense wat vrae vra, tevrede sal stel dat doeltreffend opgetree word.

Dié snit moet so gemaak word dat verdere verleenthede én die moontlikheid van verdere snitte tot die minimum beperk word. Anders bly die DA sit met ’n probleem wat groter word soos ’n swerende klier – met al die onaangenaamhede en ongemaklikhede wat daarmee gepaardgaan.

Maarman is eindredakteur van Die Burger.

Meer oor:  Johann Maarman  |  Helen Zille  |  Rubriek  |  Twiets  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.