Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sy liggaam én siel vir die natuur
Dr. Gerhard Verdoorn by een van sy geliefde kransaasvoëls.

Dr. Gerhard Verdoorn is bekend as ’n omgewingskrywer en kruisvaarder teen die onwettige vergiftiging van roofdiere en -voëls. Minder bekend is dat sy omgee vir die natuur hom genoop het om sy liggaam aan die kransaasvoëls van die Magaliesberge te bemaak. Hy het met Ilse Bigalke gesels. 

Hoekom juis kransaasvoëls? En hoekom die Magaliesberge kies om die wêreld op dié manier te groet?

“Dis maar een van daai goed wat in jou genetika sit,” verklaar Verdoorn sy voorkeur vir dié roofvoëls tydens ons telefoononderhoud.

“Ek het baie aasvoëls gesien toe ek in 1984 in Angola was. Terug in Suid-Afrika het ek een keer die Magaliesberge uitgeklim op soek na ’n witkruisarendnes. Daar het ek die eerste keer van aangesig tot aangesig met kransaasvoëls gekom en het dadelik aansluiting by hulle gevind.

“Hulle is vir my maar net die mooiste goed op aarde. Ek het oor die wêreld heen met duisende van hulle gewerk wat beseer of vergiftig is. Hulle is unieke dierasies met baie karakter, is geweldig sterk en onverskrokke. Ongelukkig is hulle aan die top van die voedselketting waar al die impakte saamkom om hulle uit te wis.”

Volgens Verdoorn is die meeste van ons aasvoëlspesies op die rooidatalys van bedreigde spesies weens onder meer habitatverlies, ’n kostekort, vergiftiging en kraglyn- en wind-plaasimpakte – alles die gevolg van menslike aktiwiteite. “Hul getalle daal gedurig en ek het self gesien hoe ’n hele kolonie van 550 voëls uitgesterf het weens ’n vergiftigingsvoorval.”

“Iewers gaan daar ’n kataklisme kom wat die mensdom ’n harde klap gaan gee.”
Volgens hom het die getalle aasvoëls wat vir moetie-doeleindes vergiftig word, drasties toegeneem, veral sedert die ontstaan van die Lotto.

Volgens hom het die getalle aasvoëls wat vir moetie-doeleindes vergiftig word, drasties toegeneem, veral sedert die ontstaan van die Lotto. “Tradisionele genesers glo die brein van die aasvoël help hulle om die toekoms – asook die Lotto-nommers en sportuitslae – te voorspel. Kransaasvoëls se getalle het tot ver minder as 10 000 gedaal.

“Aasvoëls reinig die natuur van oorskiet-proteïene aan karkasse en as hulle verdwyn, veroorsaak dit groot probleme met siekteverspreiding deur vlieë en brommers.”

‘Sky burial’

Wat betref sy keuse van’n “sky burial” – die benaming in Tibet en Indië vir die skenking van menslike oorskot aan aasvoëls – sê Verdoorn daar is 8,5 miljard mense op aarde en nie plek om almal te begrawe nie.

“Vir mense in Indië en Tibet is dit ’n geloofsding – hulle glo die aasvoëls neem hul gees uit hul liggaam na Nirvana. In my geval gaan dit nie oor geloof nie – ek wil bloot kos verskaf, want die aasvoëls het dit nodig.”

Eenstop-gifinligtingsdiens

Verdoorn, ’n doktor in organiese chemie, is veral in landboukringe baie bekend om sy pogings om verantwoordelike plaagbestryding te bevorder en vir sy 24 uur-nooddiens vir enige voorval waarin mens of dier vergiftig word.

Hy is die direkteur van die Griffon-gifinligtingsentrum (sy eie inisiatief) en ’n konsultant vir die landbou-chemiese bedryf.

“Ek het die sentrum in 2002 begin nadat die meeste sulke sentrums toegemaak het. Ek gee raad of bestuur voorvalle waarin mense of diere vergiftig word, ’n padongeluk plaasvind en chemikalieë word gespil of wanneer daar die een of ander voorval met ’n plaagdoder was.

“Ek kry so 12 000 navrae per jaar (omtrent 33 per dag), waarvan sowat ’n kwart gaan oor mense, diere of die omgewing wat aan gif blootgestel is. ’n Klomp gaan ook oor die regte manier om peste of plae te bestry.

“My rol is om die situasie te stabiliseer en ontleed en die dokter of veearts te bel om seker te maak die mense of diere word behandel.

“Die sentrum het ook ten doel om die onwettige vergiftiging van veral roofdiere en aasvoëls te bestry. Tegelyk word ’n helpende hand deur middel van die Predasiebestuursforum uitgesteek om die skade te bekamp wat roofdiere veeboere berokken.”

Verdoorn is ’n onafhanklike adviseur vir die forum, wat uit die verskillende landboubedrywe bestaan. Die idee is om boere te help met omgewingsversoenbare oplossings om roofdiere te bestuur.

“In die ou dae is alle roofdiere wat vee bedreig het, soos jakkalse, luiperds, wildehonde en rooikatte, vergiftig en vrekgeskiet. Vergiftiging is ’n doodsvonnis vir alle lewensvorme, want meer as die teiken word geraak.

“Dikwels kom die ‘probleem-roofdiere’ nie eens aan die lokaas eet nie, maar aasvoëls wel. Ander kere is hulle die slagoffers van sekondêre vergiftiging. Geen chemiese plaagdoder mag as omgewingsvriendelik bestempel word nie.

“Ek het ’n bestuursplan en beste praktyke vir die predasieforum ontwikkel. Die idee is om nie voor die voet dood te maak nie, maar plaasdiere teen roofdiere te beskerm. Dit vat ’n bietjie tyd, maar die talle oproepe wat ek ontvang, is baie bemoedigend en daar is ’n groot toename in boere wat die nuwe benadering wil volg.

“Daar is reeds te min roofdiere oor en gif en gewere moet van hulle weggehou word.”

In die Karoo het die inisiatief Fair Game ontstaan om weer veewagters te begin gebruik om plaasdiere te beskerm. Wat dink hy daarvan?

“Veewagters is reeds in Bybelse tye gebruik, asook in my jong dae in die Karoo. Dit is een van die heel beste teenvoeters vir roofdiere. Ons gebruik ook ander diere om roofdiere van vee weg te hou, soos Anatoliese berghonde, blesbokramme, volstruise en alpakkas. Saam met veewagters is dit baie doeltreffend.

“Dit verg aanvanklik nogal ’n belegging, maar as jy in berekening bring dat ’n jakkals elke aand ’n ses maande oue lam ter waarde van sê R1 800 kan vang, het jy die veewagter se salaris binne vyf dae betaal. Voorkomingsmaatreëls is veel goedkoper as om dit nie in plek te hê nie.”

Verdoorn het ook ’n “26 uur per dag”-werk by Croplife SA, waar hy die bedryfs- en rentmeesterskapbestuurder is van dié bedryfsliggaam van al die plaagbeheermaatskappye.

“Ek sien om na alles wat oor verantwoordelikheid gaan. Dit behels onder meer ondersoeke na misdrywe, opleiding en bewusmaking oor verantwoordelike gebruik.”

Jag as bewaringsinstrument

Verdoorn is nie apologeties oor sy liefde vir jag nie. Hoe versoen hy dit met sy bewaringsoogmerke?

“Ek jag op die meeste 25 diere per jaar. Die impak daarvan op die omgewing is nul. Ek jag nie trofee- of roofdiere nie, net vir die vleis. Dit is baie lekkerder as winkelvleis en bevat nie allerhande stowwe nie.

“Nywerheidsontwikkeling, aardverwarming, besoedeling en so meer vernietig die aarde. Daarteenoor het jagters soos ek geen impak nie. Trouens, ons is van die voorste natuurbewaarders.

“Jagters dien byvoorbeeld as afskrikmiddel vir stropers. Jag is in talle lande, soos Kenia, verbied. Dit het meegebring dat die natuur en ekostelsels uitmekaar geval het weens die toestroming van mense en omdat stropery toegeneem het.

“Ek het die afgelope kwarteeu baie bewaringswerk tydens my jagtogte gedoen. Ek sien wat fout is, praat met die eienaars, maak seker wild word reg bestuur en dat daar plek is vir al wat leef en beef – wild, roofdiere voëls, plante en reptiele. Ware jagters moet seker maak die ekostelsel is gebalanseerd en moet baie meer in die natuur terugsit as wat hulle uitneem.”

Op sy bedkassie en in sy hart

“Langs my bed is ’n baie ou Bybel wat uit my weermagdae kom, boeke oor vuurwapens, fiksie, ’n boek oor vetplante en een oor roofvoëls.

“Dan is daar ook ’n dik handleiding oor gifstowwe en twee telefone wat nooit afgeskakel word nie in geval van ’n vergiftigingsnoodgeval.”

Wat stokperdjies betref, hou hy van skyfskiet en klassieke musiek en “is nooit sonder musiek in sy ore nie”.

Voorts versamel hy boeke oor voëls en die natuur en besit “seker meer as duisend boeke oor onder meer voëls en vetplante”.

“Ek is mal oor wat ek doen.

“Ek het nie ’n werk nie; ek het ’n lewe.”

‘Don’t kill the world’

Verdoorn kry die aapstuipe oor mynbou-aktiwiteite in Suid-Afrika, veral in Mpumalanga. “Die mens se hebsug is skrikwekkend. Hulle wil net nog hê, sonder om iets terug te sit.

“Mpumalanga is een groot kanker van swart gate met berge steenkoolafval. Die aarde gaan in ’n maanlandskap ontaard as hulle nie ophou nie. Wat gaan die mens gebruik om te oorleef?

“Die natuur is nodig om balans te skep en landbougrond om kos te produseer. Hierdie kosbare grond kan nooit weer herwin word nie. Die aarde en riviere word met chemikalieë besmet en raak onleefbaar vir mens en dier. Wys vir my ’n plek waar mynbougrond tot bruikbare landbougrond gerehabiliteer is. Landbou-organisasies moet saamstaan teen mynbou, want dié bedryf slaan sy kloue bietjie vir bietjie al hoe dieper in.”

In sy jongste rubriek in Beeld doen Verdoorn ’n beroep op die mensdom om die aarde se noodkreet te hoor. Hoe kan dié vernietiging stopgesit word?

“Die enigste oplossing is ’n drastiese ineenstorting van die menslike bevolking. Iewers gaan die aarde knak onder die enorme bevolkingsaanwas.

“Die natuur byt terug met vloede, droogtes, rampe en so meer. Iewers gaan daar ’n kataklisme kom wat die mensdom ’n harde klap gaan gee.

“In Afrika is daar nie kos, werk of lewensmiddele nie, en kinders word in algehele armoede gebore met geen kans op ’n ordentlike lewe nie.

“As ons nie brieke aandraai met aanteling nie, gaan ons onsself as spesie op aarde uitwis.”

‘Natuurprosaïs’

“Bospatrys roep die veld tot lewe as die môrester vir die ligdag sy laaste groet knipoog. Deur die digte loof van deurmekaarbos sluip die nag stil-stil weg terwyl bosbokke soos skimme in digte struikgewas verdwyn. By die groot pan asem skurwepaddas hul laaste basuine uit en soek dan skuiling onder lelieblare. Koedoes stap stywebeen water toe en raak gerus as die gemor van bobbejane wat gaperig die dag begroet, vertel dat alles by die waters rustig is.”

Die kenmerkende skryfstyl in een van sy gereelde omgewingsrubrieke vir Beeld (“Môrester se knipoog laat die dag oopvou”) laat Verdoorn se aanhangers liries en hy is al beskryf as “ons eie natuurprosaïs”. 

Waar het hy geleer skryf?

“Ek dink dis ingebore. Ek skryf van kleintyd af en het al op 12 my eerste artikel geskryf. Ek put my inspirasie uit die natuur, die landbou en dinge wat om my gebeur.”

Verdoorn skryf gemiddeld 14 artikels per maand vir onder meer verskeie landboutydskrifte.

“Partykeer sit jy en tjommel en tjommel en dan vat die idee jou..”En wat van kritiese lesers wat sê hy gebruik heeltemal te veel byvoeglike naamwoorde?“Ek kan nie almal gelukkig hou nie. Ek het my eie styl en hulle hoef dit nie te lees as hulle nie daarvan hou nie,” antwoord dié woordkunstenaar en vaandeldraer vir die natuur  filosofies.

  • Meld enige inligting oor onwettige wildvergiftiging aan deur 082 446 8946 te skakel of e-pos te stuur na nesher@tiscali.co.za.
Besige stede is sy woning niet

Verdoorn se gunsteling-wegkomplekke is “enige woestyn”.

“Die Karoo is my nommer-een-skuilplek, dan die afgeleë Negev-woestyn in Israel, die Judea- woestyn, die Namib en die Kalahari, waar ek kan wegkom van mense.

“Ek het my post-doktorale studies in Israel gedoen en elke dan en wan weggebreek na die Negev.

“Daar kan jy stilte hoor. Jy hóór hom.

“Van my gunsteling-natuurervarings het ek gehad toe ek gejag het. Op ’n plaas net langs Mapungubwe is ek twee keer deur olifante gestorm. Dis skrikwekkend, maar ’n sonderlinge ervaring. Ek het twee keer in leeus vasgeloop en twee ratels het reg voor my kom staan – ek kon amper aan hulle vat.

“Dié konneksie wat jy met diere vorm terwyl jy te voet is, kan jy nie in die Krugerwildtuin in ’n voertuig ervaar nie.”

Verdoorn en sy vrou en twee kinders het in 2013 na Port Elizabeth verhuis, juis omdat daar nie soveel verkeer en mense is nie. Die wind waai partykeer wel “buite weste”, maar “is gesond, deel van die natuur en het sy plek”.

Bigalke is Beeld se meningsredakteur.

Meer oor:  Gerhard Verdoorn  |  Natuur  |  Natuurbewaring  |  Jagter  |  Dierebewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.