Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sy wens sy kon haarself Afrikaner noem

Gevange in die naam Afrikaner sit ons Afrikaans-wees, ons Afrikaan-wees, ons menswees, skryf Anastasia de Vries.

Anastasia de Vries.

Ons skud woorde soos dolosse uit ’n sak, skrop in die beentjies van klank op soek na betekenis, beitel beelde en stories uit ’n naam, uit ’n sêding, ’n onaf sin.

Ek bars uit my nate uit. My kantoor is vol lig en lewe en lag. Die drie wat die afgelope drie of wat jare soos vel aan my kom kleef het, dop hul taal binneste-buite om, diep woorde en eiegoed uit hul Afrikaans op wat ek in ’n lesing vir ons eerstejaars kan gebruik. Ebenesia Pieters van Beaufort-Wes, Suné van Rooyen van Brandvlei in die Noord-Kaap, Jolyn Phillips van Gansbaai. En dan ek van die wye Kaap.

Julle moet help dink, sê ek vir die drie. Tussen ons vier behoort ons die spektrum van ons eerstejaars se soorte Afrikaans te dek, het ek gereken. Dus voorbeelde, meisies, voorbeelde! Voorbeelde sodat mens, dis nou ekke, doeltreffende kommunikasie en betekenisskepping by die eerstejaars kan inprent, kan illustreer hoe ’n bepaalde woord in verskillende omgewings sy lyf verkleurmannetjie hou, oor waar, wanneer en waarom die taal se baie vorme in een konteks gepas kan wees en in ’n ander dalk nie.

Ons breek ons omdat jy ’n woord soos “ghoffel” met gemak in die Kaap as sinoniem vir “dakskroef” of ’n onaansienlike iemand kan gebruik, maar in die Klein-Karoo ’n snotklap kan kry omdat dit hier skimp op nou ja, ’n medemens se losse sedes. Ons verkneukel ons in die gebruik van aanspreekvorme soos “suster” pleks van jou ousus se naam as sy baie ouer as jy is, “tittie” of “titte” vir jou oudste suster, “tietie” vir ’n groottante of ’n Moslem antie vir wie jy soms ook “tie” So-en-so sal noem.

Ons moet óór Afrikaans ook praat, sê ek, oor alles wat in dié naam opgesluit lê.

Ons raak stil oor ’n selfstandige naamwoord soos “vrou” wat soms eienaam word, simbool van die respek en liefde van ’n gemeenskap vir Vrou, die mens, in haar kenmerkende manskakiekortbroek. Ons lag vir die eienaam Prêr, afgelei van “prayer”, vir ’n valse profeet wat knaend die Here en alle heiliges aanroep as getuies van sy blank onskilligeit.

Om verskillende betekenisse en geskiedenisse uit ’n enkele woord te boetseer . . . dis die wonder van taal, ons taal. Die ironie of satire pynlik verskuil in die gee van koosnaampies soos Boere of Whitey vir mense met donker velle. En hoekom word die noemnaam van elke mens met die van Swart of Swartz altyd “Blackie”?

Ons moet óór Afrikaans ook praat, sê ek, oor alles wat in dié naam opgesluit lê. Oor sy veelsoortigheid, sy gisters en geskiedenisse, oor sy hier en oor sy nou. Oor sy stiefkinders en sy voortrekkind wat almal onder hul ma se rokke grootgemaak is. Soms sing ’n stiefkind, soms blaf hy vir die geliefde een wat skouers krom, soms wens as alles maar net anders was . . .

Sy wens sy kon haarself Afrikaner noem, sê Jolyn. Só, met dieselfde onskuld as met “I am an African”. Want gevange in die naam Afrikaner sit alles wat ons ver-taal: ons Afrikaans-wees, ons Afrikaan-wees, ons menswees.

Vir ’n wyle het die woorddolosse soos dobbelsteentjies tussen ons bly rol en rol.

* Anastasia de Vries is verbonde aan die departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit van Wes-Kaapland.

Meer oor:  Anastasia De Vries
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.