Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Taai besluit wag op SA regering

Suid-Afrika was tot dusver gelukkig genoeg om nie die bedreiging van terrorisme ook te moet hanteer nie.

Johanna van Eeden

Voor 1994 het die land sy kwota bomontploffings en terreuraanvalle gehad, maar sedert die totstandkoming van die demokrasie het dit gelukkig verdwyn.

Hier ter sprake is nie misdaad soos transitorooftogte, waar dikwels van plofstof gebruik gemaak word om geldwaens op te blaas, of die deurlopende teenwoordigheid van hoë vlakke van geweldsmisdaad in Suid-Afrika nie.

In sy nouste definisie verwys terrorisme na die onwettige gebruik van geweld en intimidasie, veral teen burgerlikes, in die nastreef van politieke doelwitte.

In die geval van die terreurgroep Isis is die doelwit die vestiging van ’n kalifaat of Islamitiese staat.

Isis se bedrywighede was tot dusver buite die meeste Suid-Afrikaners se belewenisveld, met aanvalle en bedrywighede wat aanvanklik beperk was tot die Midde-Ooste. Aanvalle in Europa – veral dié deur die sogenaamde enkeling-terroris of lone wolf – het ook voorgekom. En seker die bekendste terreurvoorvalle in Afrika is uitgevoer deur Boko Haram in Nigerië, Tsjad en Niger, asook Al-Sjabaab in lande soos Somalië en Kenia.

Maar nou het dié probleem homself kom tuismaak op Suid-Afrika se voorstoep. Inwoners in Cabo Delgado, ’n noordwestelike provinsie van Mosambiek, loop sedert 2017 deur onder ’n terreurgroep wat met Isis identifiseer.

Dit is deels die sukses van Isis: dat daar benewens ’n kerngroep ook los groeperings en individue is wat aanvalle uitvoer in die naam van dié organisasie.

Wat aanvanklik gelyk het na ’n paar geïsoleerde gevalle, het intussen gegroei tot ’n volskaalse konfrontasie.

Wat aanvanklik gelyk het na ’n paar geïsoleerde gevalle, het intussen gegroei tot ’n volskaalse konfrontasie. En Isis is openlik oor sy betrokkenheid in Mosambiek – soveel so dat die organisasie Suid-Afrika in ’n onlangse nuusbrief waarsku om nie betrokke te raak nie. Meng Suid-Afrika in, kan dit volgens Isis lei tot “finansiële, veiligheids- en militêre” probleme.

Moet die Suid-Afrikaanse regering dus bloot sit en toekyk hoe ’n buurland oorgeneem word deur ’n terreurgroep? Dit sal naïef wees om te dink dat ’n internasionale terreurgroep hom sal laat stuit deur die grens tussen Suid-Afrika en Mosambiek.

Die vraag is natuurlik ook of die Suid-Afrikaanse weermag die vermoë het om Isis aan te vat. Oorweeg dié vraag teen die agtergrond dat amper die hele Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag ontplooi is in die Covid-19- stryd. Dit lyk of huursoldate (ook van Suid-Afrika) in dié stadium probeer om Isis uit Mosambiek te dryf.

Nog een van Isis se groot suksesse is sy vermoë om plaaslike steun vir sy saak te werf. Dit is veral gemarginaliseerde buitestanders, op soek na ’n plek om in te pas, wat vatbaar is vir radikalisering.

Hoë vlakke van werkloosheid, maatskaplike en ekonomiese probleme skep die ideale teelaarde vir radikalisering. En dié omstandighede heers nie net in Mosambiek nie . . .

Dis nie ’n ligtelike besluit om betrokke te raak in ’n konflik in ’n ander land nie en ’n les wat Suid-Afrika ook reeds in die verlede geleer het.

Kan Suid-Afrika uit dié konflik bly en die risiko neem dat nóg ’n buurland – naas Zimbabwe – in duie stort? Duisende Mosambiekers is reeds weens die konflik uit gemeenskappe verdryf. Dis nie moeilik om te raai waarheen dié mense sal stroom as hulle weens ’n humanitêre krisis moet vlug nie.

Dit lyk dus al hoe meer of die eintlike vraag is of Suid-Afrika dit kan bekostig om nié betrokke te raak nie.

  • Van Eeden is adjunkredakteur van Beeld.
Meer oor:  Johanna Van Eeden  |  Isis  |  Krisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.