Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Taai besluite wag ná 8 Mei
Judith February
Judith February.

In die aanloop tot 8 Mei en ons sesde demokratiese verkiesing is ons ’n verdeelde land wat skynbaar nie kan verenig nie. Ook ’n land wat geteister word deur armoede, werkloosheid, ongelykheid en ’n land wat sukkel om die “nege vermorste jare” met Jacob Zuma aan die stuur, te bowe te kom.

Daarby het 47% minder jong mense tussen die ouderdomme van 18 en 19 as nuwe kiesers geregistreer as tydens die verkiesing van 2014. Hoewel die traak-my-nie-agtigheid van jong stemgeregtigdes nie tot Suid-Afrika beperk is nie, is werkloosheid onder die jeug ’n volle 52% en kan dit alles ’n beduidende invloed op ons politiek uitoefen.

Tydens die #FeesMustFall-betogings by universiteite het ’n jonger geslag vir Nelson Mandela uitgekryt omdat hy “ons uitverkoop het” en het die Grondwet die sondebok geword vir alles wat in ons gemeenskap verkeerd is, sonder dat die kompleksiteite van destyds in ag geneem word.

Oorgange is nooit volmaak nie. Suid-Afrika was nietemin gelukkig om tydens ons oorgang wyse en beslissende leierskap te hê asook ’n ANC wat ’n duidelike visie vir ’n grondwetlike demokrasie gehad het. Gewone mense se aandeel aan die struggle het stukrag daaraan verleen.

Ná 25 jaar van vryheid is ons egter afgemat en vertrou ons leiers baie minder as in daardie opwindende jare.

Ná 25 jaar van vryheid is ons egter afgemat en vertrou ons leiers baie minder as in daardie opwindende jare. Groeiende vlakke van ongelykheid het die kloof tussen rasse en ekonomiese klasse vererger terwyl politieke leiers ná staatskaping vertroue ingeboet het.

Daarom is dit geen wonder nie dat dit maar bars gaan met ons onderlinge dialoog en dat skuld maklik en woedend elders verplaas word. Ons luister nie meer nie, maar skreeu mekaar dood. In die plek van ’n middelgrond waar ons mekaar kon vind, is net woede oor uitsluiting en onvervulde beloftes.

Die Suid-Afrikaanse werklikheid is daarenteen een met ’n werkloosheidsyfer van bykans 25% en onvolhoubare vlakke van ongelykheid.

Ons het duidelik die nalatenskap van apartheid en die uitdaging om ’n “ontwikkelingstaat” te vestig, onderskat. Daar was ook die veronderstelling dat verkose verteenwoordigers en staatsamptenare nie korrup kan wees nie, terwyl die onbedoelde gevolge van beleidskeuses nie behoorlik oorweeg is nie.

Die bykans vergete Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) het in die vooruitsig gestel dat sonder ’n nuwe ontwikkelingsbaan Suid-Afrikaners ongelyk en arm sal bly en die bindingsgevoel om vreedsaam saam te woon, sal bly ontbreek. Ons word steeds deur ons verskille belemmer terwyl probleme toenemend met geweld “opgelos” word.

Nogtans het ons al telkens ervaar dat die kern van ons gemeenskap ’n veerkragtigheid bevat wat dit in die verlede al moontlik gemaak het om die onmoontlike te vermag.

Dié gees, wat in 1994 vaardig was, blyk nou byna onmoontlik te wees om weer op te roep. Nou is daadwerklike leierskap en pragmatisme nodig om ons ekonomiese uitdagings die hoof te bied en om ná 8 Mei ’n paar moeilike en beginselvaste besluite te neem.

In hierdie komplekse land met sy talle teenstrydighede is ons vryheid nie net met ekonomiese vryheid ingebind nie, maar moet daar ook wedersydse begrip vir “die ander” oor die vasgelegde foutlyne van ras en klas kom.

Die kern van 27 April 1994 het daaroor gegaan om iets nuuts, om die dringendheid van ’n vars ontwikkelingsbaan aan te gryp en om oor skeidings heen uit te reik sodat die land nie meer “tussen ons” lê nie, “maar binne-in”, soos Antjie Krog in “Land van genade en verdriet” gedig het.

Dit is die drieledige uitdaging voor ons terwyl ons oor 25 jaar van demokrasie besin.

Meer oor:  Judith February  |  Verkiesing 2019  |  Kiesers  |  Stemme  |  Beloftes  |  Stemdag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.