Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Taal is die kern van die konflik in Kameroen
Fred Pheiffer
Fred Pheiffer

Mary Izobo, ’n Nigeriese menseregteprokureur besig met haar LLD aan die Universiteit van Pretoria, skryf op 1 November vir Daily Maverick ’n meningsartikel oor die stygende onrus in Kameroen. Sedert 2016 is honderde mense dood, tientalle dorpies verwoes en honderdduisende mense ontwortel. Tienduisende vlug na die naburige Nigerië. Stakings sorg vir maande lange ontwrigting, die internet is dae lank dood en jare se opvoeding gaan verlore.

Die tragiese aanval op 24 Oktober op die Mother­ Francisca International Bilingual Academy in Kumba waarin minstens agt kinders omgekom het, was nie lukraak nie. Want ten grondslag van Kameroen se interne konflik lê die gegriefdheid van die land se Engelssprekendes. Oor hul marginalisering, uitbuiting en homogenisasie op politieke, ekonomiese en maatskaplike vlak deur die Franssprekende gedomineerde staat en selfs die Franssprekende bevolking.

Dié rusie kom al ver. In die berugte stormloop om Afrika van die koloniale moondhede ná die Eerste Wêreldoorlog kry die Franse die Kameroense binneland en die Engelse ’n strook in die weste. So was dit tot onafhanklikwording in 1960, toe dié twee dele saamgesmelt het tot ’n republiek.

Kenners meen dis merkwaardig die konflik het eers onlangs uitgebars, aangesien Kameroen etnies en linguisties een van Afrika se mees diverse lande is, van lank voor die koloniale tydperk al.

Hoewel Pidginengels en -frans al Kameroense omgangstale geword het, vind ek dit ironies dat twee koloniale tale so ’n strydpunt kon word in ’n onafhanklike Afrikaland.

Hoewel Pidginengels en -frans al Kameroense omgangstale geword het, vind ek dit ironies dat twee koloniale tale so ’n strydpunt kon word in ’n onafhanklike Afrikaland. Hier by ons het net een koloniale taal landstaal geword, naamlik Engels­. Om ’n informele vergelyking te probeer tref, vra ek toe my Engelssprekende Facebook-maats of hulle voel hul moedertaal verleen aan hulle enige spesiale identiteit, status of trots. Sou hulle bereid wees om soos hul Kameroense taalgenote die stryd aan te knoop vir hul taal?

Die meeste sê Engels hou vir hulle geen besondere waarde in nie. Sommige noem hulle voel bevoorreg oor die voordeel wat Engels vir hulle inhou en weet dis vir nie-Engelssprekendes wat iets wil bereik, kritiek om Engels te bemeester. Michael Morris, dekades lank spesialisverslaggewer van Argus en nou die Instituut van Rasseverhoudinge se mediahoof, noem pertinent die taal waarin iemand hom of haar wil uitdruk en uitleef, sy of haar eie keuse behoort te wees. Taalkeuse is nie iets wat opgedwing mag word nie. Engelssprekende Kameroeners se reg tot Engels is dus onvervreembaar. Of geweld geregverdig is om dié reg te beskerm, is nie vanselfsprekend nie.

Die laaste woord aan Izobo. Sy doen ’n beroep op die Kameroense regering om te erken die Engelssprekende­ probleem gaan nie verdwyn voordat Engelssprekendes nie meer gemarginaliseer voel nie. Hul besware moet ondervang word, veral wat die toekenning en bestuur van ekonomiese hulpmiddels en verteenwoordiging in staatsinstellings betref.

  • Pheiffer is mederedakteur van die WAT.
Meer oor:  Fred Pheiffer  |  Taal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.