Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Taal kan baat by die polys van stokou woorde
Prof. Hennie van Coller

Daar is ’n neiging om sogenaamde “vernuwende” letterkundige tekste te bejubel. Dikwels word gewag gemaak van stylsoorte, sub-genres; selfs stof en temas, wat dan uit die oude doos sou wees. Sonder om te besef dat niks werklik verdwyn nie: nie temas of stylsoorte nie en ook nie woorde nie.

In die 1950’s is die Afrikaanse plaasroman ten dode opgeskryf. Net om stralend te herrys met skrywers soos Wilma Stockenström en Etienne Leroux. Tans is dié sub-genre springlewendig en byna alle gerekende prosaskrywers het reeds hul hand hieraan gewaag.

Sekere taalkundiges verwerp ’n statiese/formele taalregister as “stroef”, “outyds”, “droog” en “vervelig”; dit klink byna of die gebruik van Engels aanvaarbaarder sou wees as benutting van dié “taalfossiele”. Ook die standaardvariëteit – te deftig, te stroef en te wit – is voortdurend onder druk. Veral van Kaaps, eweneens deurspek met Engels. En die gebruik hiervan in literêre tekste kan byna altyd reken op ’n positiewe reaksie synde “nuut”, “eg” en “spontaan”.

In woordeboeke word ou vorme gou gemerk as “verouderd” en afgemaak as “argaïsmes”. Wee die skrywer wat veelvuldig daarvan gebruik maak!

’n Tak is nie net maar ’n tak, soos ’n bekende kritikus opgemerk het nie; takke kan reguit, geknak en gevurk wees.

Die Marokkaans-gebore romanskrywer Hafid Bouazza gebruik graag argaïsmes. Woorde wat hy in woordeboeke teëgekom het in sy poging om sy Nederlands te verbeter. Hy is terdeë bewus dat baie woorde wat hy gebruik nie in spreektaal voorkom nie en dikwels onbekend is. Maar in die letterkunde gaan dit om meer as net kommunikasie, soos oor die assosiatiewe krag van taal.

Daarom voel hy dat dit sy reg is om elke woord te gebruik wat bestaan; woorde kan verouder, sê hy, maar nie die betekenis daarvan nie. Wat hom teen die bors stuit, is kritici wat hom beskuldig van vernaamdoenery en “eksotiese” taal.

Van Wyk Louw het gepleit dat ’n taal moet ontwikkel en nuwe woorde moet vind vir nuwe fenomene.

Maar eintlik is sy oer-Nederlandse woorde vreemd vir Nederlanders, gedrenk in anglisismes. Lui lesers kan moeilik verwyt. ’n Tak is nie net maar ’n tak, soos ’n bekende kritikus opgemerk het nie; takke kan reguit, geknak en gevurk wees, sê Bouzza. En daarom bestaan daarvoor ook verskillende woorde.

Hy haal Nabokov aan wat opgemerk het dat die leek ooreenkomste sien en die kunstenaar die verskil. “De mensheid zoekt steeds weer naar specifieke woorden voor specifieke fenomenen. Ik wil de wereld stofferen met taal.” En daarom het hy alle woorde nodig; ook dié wat sy leser, sonder woordeboek, moeilik sal begryp.

Van Wyk Louw het gepleit dat ’n taal moet ontwikkel en nuwe woorde moet vind vir nuwe fenomene. Maar terselfdertyd vir die regte gebruik van élke woord wat al deur iemand benut is, soos élke noot deur ’n knap orrelis. En jy moet nie net daardie woord ken nie, “maar ook baie om hom heen”.

So kan argaïsmes weer blink gepolys word; ten bate van Afrikaans.

  • Die skrywer se rubriekbundel ’n Pampoen vir Kersfees het pas by Naledi verskyn.
Meer oor:  Hennie Van Coller  |  Skryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.