Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
'ATKV doen goeie saak skade deur lompheid'

’n Amper verlammende stilte het oor die Afrikaanse taaldebat neergedaal ná die skrapping of inperking van Afrikaans as onderrigtaal aan verskeie universiteite. Nou het die ATKV en Johann van der Westhuizen se 13 gebooie dit weer laat opvlam, skryf Barnard Beukman.

Foto:

Die een manier om verandering deur te voer is doelbewuste ontwrigting, en as dit is wat Deidre Le Hanie, uitvoerende hoof van die ATKV, se modus was, het sy taamlik goed daarin geslaag.

Daar is twee kwessies oor wat met die ATKV gebeur het: die Afrikaans Plus-inisiatief wat sy aangekondig het en die manier waarop dit gekommunikeer is.

Vir diegene wat ingelig is oor die ATKV se doen en late en aktiewe taklede of gereelde kongresgangers is, sou min nuut geklink het, en sou wat sy gesê het ’n natuurlike uitvloeisel wees van dit waarmee hulle reeds besig is.

Op verlede jaar se ATKV-konferensie in Slanghoek in die Wes-Kaap was ooglopend meer as ’n derde van die afgevaardigdes bruin en was besprekings van kwessies soos “ons gedeelde erfenis” reeds verder die toekoms in as heelwat Afrikaanse debatte op ander plekke.

Die eerste sin in die organisasie se visie en missie sê “vir die ATKV is die Afrikaanse taal, kultuur, kennis en kreatiwiteit onmisbaar deel van nasiebou, versoening en ’n suksesvolle Suid-Afrika”. In vanjaar se bestuursverslag is ook verwys na die organisasie se fokus daarop “om Afrikaans in Suid-Afrika binne ’n meertaligheidskonteks te bevorder”.

Die manier waarop die Afrikaans Plus-projek wêreldkundig gemaak is, was om die minste te sê lomp en loop gevaar om ’n goeie saak meer skade as goed te doen.

Dit is weerspieël in vele ATKV-projekte, wat die meertaligheidsweek en Afrikaans-in-Sowetoprojek insluit.

Al het die ATKV nou sy sakebedrywighede in ’n afsonderlike eenheid met sy eie bestuur geplaas, is daar vanjaar weer ’n ouditeur as uitvoerende hoof aangestel.

Maar benewens bestuurskundigheid en ’n kop vir syfers verg die posisie ’n fyn aanvoeling vir die Afrikaanse omgewing, goeie algemene kennis, gereelde lees van media en veral Afrikaanse media en ’n taktiese aanvoeling vir die algehele aktuele omgewing.

Die manier waarop die Afrikaans Plus-projek wêreldkundig gemaak is, was om die minste te sê lomp en loop gevaar om ’n goeie saak meer skade as goed te doen.

Die ATKV was nog altyd ’n positiewe agent vir sinvolle verandering tot voordeel van Afrikaans en die manier waarop dit bestuur en gekommunikeer is, het die organisasie uit stormwater gehou. As die fyn aanvoeling – wat nie in ’n bestuurskoolhandboek opgelees kan word nie – oornag verlore is, het die organisasie ’n probleem.

Oor die beveiliging van Afrikaans deur soveel moontlik Afrikaanssprekendes te betrek en uit te reik na ander Suid-Afrikaners is hulle natuurlik reg.

Een goeie ding wat uit die herrie gekom het, is dat die Afrikaanse taaldebat weer opgevlam het en springlewendig is. Dit nadat ’n amper verlammende stilte daaroor neergedaal het ná die skrapping of inperking van Afrikaans as onderrigtaal aan verskeie universiteite.

Dit is ook nie net wit mense wat in die laaste loopgrawe vir Afrikaans sal veg nie...

Dit is ook nie net wit mense wat in die laaste loopgrawe vir Afrikaans sal veg nie. Toe die ANC onlangs op hul konferensie die Afrikaanse gedeelte van die volkslied uitgelaat het, was dit Danny Titus, uitvoerende direkteur van kultuur van die ATKV, wat die regerende party – deur sy eie pyndrempel oor die verlede – as volg getakel het:

Niks daarvan is Saterdag gehoor toe die koor by Nasrec bewustelik die Afrikaans uitlaat nie. Ons eerste burger staan onbeholpe daar. Toe die tweede burger, Cyril Ramaphosa, nog probeer om dit te sing, lyk dit of Nommer Een aan sy arm tik om hom daarop te wys dat die koor dit uitgelaat het.

“Nie ’n woord verder daaroor nie. Afrikaans – die derde grootste taal in ons land, die grootste in twee provinsies, die taal wat deur miljoene Suid-Afrikaners gepraat word – is gereduseer tot die grynslag van ons beleërde Nommer Een.

(Dit is natuurlik in teenstelling met die ATKV se nuutste lid, Max du Preez, wat meen die Afrikaanse gedeelte van die volkslied moet geskrap word.)

Le Hanie verseker dat Afrikaans die ATKV se kernsaak gaan bly, maar diegene wat met die beperkte inligting wat deur die stofwolk van die debat syfer moet aflei wat aangaan, is skepties.

“Gaan die ‘plussers’ ’n afsonderlike sessie hou terwyl ons op die nasionale konferensie in Afrikaans oor ons Christelike missie praat, of gaan ons almal saam weer Engels moet praat as iemand voorstel die Christelike verwysing moet geskrap word?” vra een briefskrywer.

“Haar doelwit om die ledetal binne sewe maande van 70 000 na ’n miljoen uit te bou, is logisties onmoontlik,” sê iemand wat met sulke logistieke stelsels werk.

“Sy bedoel dit sekerlik simbolies, anders gaan sy haarself daaraan ophang,” sê die persoon.

Maar die algehele strekking van sy inhoud is beslis oop vir diskoers en het juis direk bygedra tot die opvlam van die taaldebat.

Sulke reaksies is van die balle wat die ATKV nou gaan moet kolf in die boulbeurt wat hulle uitgeroep het.

In die fees van oningeligtes wat altyd ontstaan as daar enige teken van aksie is, loop die FAK ook nou deur. Daar is diegene wat nie eens die onderskeid tussen die twee organisasies ken nie, maar skielik wil saampraat en nou sommer die FAK voor die bors gryp oor die ATKV se dinge. Swak. En tekenend van tye waarin sommige mense glo hulle kan steeds sonder die hoofstroommedia ingelig bly.

Die FAK gebruik dit as een van die redes vir sy veldtog: Moenie die toekoms van #Afrikaans blus met ’n #plus nie.”

Die FAK se reaksie herinner in ’n mate aan ’n skoolgrondplakkaatkompetisie voor die interhuisatletiek. Meer is van die organisasie verwag onder leiding van Danie Langner, wat as hoof van die Voortrekkerbeweging bruin en swart kinders inlyf en toelaat. (Onder andere Zoeloesprekendes hier in Johannesburg.) Wat is die verskil?

Die organisasie het ook talryke verdienstelike projekte waarvan die kreatiewe en byderwetse modernisering van die FAK-sangbundel en liedjietuin net enkeles is. Die FAK gebruik die situasie ook om lede te werf.

Maar as enigeen in die ATKV se gewigsklas wil meeding, moet hulle ook soos die organisasie bereid wees om sy projekte volledig te lys en die boeke oop te gooi oor ledegetalle, personeelgetalle en inkomste en uitgawes waaruit elke projek gefinansier word en alle inkomstebronne. Beeld kon vroeër vanjaar daaroor verslag doen. Dis oor na die FAK vir deursigtigheid.

’n Vars bries in die taaldebat – wat soms gebrek ly aan ’n sinvolle vlak – het gekom van Johann van der Westhuizen, ’n voormalige regter van die konstitusionele hof, wat in sy rubriek in Beeld poog om 13 gebooie uit te stippel wat Afrikaans ’n sterk toekoms kan gee.

Daar is juis minder vingerwysing en ’n bevraagtekening van mekaar se motiewe nodig enn groter waardering vir die dinamika wat verskillende standpunte en voorgestelde oplossings vir die veerkragtige voortbestaan van die taal bring.

Van sy voorstelle is kreatief en die metodiek bied ’n geleentheid vir ander om die gebooie aan te pas, sommige te vervang of dalk ’n algehele alternatief voor te stel. Dit is een sinvolle manier om inderdaad iewers te kom.

Maar die algehele strekking van sy inhoud is beslis oop vir diskoers en het juis direk bygedra tot die opvlam van die taaldebat.

Regtig, kan ’n taal bloot voortbestaan deur sy letterkunde, digkuns en liedjies uit te leef? En wat op aarde is die ontwikkelingsgrondslag daarvan noudat hy skuld beken oor sy aandeel (sommige noem dit sy vooraf opdrag) in die besluit om Engels die onderrigtaal aan die Universiteit van Pretoria te maak?

Nog ’n stimulus vir die debat was die jongste sarsie van Jonathan Jansen, voormalige Kovsie-rektor. Ongelukkig het sy geloofwaardigheid die afgelope twee jaar in direkte verhouding met sy bontpratery afgeneem. Maar hy is deel van die gesprek en sal as sodanig verduur moet word.

Daar is juis minder vingerwysing en ’n bevraagtekening van mekaar se motiewe nodig en groter waardering vir die dinamika wat verskillende standpunte en voorgestelde oplossings vir die veerkragtige voortbestaan van die taal bring.

Verskoon tog dat ek vir die soveelste keer in ’n rubriek enkele aanhalings van N.P. van Wyk Louw uit 1958 self saamvoeg.

“So noodsaaklik soos die bloedsomloop vir die liggaam is, so noodsaaklik is die sirkulasie van gedagtes vir ’n volk. Die sirkulasie van gedagtes; dis die vrye uitspreek van eie mening en die aandagtige luister na die mening van ander, sodat ’n wisselwerking ontstaan. Die vrye meningswisseling is die lug waarsonder ons nie kan lewe nie. Die een Verskriklike wat ons moet vrees, is die stilte wat oor die wêreld sal neersak wanneer daar nie meer binne die volke gepraat sal word nie, gestry, geredeneer nie; en die volke self teenoor mekaar nors en stil en sonder gesprek soos groot roofdiere sal lê.”

Hopelik het ons die meningswisseling nou weer aan die gang gekry.

Beukman is redakteur van Beeld.

Meer oor:  Onderrigtaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.