Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Taalkruie: Erken taal se perke, vier ook sy potensiaal

In die artikel “Are We Different People in Dif­fer­ent Languages?” vra Ana Menéndez of ’n mens anders optree in jou moedertaal as in jou tweede of derde taal. Sy doseer skryfkuns aan die Maastricht-Universiteit in Nederland.

Wanneer haar studente ’n voorgeskrewe storie in hul moedertaal moet vertaal, besorg dit hulle heelwat moeite, nie soseer omdat hulle met Engels, die kursusmedium, sukkel nie.

’n Letlander verduidelik aan Menéndez sy Letties is ’n “mooi, soet” taal, maar die opdrag se teks is “donker”. Eers toe Menéndez uitvind die student het jonk Nederland toe geëmigreer, besef sy hy het Letties eintlik net as kindertaal geken.

By ’n ander geleentheid pols sy haar Indiërstudente waarom hulle almal in Engels skryf as Goedjarati hul moedertaal is. Hul verklaring? Goedjarati is die taal van “raas kry”.

Dié insidente illustreer dat ontluikende skrywers se bemarkbaarheid afhang van hul vaardigheid in Engels, maar die verwoording van hul vormingservaring lê in hul moedertaal.

Wanneer ’n mens ’n nuwe taal aanleer, veral vir skeppende gebruik, haper dit aan die verband tussen die aanduider (die woord) en die aangeduide (die voorwerp).

Fred Pheiffer
Fred Pheiffer

Die vreemdetaalwoorde kort die versamelde assosiasies van die moedertaal s’n. Hulle straal geen konnotasie uit nie, het geen aura nie, ontlok geen emosies nie.

Ek was bevoorreg om in die 1990’s by die parlement te werk. Die nuwe parlementslede het in geradbraakte Engels deur hul toesprake geworstel. Maar wanneer hulle na hul moedertaal oorgeslaan het, het hul woorde vleuels gekry en kon hulle hul hart uitstort.

Oor die voordele van meertaligheid bestaan min twyfel. Die aanleer van ’n nuwe taal ontsluit dié taalgemeenskap se kultuur, verbreed kennis en verryk die gees. Boonop bevorder dit medemenslikheid – so broodnodig in ons gebroke land.

Helaas kies ons te dikwels Engels, die maklike uitweg, maar ’n ramp vir ons eie tale. In my werkseminaar oor taalverandering wys ek hoe onafwendbaar die beïnvloeding van ’n klein jong taaltjie soos Afrikaans deur Engels is. Trouens, my deelnemers spreek gereeld hul kommer uit oor die vervlakking van jong Afrikaanssprekendes se kennis en gebruik van Afrikaans.

’n Paar uitgewers publiseer steeds boeke in Afrikaans en ander inheemse tale en doen moeite om ’n leeskultuur onder skoolkinders te bevorder. Maar die vraag bly: As tersiêre studie en werksgeleenthede toenemend Engels verg, waarom sou enigeen ná hul laerskooldae hul moedertaal wil verstewig?

Baie ouers wil hê hul kinders moet vroeg-vroeg al in Engels skoolgaan. Tuis praat hulle net Engels, hoe skeef en krom ook al.

Die laaste woord kom Menéndez toe. Sy bepleit veeltalige skryfkursusse wat studente aanmoedig om in hul moedertaal te skryf, maar hulle ook konfronteer met die kloof tussen ’n wakker verstand en ’n gebrekkige tong. Erken taal se perke; vier ook sy plesier en potensiaal.

Pheiffer is mederedakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.