Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Taalkruie: Sê jy ‘kanalla’ of ‘shukran’ uit dankbaarheid?

Uit sy rubrieke in Daily Maverick, Business Day en Vrye Weekblad leer ’n mens van Ismail Lagardien se skerp insig en humor. Boonop het hy interessante dinge te sê oor taal en kultuur.

Hy is van Kaaps-Maleise afkoms, maar sy grootwordjare was in Eldoradopark in die suide van Johannesburg. In die 1980’s en 1990’s is hy joernalis en persfotograaf. Hy studeer politieke ekonomie aan die London School of Economics en die Universiteit van Wallis te Aberystwyth, waar hy sy doktorsgraad verwerf. As politieke ekonoom werk hy vir die Wêreldbank en die sekretariaat van ons nasionale beplanningskommissie. Meer onlangs doseer hy aan die Nelson Mandela-Universiteit en aan die Universiteit van die Witwatersrand as gasprofessor in hul staatsbestuurskool.

Die kwyning van die plaaslike Maleise kultuur is vir Lagardien ’n kwelling, hoewel hy besef dis ’n oordrewe romantiese nosie om ’n taal of kultuur te probeer “red”. Hy is nie om dowe neute bekommerd oor die stand van minderheidskulture in ons land nie.

Oudpres. Thabo Mbeki had waardering vir die invloede wat ons kultuur verryk, strominge vanuit Afrika én van oorsee. In sy “I Am an African”-toespraak, wat hy in 1996 as adjunkpresident in die parlement lewer by die goedkeuring van ons nuwe Grondwet en wat erken word vir die oratoriese uitmuntendheid daarvan, sê hy: “In my are vloei die bloed van die Maleise slawe wat van die Ooste gekom het. Hul trotse waardigheid besiel my houding, hul kultuur is deel van my wese. Die hale van die slawemeester se sweep wat hulle aan hul lywe gedra het, vorm ’n skerp afgetekende herinnering op my bewussyn van wat nie gedoen moet word nie.”

Sedertdien vind daar ’n Afrikanisering van ons samelewing plaas en invloede wat nie as in Afrika gewortel beskou word nie, word met wantroue, selfs minagting, bejeën. Veral dus koloniale invloede, maar só word ook die Maleise babatjie met die badwater uitgegooi.

In die lig daarvan vind Lagardien dat Suid-Afrikaanse Moesliems hul ou gebruike en kultuur agtergelaat en die forser wêreldwye Islamkultuur aanneem, wat spreek van eenheid en mag. Daarmee saam word Maleise kultuurwoorde deur Arabiese terme verdring.

Nie Lagardien nie. Onder vriende en familie gebruik hy terrima kasi en kan’Allah, Maleis vir “asseblief” en “dankie”, pleks van byvoorbeeld shukran, Arabies vir “dankie”. Hy noem Eid ook eerder Labarang en iftar (die vas gedurende Eid) puasa. Dis Maleise woorde wat al lank Kaaps is – trammakassie, kanalla en poewasa.

In die treurmare van 2020 begin Lagardien sy Afrikaans herwaardeer – die Kaaps wat hy aan moederbors geleer het en waarin daar vir hom ’n Maleise kleinood opgesluit lê, maar ook die algemene Afrikaans waarmee hy met sy hogere kennisse, soos Roelf Meyer, kommunikeer en sy rubrieke skryf. Volwaardig Suid-Afrikaans!

  • Pheiffer is mederedakteur van die WAT.
Meer oor:  Fred Pheiffer  |  Taalgebruik  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.