Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Taalregte kán ook emansipeer
Leopold Scholtz

In die openbare debat, veral wanneer dit gaan oor Afrikaans, word dié vraag gestel: Wat is die belangrikste: Die taal se voortbestaan of sosiaal-ekonomiese gelykheid en geregtigheid?

As ’n mens die EFF en #FeesMustFall reg verstaan, is die mening daar dat Afrikaans se regte nie teen gelykheid en geregtigheid kan opweeg nie.

In sy deelname aan die gesprek (verlede week weer in ’n debat op Aardklop) het oudregter Johann van der Westhuizen hom ook daarby aangesluit. Moenie net na Afrikaans se grondwetlike regte kyk nie, was sy standpunt. Kyk ook na die grondwet­like bepalings oor gelykheid en diskriminasie. Anders gestel: Watter grondwetlike regte weeg die swaarste?

’n Mens kan ’n uitmergelende debat hieroor voer. Dié vraag as uitgangspunt laat mense aan weerskante hakke in die grond slaan en laat die noodsaaklike konsensus steeds verder wyk.

Dus, stel die vraag anders, eerder: Moet daar hoegenaamd tussen taalregte en sosiaal-ekonomiese regte in die Grondwet gekies word?

Kan ’n mens dié vraag nie holisties en inklusief beantwoord nie? Kan jy nie vir álbei kies nie?

My gevoel is dat albei van lewensbelang is as Suid-Afrika uit sy huidige dal van wedersydse verwyte, geskel en slegsêery wil klim.

Die nakoming van taalregte is om verskeie redes belangrik. Dis belangrik om Afrikaanssprekendes aan die nuwe, inklusiewe Suid-Afrika te bind, om hulle nie permanent te vervreem nie. Dis in die héle land se belang.

Ons het immers ’n eeu gelede onder ’n soortgelyke onreg deurgeloop.

Terselfdertyd sal Suid-Afrika nooit duursame stabiliteit ondervind as daar geen deurbraak kom met die opheffing van die arm swart meerderheid nie.

Wyle Anton Rupert het dit op ’n keer – weliswaar in ’n effens ander verband – akkuraat gestel: “As hulle nie eet nie, sal ons nie slaap nie.”

Ook sal wit mense moet besef dat diskriminasie, gebrek aan hoop, armoede, ensovoorts, mense se psige aantas en húlle eweneens van die inklusiewe nuwe Suid-Afrika vervreem. En dit kos geen besondere intelligensie om te besef ’n vervreemde swart meerderheid is nie in wit mense se belang nie.

Van alle wit mense moet juis Afrikaners dit die beste besef. Ons het immers ’n eeu gelede onder ’n soortgelyke onreg deurgeloop. Ja, ons het skouer aan die wiel gesit en bo uitgekom. Maar vergeet nie dat ons gelyke regte gehad het nie, al was dit in teorie.

En, ja, jy kan sê swart mense moet nou ophou kla en iets dóén. Maar hoe lyk die wêreld vir jou gemiddelde jong swart man in ’n township, sonder behoorlike skoolopleiding, sonder vooruitsigte, sonder perspektief?

Nee, ’n mens hoef nie tussen die twee alternatiewe te kies nie. Jy kan voluit vir Afrikaans en sy regte én die grondwetlike bepalings oor gelykheid en diskriminasie kies. Trouens, dis al dikwels bewys dat taalregte ook sosiaal-ekonomies emansiperend werk.

Dis byvoorbeeld wat die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit met sy fluistertolkdiens doen. Moeite word gedoen om swart nie-Afrikaanssprekendes te akkommodeer.

In Stellenbosch is dieselfde gedoen, voordat ’n Afrikaanse rektor besluit het dis “makliker” om maar Engels te word en sy eie taal in die rug te steek.

In dieselfde gesprek op Aardklop het dr. Danny Titus, die ATKV se uitvoerende direkteur: kultuur, tereg gesê Afrikaners moet hulle nie in ’n hoekie in verf nie. Hulle moet besef die meeste Afrikaanssprekendes is bruin en swart. Afrikaans hoef nie eksklusief te wees nie. Sterker nog, hy kán nie eksklusief wees as hy wil oorleef nie.

En ons kan selfs déúr Afrikaans die grondwetlike bepalings oor gelykheid en diskriminasie bevorder.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Menings  |  Aardklop  |  Eff  |  Rubrieke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.