Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Taalstryd is nie ’n ‘regse stryd’
Leopold Scholtz

Hoekom vir Afrikaans veg? Dít is die vraag wat dié week, met Internasionale Moedertaaldag, opnuut gestel en beantwoord moet word.

Ons leef immers in ’n tyd van die vrye mark, en solank mense behoefte aan die taal se voortbestaan het, sal hulle hom bly praat, sou jy kon sê.

Met ander woorde, laat Gods water oor Gods akker vloei. As steeds meer studente op Stellenbosch en ander kampusse nie omgee om in Engels te studeer nie, hou op om so oor Afrikaans te wroeg. Die taal sal vir homself sorg – of nie, whatever.

Só ’n standpunt het ’n sekere logika. As jou uitgangspunt is dat die voortbestaan van Afrikaans se hoër funksies – en daardeur op die duur van die taal self – onderhewig aan die vrye mark is, maak dit sin om die stryd op te gee.

Maar wees eerlik dat die toekoms van Afrikaans jou nie skeel nie. Moenie skuil agter oneerlike argumente dat ’n taalstryd rassisties of regs is nie.

Natuurlik is daar Afrikaner-rassiste wat ook vir Afrikaans veg. Hulle besoedel ’n edel saak met ’n onaangename reuk. Maar daar is niks inherent regs aan om vir Afrikaans – en minderheidsregte – te veg nie. Inteendeel, internasionaal is dit veel eerder linkse groepe wat hulle daarvoor beywer.

Onthou dat regs histories gekoppel word met die imperialistiese elite in Europa en Amerika. Dis ’n elite wat die standaardtaal tradisioneel ten koste van die plaaslike dialekte bevorder het.

Afrikaner-rassiste besoedel ’n edel saak met ’n onaangename reuk.

Dié dialekte is meestal deur die laer stande gepraat. Die elite het dit altyd as onbeskaafd beskou en daarop neergekyk. Dis dieselfde elite wat die Westerse imperialisme en kolonialisme gedryf het, ook ten opsigte van die Afrikaners en Afrikaanssprekende bruin mense. Die minagting waarmee die Engelse elite – die Tories, nogal – na Afrikaanssprekendes, swart mense, Indiërs, Walliesers, Skotte en Iere gekyk het, was oorweldigend.

Daardie Tories was in die konteks van die tyd régs. Dieselfde het gegeld vir die Franssprekende elite wat op die Vlaminge neergekyk het.

Teen daardie agtergrond was die stryd wat in verskillende dele van die wêreld vir minderheids- en taalregte geveg is, terselfdertyd ’n sosiaal-ekonomiese emansipasiestryd. Dit was ook ’n belangrike onderdeel van die Afrikaanse taalstryd ’n eeu gelede.

Toegegee, die Afrikaanse taalstryd het later van karakter verander. Pleks van ’n stryd vir die emansipasie van Afrikaanssprekende verdruktes, het die latere Afrikaner-elite dit gekaap en soms as instrument vir verdrukking en diskriminasie ingespan.

Maar ná 1994 het dinge opnuut verander. Die Afrikaners is nie meer baas van die plaas nie. Nou is dit ’n swart elite wat die kitaar slaan.

Daardie elite betuig – soms – ’n rituele lippediens aan die belang van swart moedertale. Maar in die praktyk dóén hulle byna niks daaraan nie. Trouens, onder die kinders wat in die huise van talle lede van die swart elite grootword, is ’n groeiende aantal wat hul ouers se tale nie meer behoorlik kan praat nie. Die taal waarmee hulle die gemaklikste voel, is Engels.

Feit is dat die swart elite in die ANC gereeld eerbiedig voor die altaar van die Angel-Saksiese taalgod neerbuig. Die swart elite het in kulturele opsig die nuwe regses geword.

Vir dié wat nie van 1994 kennis geneem het nie en die bevordering van Afrikaans steeds as ’n terughunkering na apartheid beskou, het ek nuus: Internasionaal word minderheids- en taalregte gesien as deel van menseregte en basta. Oor die grootste deel van die wêreld is dit juis linksgesindes wat vir minderheids- en taalregte opkom.

Taalvegters is nie noodwendig regse ekstremiste nie. Alte dikwels is hulle eerder links.

Meer oor:  Lesersbrief  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.