Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Takel dít eerste, Angie
Foto: istock

Hier is nou ’n prikkelende brokkie inligting: “In die somer is bladwisselende bome vol blare. Hulle verloor hulle blare in die lente.”

Só staan dit geskryf in my seun se gr. 8-natuurwetenskapboek (deur Karin H. Kelder, Carina van der Merwe en Peter J. Holmes).

Jy voel amper lus om vir Karin, Carina en Peter aan die arm buitentoe te lei om vir ons te gaan wys waar in Suid-Afrika gooi bome hul blare in die lente af.

Hoe gebeur dit dat nie een van hierdie skrywers ’n fout soos dié raaksien wanneer hulle hul eie teks proeflees nie?

En lig daar nie ’n enkele wenkbrou by die kenners wat ons skoolboeke keur nie? Bowenal, voel niemand verplig om ’n flater soos hierdie vinnig reg te stel nie?

Oënskynlik nie. Die jaarlikse tantième rol in en die foute leef voort om aanstaande jaar op ’n nuwe groep niksvermoedende gr. 8’s losgelaat te word.

Slaan jy ons skoolhandboeke oop, loop die foute jou tegemoet, en dis nie net ligte mistykies nie.

Slaan jy ons skoolhandboeke oop, loop die foute jou tegemoet, en dis nie net ligte mistykies nie.

In die gr. 8’s se geografiehandboek sê die skrywers byvoorbeeld: “Seestrome word oor die algemeen voortgedryf deur heersende winde wat daaroor waai.” Eina.

Daardie winde is eintlik maar net die kapokgewiggies van ons klimaat – as jy die hele atmosfeer tot ’n vloeistof sou saampers, sal dit skaars die Middellandse See volmaak.

Die oseane is die enjinkamer van die aarde se weerstelsels, en seestrome die energie-hoofweë waarlangs miljarde der miljarde liters warmer water uit die trope met kouer poolwaters geruil word.

Bun Booyens

Die Golfstroom in die Atlantiese Oseaan is byvoorbeeld 100 km breed en 1 000 m diep en vloei teen ’n flukse 10 km/h.

En hierdie watermassa met die volume van duisende Mississippi-riviere, word aldus die gr. 8-handboek meestal deur wind aangedryf, heelpad van Florida tot anderkant die Britse Eilande, meer as 6 000 km verder?

Dit als vra ek hardop terwyl ek deur die boek blaai. Elders uit die huis roep iemand: “Kom nou tot bedaring, jy maak die kind net verder deurmekaar!”

Oorreageer ek dalk? Nee. Suid-Afrika het die duurste onderwysstelsel in Afrika, maar dit is een van die swakstes. Minder as die helfte van die kinders wat as graad-eentjies skool toe gaan, slaag uiteindelik matriek.

So word daar jaarliks amper ’n halfmiljoen jong mense sonder matriek in ’n arbeidsmark gestort waar die werkloosheidsyfer reeds aan 30% vat-vat.

Suid-Afrika het die duurste onderwysstelsel in Afrika, maar dit is een van die swakstes.

Dit is ’n skrikwekkende probleem, groter as Eskom se skuldlas, groter as die dreigende afgradering tot rommelstatus deur Moody’s et al., groter as die grondont-eieningskwessie, groter as die probleme van die SAL, SAUK, Poskantoor, Krygkor, Sanral en Transnet tesame.

Tensy Suid-Afrika hierdie krisis oplos, maak nie een van ons ander probleme eintlik saak nie.

Angie Motshekga, ons minister van basiese onderwys, is reeds tien jaar in haar pos en het ons nou by die punt gebring waar Amnestie Internasionaal ons skoolstelsel in dieselfde asem as die “Bantoe-onderwys” van die apartheidsera noem.

Motshekga probeer waarskynlik haar bes, maar kom ons wees eerlik: Sy is soos ’n skilpad in ’n disco, hééltemal te stadig vir die aksie rondom haar – die wurggreep van die vakbond Sadou, die afwesige onderwysers, puttoilette, vervalste diplomas, bedenklike wiskundeprestasie en poste wat verkoop word.

As noodhulp-opsie is daar wel iets wat Motshekga kan doen: Sit ’n klein bietjie geld uit haar begroting van R245 000 000 000 eenkant om eers net die talle foute uit die handboeke te haal. Dan kan kinders minstens op hul eie deur die leerplan beur.

Vir net 0,01% van daardie begroting (R24,5 miljoen) kan ’n klein groepie kundiges maklik ’n stel handboeke skep wat by die heel bestes ter wêreld kan kers vashou – en sommer vinnig ook, voor die volgende lente, wanneer die bome weer hul blare afgooi.

  • Booyens is ’n vryskutjoernalis.
Meer oor:  Bun Booyens  |  Onderwys  |  Onderrig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.