Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Taks vir entstof ’n morele vraag
Alida Kok

Johanna van Eeden noem dit in ’n rubriek die “oksimoron van die jaar”: dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, se siening dat korrupsie uitgeskakel sal word as die regering die aankoop van entstowwe sentraliseer.

Die minister kan tog nie so stiksienig wees om dit te glo nie? Die verbrokkelende staatsdiens en korrupsie, wat soos geleentheidsmisdaad ten tyde van die volgehoue ramptoestand selfs verder kop uitgesteek het, getuig van die teenoorgestelde.

Die reël is dat toenemende sentralisering juis meer geleenthede vir korrupsie bied. Die ANC en sy kaders het dit vervolmaak om deur oorgesentraliseerde strukture by mense in nood te steel en terselfdertyd – onder menigte kiesers – ’n mate van legitimiteit as regerende party te behou.

Nou wil die kleptokratiese regerende party en sy belangegroepe moontlik na salaristrekkers in die land draai om hul sentraliseringsprojek te finansier.

Die nasionale tesourie meen R20 miljard is nodig om die nasionale inentingsprogram, waarvolgens die regering ’n monopolie op die verkryging en verspreiding van entstowwe het, te finansier.

’n Mens kan redeneer dat dit salaristrekkers se morele plig is om geld tot die inentingsveldtog by te dra, maar die regering het nie die vermoë om 40 miljoen mense veilig in te ent nie.

Pleks daarvan om die ekonomie te laat groei en die belastingbasis te vergroot, is strenger inperkingsmaatreëls onlangs weer ingestel wat die ekonomie verder skade berokken en is die voorstel om nóg meer belasting van ’n klein groepie salaristrekkers te verhaal.

Die R20 miljard kan volgens die na­sionale tesourie deur iets soos ’n eenmalige solidariteitsbelasting ingesamel word. As ’n belastingverhoging nie daarvoor gebruik word nie, kan verdere lenings aangegaan word (waarvoor belastingbetalers in elk geval indirek sal betaal) of kan ’n herprioritisering in die nasionale begroting gedoen word.

Die regering – nes ander rolspelers in die politiek – gebruik die pandemie vir eie gewin. Mkhize se motivering vir die sentralisering van entstof-aankope is eintlik ’n verskoning om meer belasting te hef ter ondersteuning van die beplande Nasionale Gesondheidsversekering-program.

Die klein persentasie van salaristrekkers in die land dra reeds een van die 20 swaarste belastinglaste ter wêreld. Ons boonste inkomstebelastingskaal van 45% is dieselfde as dié in Frank­ryk, Duitsland, Spanje en Brittanje.

Volgens die ekonoom dr. Roelof Botha is die R20 miljard wat benodig word, slegs 0,3% van die bruto binnelandse produk. In die groter prentjie is dit nie baie geld nie, maar in ons jaar van ellende en weens belasting- en Covid-19-verligtingsgeld wat gesteel is, en ’n onbeholpe regering wat ’n ekonomie deur streng inperking vernietig en wat noodlenings aangaan wat nie gediens kan word nie, moet dit die laaste strooi wees wat die kameel se rug gaan knak.

Indien die besluit geneem word om R20 miljard deur belasting in te vorder om ’n korrupte sentraliseringsprojek te finansier, is dit tyd om tussen wetlike en morele verpligting te onderskei en ’n belastingopstand te oorweeg.

’n Mens kan redeneer dat dit salaristrekkers se morele plig is om geld tot die inentingsveldtog by te dra, maar die regering het nie die vermoë om 40 miljoen mense veilig in te ent nie.

Die regering kan nie eens munisipaliteite onderhou, slaggate herstel of persoonlike beskermende toerusting by skole uitkry nie. Nog meer belastinggeld ter wille van genasionaliseerde inentings sal vermors word en daar sal weer by mense in nood gesteel word. Dít is al keer op keer aan ons bewys.

Gebruik eerder jou geld en morele gewig om ’n regeringsmonopolie wat bestem is om verdere skade aan te rig, teen te staan.

  • Kok is ’n dosent in politiek aan Akademia.
Meer oor:  Alida Kok  |  Enstof  |  Korrupsie  |  Belasting  |  Taks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.