Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tale wat nie aanpas, verstar en sterf uit

Na aanleiding van my vorige rubriek oor an­glisismes en die uiteenlopende kommentaar daarop, hier meer ter verduideliking.

Fred Pheiffer
Fred Pheiffer

Hoewel ek by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal werk, is die menings wat ek hier opper, my eie. Weet egter dat WAT-medewerkers nie skroom om taalverandering wat Afrikaans onder invloed van Engels ondergaan, mettertyd in die WAT se betekenisverklarings en voorbeeldmateriaal te weerspieël nie. Die WAT is ’n beskrywende bron, nie ’n voorskriftelik een nie.

My mening oor anglisismes moet in dié lig beskou word. As leksikograaf en taalkundige stel ek belang in taalverskynsels per se, en die redes waarom sekere dinge met ’n taal gebeur. Enige taal wat aktief gebruik word, toon gedurig tekens van verandering. Trouens, ’n taal wat ophou verander, stagneer en sterf uit. Ons eie Khoisan-tale is tragiese voorbeelde hiervan.

Laat mens dink aan die ingenieur Jacobs se gesprek met Andries die verdomde robot in Jan Rabie se kortverhaal “Ek het jou gemaak”.

“Wat is liefde, Andries?”

“Aanhou beweeg en geraas maak.”

“En wat gebeur as mens ophou beweeg, Andries?”

“Onvermydelike dood.”

Een van die sterkste drywers van taalverandering is taalbeïnvloeding wat tydens taalkontak gebeur. Die jong taal Afrikaans het van die begin van die 19de eeu af toenemend met Engels in kontak gekom. As taal van die koloniale owerheid was Engels die dominante een, met ’n sterker invloed. Juis weens Afrikaans en Engels se gemeenskaplike Germaanse oorsprong sou taalbeïnvloeding geredelik plaasgevind het.

Gedokumenteerde Afrikaans uit die 19de eeu is skaars omdat die skryftaal toe nog Nederlands was, maar dit sal my geensins verbaas nie as wat later in die najaag van taalsuiwerheid as anglisisties verwerp is, reeds tydens die 19de eeu in Afrikaans ingeburger geraak het.

Taalverandering is onafwendbaar, veral omdat dit so volksgedrewe is. Mense praat spontaan, selde met die voorskrifte van ’n taalhandboek as gewete. Taal se vernaamste doel is kommunikasie en die taalvorme waarmee die doeltreffendste gekommunikeer word, is dié wat gebruik word en uiteindelik voortleef. Of ’n taal korrek of suiwer is volgens bepaalde voorskrifte, speel selde hier ’n rol. Die ontwikkeling van Afrikaans as lingua franca aan die Kaap in die 17de en 18de eeu is ’n sprekende voorbeeld.

Laastens, as ek my vertaler- of taalversorgerhoed dra, is my werk om goeie Afrikaans te handhaaf – so goed as wat ek op skool en universiteit geleer is (1970’s en vroeë 1980’s) en so ver my taalkennis en ervaring strek. Met teks doen mens natuurlik veel meer moeite as met praat. ’n Kritieke onderskeid. Maar selfs by taalpraktisyns ’n dekade of wat jonger as ek, vind ek hulle sien bepaalde “taalfoute” nie meer raak nie. Hoe gevoelig ’n mens dus vir anglisismes is, word deur jou ouderdom bepaal. Laat mens dink, nè?

Pheiffer is mederedakteur van die WAT.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.