Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Talle vrae bly oor jag van Umbabat-leeu

Die sage oor die jag van wild in die buffergebied van die Krugerwildtuin het verlede maand weer opgevlam – soos in 2006.

Die sneller vir die huidige debat is getrek deur ’n Amerikaanse jagter wat glo R1 miljoen aan Umbabat betaal het om ’n leeu te jag. Dat die leeu met aas uit die Krugerwildtuin na Umbabat gelok is, het die gemoedere verder laat opvlam.

Elise Tempelhoff

Die natuurreservate aan die westekant van die wildtuin (Balule, Umbabat, Timbavati en die Klaserie, wat bekend staan as die vereniging van private natuurreservate, oftewel APNR) het, net soos die Sabi Sands-reservaat in 1993 die heining tussen hulle en die wildtuin laat sak. Dit is allerweë as ’n positiewe stap beskou omdat groot ekostelsels só beskerm word en diere kan migreer.

Tussen 1993 en 1996 is ’n “ooreenkoms” tussen die APNR en die Wildtuin gesluit wat bepaal het wild wat oor hul grense beweeg, mag gejag word om hul inkomste aan te vul. Sabi Sands het nooit hiermee saamgestem nie en jag word nie daar toegelaat nie.

Maar in die APNR word baie gejag. Wat sake verder kompliseer, is dat Sanparke (in hierdie geval die Wildtuin) nie die jagpermitte goedkeur nie. Dit word deur die Mpumalanga-toerisme-en-parkagentskap (MTPA) toegeken.

Baie toeriste met wie ek gepraat het, is nie daarvan bewus dat jag by hierdie “ekobestemmings” plaasvind nie. Dié private, luukse reservate word gewoonlik deur ryk Europeërs besoek. Min Suid-Afrikaanse besoekers aan die Krugerwildtuin is voorts daarvan bewus dat ’n olifant wat hulle sien, dalk die volgende dag deur ’n grootwildjagter platgetrek gaan word.

Altesame 4 467 diere mag vanjaar deur jagters in die APNR gejag word. Dit sluit 52 olifante, 36 buffels, 44 koedoes, 19 vlakvarke, sewe seekoeie, ’n leeu, ’n luiperd, agt hiënas, vyf kameelperde en 4 171 rooibokke in.

Met jag vir die pot is sekerlik niks fout te vind nie, maar hier is ’n reuse-grysgebied.

Die vraag bly, wie is nou eintlik die eienaars van die diere? Is dit nie alle Suid-Afrikaners nie?

Talle van hierdie diere is trofeewild. Sommige meen as die diere na die private reservate oorloop, behoort hulle nie meer aan die Kruger­wildtuin nie, maar aan die grondeienaar. Tóg sê bewaringsbewustes “dit is wildtuindiere wat daar gejag word”.

Die vraag bly, wie is nou eintlik die eienaars van die diere? Is dit nie alle Suid-Afrikaners nie? Dit is dus niks minder as reg nie dat die duistere “ooreenkoms” wat destyds tussen die APNR en die Wildtuin gesluit is, blootgelê en aan ’n openbare debat onderwerp word. Niemand wil tog regtig sien dat die heining weer opgerig word en wild só ingeperk word nie.

In 2006 het mense ook agtergekom daar word by dié reservate gejag. Weke lank is daaroor gedebatteer en toeriste het hul besoeke gekanselleer. Een toerismeoperateur het destyds gesê: “Jag en ekotoerisme is nie bedmaats nie.”

’n Ander netelige kwessie wat deel is van die huidige debat is die volgehoue stilswye van die MTPA oor die identiteit van die betrokke leeu en van die jagter.

Dié geval herinner aan die Amerikaanse tandarts, dr. Walter Palmer, wat Cecil die leeu drie jaar gelede met aas uit die Hwange-natuurreservaat na ’n aangrensende plaas in Zimbabwe gelok het. Dié voorval het internasionaal groot ontsteltenis en protes ontlok.

Meer oor:  Jag  |  Jagter  |  Leeu  |  Wild
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.