Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Talle vrae oor kerke se oopstel
Heindrich Wyngaard

Gebede het ons ongetwyfeld nodig, deurentyd en toegewyd, in hierdie ongekende dae van die skynbaar onblusbare vlamme van ’n wêreldwye pandemie.

Maar of dít noodwendig die oopstel van plekke van aanbidding vereis, weet ek darem nie so mooi nie.

Self probeer ek so gereeld moontlik aan die huis van die Here besoek bring – ek kom immers uit ’n gesin waar jy wakker gemaak is om Sondagskool by te woon, aangeneem is as lidmaat, en jou dankoffers byhou.

Jy luister dus met groter aandag wanneer pres. Cyril Ramaphosa die Sabbatsdag kies, soos verlede naweek, om die land op hoogte te bring van ons hantering van ’n krisis.

“Die [koronavirus]pandemie het ’n emosionele en geestelike impak op ons gehad. Baie van ons is bang en angstig oor sowel die hede as die toekoms,” het Ramaphosa op die sewende dag van die week gesê nadat hy ons in sewe tale gegroet het, ook in Afrikaans. (“Gooie naand,” lui die skriftelike weergawe van sy toespraak.)

Die rol van “godsdiensleiers” is deur hom erken as dat hulle “raad, leiding en ondersteuning aan miljoene mense” gee. “Dié sektor het ’n groot bydrae in die stryd teen die virus gelewer,” het hy verklaar. Hóé, wonder jy?

“Hulle het die behoeftiges gehelp, die hongeres gevoed, en na die siekes omgesien,” het Ramaphosa ons meegedeel.

Hoe gaan jy geestelike leiers “bestraf” wat weier om gehoor te gee aan die voorwaardes, soos getallebeheer, as jy hulle voorheen nie eens kon keer om lidmate gras te laat eet nie?

Maar is dít noodwendig meer prominent of is dit anders as ander inisiatiewe ter ondersteuning van hulpbehoewendes in die gemeenskap – soos dié deur gewone mense uit hul eie kombuise en motorhuise?

En as godsdiensleiers se “raad, leiding en ondersteuning aan miljoene mense” dien as motivering vir die inperkingsvrywaring van plekke van aanbidding, waarom loop ander mense, organisasies en ondernemings hulself teen onbesonne maatreëls vas?

Die sinvolheid van die oopstel van aanbiddingsplekke het met rede onmiddellik ’n besprekingspunt geword: Hoe laat jy 50 mense op ’n slag in ’n geslote ruimte toe, waar dit alles oor praat (preek), luide aanbidding en sang gaan as die piek van die infeksie, soos Satan, voor die deur wag?

Hoe gaan jy veral kleiner kerke in byvoorbeeld informele nedersettings monitor? Hoe gaan jy geestelike leiers “bestraf” wat weier om gehoor te gee aan die voorwaardes, soos getallebeheer, as jy hulle voorheen nie eens kon keer om lidmate gras te laat eet nie?

En hoe maak jy as die Heilige Gees oor ’n lidmaat kom en dié val op die grond neer en begin in tale te spreek? “Let go and let God”, of sal die vermoede van kleingelowiges nou bevestig word dat dié verskynsel dikwels meer vertoonmakery as ’n opregte geestelike ervaring vergestalt?

Dié vrae kan maklik as ligsinnig afgemaak word, spesifiek as jou verwysingsraamwerk slegs dié is van ons tradisionele kerke (NG, VGK, Morawies, Anglikaans, ensovoort).

Maar wat dan van die bewese feit dat die Covid-19-virus meer op oues van dae teer as op jonger mense?

Ons is tog vertroud daarmee dat naas die dalende getalle van kerkbywoning oor die laaste klompie jare, is dit ouer lidmate wat lojaal aan die kerk en kerkbywoning gebly het – en is dit jonger mense wat toenemend die kerk se plek en rol in hul lewe en hul Sondag-roetine bevraagteken.

Was dit dus nodig dat plekke van aanbidding oopgestel word, of moes jy eenvoudig uit die staanspoor geloofsleiers as “essensiële werkers” aangewys het om hulle toe te laat om tuis “raad, leiding en ondersteuning” aan lidmate te bied – en dié daarop te wys dat die koronavirus nie van die duiwel af kom nie?

  • Wyngaard is ’n sosiopolitieke kommentator en lidmaat van VGK Caledon.
Meer oor:  Heindrich Wyngaard  |  Inperkingsregulasies  |  Kerke  |  Koronavirus  |  Vlak 3
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.