Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Te veel hare op tande

Die maer maande is hier. In Januarie en Februarie moet baie van ons mos die gordel stywer trek ná Desember.

Soms moet jy hare op jou tande hê om dié twee maande te oorleef. Terwyl met nostalgie teruggedink word aan die Kersmaal, word langtand aan die blikkie tuna geëet.

Madré van Tonder

Spaarsamigheid moet tot die uiterste gevoer word.

Vir sommige suiniges is dit egter elke maand se storie. Kyk maar net die Amerikaanse TV-realiteitsreeks Extreme Cheapskates.

Van die suiniges se uiterste besparingsmaatreëls is doodgewoon walglik.

Soos die vrou van Idaho wat gereeld met haar vyf kinders langs besige paaie gaan soek na hase, jakkalse en ander diere wat deur voertuie doodgery is. Die roadkill beland in die pot en is die gesin se hoofbron van proteïen.

In Tennessee is ’n brandweerman wie se vrou nooit hoef te kook nie. Aan die einde van elke werksdag haal hy kollegas se middagete-oorskiet uit die yskas vir sy gesin se aandete.

In Ohio is ene Greg wat sy toilet net een keer per week spoel. Vir daardie ernstige nood gebruik hy die werktoilet of ’n openbare toilet. Sy motto vir die ander nood: “If it’s yellow, let it mellow”.

Al vier vroue staan tranerig tou vir ’n drukkie van manlief.

Dan is daar die pa van vier kinders wat sy gesin gereeld uitneem vir ete. Hulle bestel een bord skyfies en kyk uit vir ander wat van die tafel af opstaan om die eetplek te verlaat. Die pa is in ’n oogwink daar om die oorskiet te vra. So smul die gesin aan halwe burgers, uieringe en nou en dan ’n halwe steak. Vir die drinkslag bestel die gesin almal ’n glas gratis water en ’n halwe suurlemoen. En met die gratis sakkies suiker op die tafel maak hulle dan “lemonade”.

Trommeldik geëet verlaat hulle die restaurant, maar eers nadat Pa oor die prys van die bord skyfies gekibbel het.

Daar is ook die paartjie wat wil oefen en fiks bly, maar verseg om gimnasiumlidmaatskap te betaal. Elke Saterdagoggend besoek hulle ’n sportwinkel en oefen vir ure op die toerusting op uitstalling. Hulle vat so ewe hul handdoekies en waterbottels saam.

Met die hoë prys van doodskiste wil ’n ander paartjie ’n kis deel. Die een wat eerste sterf, sal wanneer nodig vir ’n wyle opgegrawe word.

En dan is daar die vrou wat besluit het tandevlos is gans te duur. Sy gebruik hare van haar haarborsel af. Gratis.

Genadiglik hoef van ons slegs in Januarie en Februarie hare op die tande te hê om die begroting te laat klop.

Maar extreme cheapskates moet dit dikwels hê. En van hulle het dit permanent. Veral diegene wat besluit om met hul hare te vlos.

Meer oor:  Madré Van Tonder  |  Desember  |  Januarie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.