Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Te veel verlore klastyd

Die Covid-19-pandemie het die bestaande verliese in onderrig by leerlinge verder beklemtoon, skryf Jurie Joubert. En dit is die kwesbare kinders wat die meeste benadeel word.

’n Verlies aan basiese leesvaardighede is een van die gevolge van die lang tye waartydens onderrig onderbreek word.Foto: ISTOCK

Daar was nog altyd verliese aan onderrig of agterstande in onderrig in ons skole – ons het ons nog net nooit veel daaraan gesteur nie.

Dit was ook nog altyd die ergste in arm skole. Covid-19 het dit vererger deur die ondeurdagte sluiting van skole.

Ouers, onderwysers en skoolgemeenskappe is egter al hoe meer bekommerd oor die verliese aan onderrig sedert die begin van die pandemie, toe skole gesluit is en onderrig aanlyn verskuif het. Konkrete bewyse ontbreek van hoe dié verliese lyk, hoewel ons weet dit gaan maar beroerd in die onderwysstelsel.

Swak onderrig weens Covid-19 (daar is natuurlik ander redes ook) het onder meer veroorsaak dat die getal vroeë skoolverlaters vanjaar tot meer as 750 000 gestyg het – drie keer meer as voor die pandemie.

Die groot kommer is dat kinders in veral die grondslagfase nie leer om behoorlik te lees nie, wat hul vermoë om behoorlik te leer belemmer.

Die leeskrisis in Suid-Afrika word beskryf as ’n “kognitiewe katastrofe”. Luidens die Progress in International Reading Literacy Study (Pirls), ’n internasionale vergelykende toetsing van kinders se leesvermoë, kon 78% van gr. 4-leerlinge in Suid-Afrika in 2016 nie met begrip lees nie. Suid-Afrika het in daardie jaar die laagste punt in die studie behaal en laaste gekom uit die 50 deelnemende lande.

Arm kinders swaarder getref

In Europa en in die VSA staan dié verlies aan onderrig bekend as die summer loss – die onderbreking van klasse weens die lang somervakansie. Dié lande het dit egter deurlopend probeer hanteer, met doeltreffende en soms ondoeltreffende metodes.

Toe skole in dié lande dus weens Covid-19 vir lang tydperke moes sluit, was daar bestaande metodes waarmee onderwysers die probleem geredelik kon hanteer.

Wat weet ons van die summer loss?

  • Dit verwys na ’n verlies aan wiskunde- en leesvaardighede.
  • Dit vind plaas gedurende die lang somervakansie wat sowat drie maande duur.
  • Navorsing toon dat leerlinge sowat ’n maand se werk oor die drie maande verloor.
  • Die verlies vind nie by alle leerlinge plaas nie.
  • Die verlies is meer algemeen by kinders uit armer gebiede.

Die resultaat is ’n gaping in onderrig wat elke somer ontstaan en wat help om die gaping in prestasie tussen studente uit armer gebiede en dié uit meer gegoede gebiede te verklaar. Teen die ouderdom van 25 het meer as 75% van studente uit ’n hoë-inkomste-agtergrond reeds ’n graad verwerf, teenoor slegs ongeveer 10% van lae-inkomste-studente.

Meer onlangse studies bevestig dat die somermaande onderrig vir alle kinders vertraag, maar dat dit meer so die geval is vir kinders uit arm huise.

Hulle is geneig om gedurende die somervakansie minder te leer as hul klasmaats uit meer gegoede huise. Hulle is ook minder geneig as hul klasmaats uit meer gegoede omgewings om tydens die somervakansie kuns- of musiekklasse by te woon, te reis en museums of biblioteke te besoek. Die gevolge hiervan kan ’n leeftyd duur.

In een studie is bevind dat die skooltyd wat Duitse en Oostenrykse studente tydens die Tweede Wêreldoorlog verloor het, die inkomsteverskille kon verklaar wat meer as 40 jaar later nog duidelik was.

Wat doen Amerikaanse skole om hierdie kinders te probeer help? Kinders word eerstens deurlopend aangemoedig om te lees. En tweedens is daar ’n verbintenis van onderwysers en ouers se kant af om saam te werk om dié kinders te ondersteun en werklik betrokke te wees by hul skoolopleiding.

Waar laat dit Suid-Afrika?

’n Fundamentele verandering is nodig om ons siek onderwysstelsel weer op dreef te kry en die verandering te bewerkstellig wat nodig is vir die miljoene kinders in ons skole wat nie behoorlik kan lees, skryf of somme maak nie.

Sonder om hierdie basiese vaardighede aan te leer is kinders se kanse om in die ekonomie opgeneem te word baie skraal.

Die sleutel tot die verbetering van ons onderwys lê in kinders se vermoë om algemene verlies aan onderwys in te haal en nie net in verbeterde matriekslaagsyfers nie. Dit sluit in ’n verbetering in die gehalte van die akademiese prestasie, kennis en vaardighede (veral lees-, skryf- en rekenvaardighede) van individuele leerlinge wanneer hulle die onderwysstelsel verlaat.

Probleme met afstandsonderrig

Die probleme en ongelykhede ten opsigte van toegang tot afstandsonderrig van hoë gehalte is reeds goed gedokumenteer.

Afstandsonderrig was vir baie kinders oor die wêreld heen ’n reddingsboei tydens skoolsluitings, maar dit was buite bereik van kwesbare kinders in Suid-Afrika.

Leerlinge van meer benadeelde agtergronde het dikwels nie die nodige digitale toerusting en ruimte om aan doeltreffende afstandsonderrig deel te neem nie.

Jonger leerlinge vind afstandsonderrig ook moeiliker.

Skole, onderwysers en liefdadigheidsorganisasies – om nie eens van ouers te praat nie – het baie moeite gedoen om te doen wat hulle kon, maar daar is geen plaasvervanger vir tyd in ’n klaskamer in die teenwoordigheid van ’n gekwalifiseerde onderwyser nie.

Dr. Silvia Montoya, verbonde aan die Verenigde Nasies se organisasie vir onderwys, wetenskap en kultuur (Unesco), sê die kritieke eerste stap om dié probleem van verlies aan onderrig op te los is om die omvang daarvan te meet.

“Dit is belangrik dat lande daarin belê om die verliese te meet ten einde die regte remediërende maat­reëls in werking te stel,” sê sy.

Daar is verskeie maniere om vas te stel wat kinders weet en wat hulle nie weet nie.

Oorhoofse toetse deur die departement kan byvoorbeeld gebruik word as ’n diagnostiese hulpmiddel.

Met dié vertrekpunt is daar maatreëls wat onderwysers kan tref om verliese aan onderrig in te haal.

Onderwysers kan fokus op die leemtes in inhoud en leerplan en nie net op gapings in leerlinge se prestasie nie. Dit kan saam met vak- en graad-onderwysers gedoen word.

Leerkragte moet ook nie toegee aan die versoeking om net die kurrikulum se inhoud te herhaal nie. Hulle moet eerder daarop konsentreer om die kurrikulum se inhoud in spesifieke graadvlakke te herskep.

Haal verlore tyd só in

As Covid-19 ons iets gewys het, is dit dat die meeste onderwysers toegewyd is, hard werk en so goed is as wat hulle kan.

Maar hoe gemaak om verlore klastyd in te haal? Die skep van ekstra en toenemende leertyd is noodsaaklik en daar is drie moontlikhede.

Eerstens kan die skooldag verleng word, deur byvoorbeeld een of twee skooldae met twee tot drie uur se onderrig te verleng vir leerlinge wat ekstra ondersteuning nodig het. Dié ekstra klasse kan aangebied word deur onderwysers, onderwysassistente of vrywilligers (soos onderwysstudente of private tutors).

Tweedens is die verbetering van die gehalte van onderrig, met klem op pedagogiek, belangrik. Dit sal ’n uitwerking op lang termyn hê, soos wanneer daar belê word in die verdere professionele ontwikkeling van onderwysers en die ontwikkeling van kurrikulummateriaal om minderbevoorregte studente te ondersteun.

Derdens moet ouerbetrokkenheid verbeter. Die verband tussen ouerbetrokkenheid en ’n kind se akademiese sukses is reeds goed gevestig, maar dit is onduidelik watter benaderings veral doeltreffend is.

Strategieë wat gebruik kan word sluit in deurlopende kommunikasie via SMS, die versterking van taal- en IT-vaardighede en die ondersteuning van ouers om tuis vir kinders te lees en hul kinders te begelei wanneer hulle huiswerk doen.

Vaardigheidsontwikkeling is deurslaggewend. Dis die sleutel om aan te pas by die veranderende sakemodelle en arbeidsmark, om gelyke geleenthede te verseker en om sosiale samehorigheid te bevorder.

Op langer termyn is vaardigheidsontwikkeling ook noodsaaklik om ander uitdagings die hoof te bied wat geskep word deur die wêreldwye drywers van verandering, soos klimaatsverandering, globalisering en demografiese veranderinge.

Die risiko om “te veel” tyd of hulpbronne aan hierdie kwessie te bestee is baie kleiner as die risiko om te min tyd daaraan te bestee en die komende geslagte te belas met laer vaardighede en groter ongelykhede.

Dr. Joubert is ’n onafhanklike opvoedkundige konsultant

Meer oor:  Onderwysers  |  Benadeling  |  Afstandonderrig  |  Covid-19-Gevalle  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.