Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Teen ’n skaarsheid van gees

Niemand versinnebeeld die idee van ruim van gees meer as Johnny Clegg nie. Hoe het ons nie só ’n verruiming nodig nie, skryf Gielie Hoffmann.

Johnny Clegg in 1990.

Om te land in Gauteng ná ’n week in Kaapstad is hard op die oog. Ek het al geleer om nie die woord lelik te gebruik nie. Maar dis so na aan dit as wat dit kan kom. Dis bruin en geel en swart; dis rook en stof en wat ook al deesdae in ons lug rondhang. En dis droog en gestroop en ontneem van die oorvloed wat nog twee maande gelede my oog gevang het op ’n ander vlug se sagter landing.

The world is full of strange behaviour;

Every man has to be his own saviour.

I know I can make it on my own if I try,

But I’m searching for a great heart to stand me by.”*

Tog is my hart vol ná ’n week se werk en kuier in die suide. Ek wonder altyd wat mens se hart laat oorloop. Vir my is dit deels die vriende by wie ek bly; mense wat hulle huis en lewens vir my oopmaak en soveel gee om te aan herkou. Dis ook ’n ander vriendin wat as ’n gas by ’n ete opstaan aan tafel en vir almal begin inskep, ’n klein maar wonderlike gebaar sonder dat dit van haar verwag is. Dis ’n musikale vertoning waar al die akteurs alles op die verhoog los en mens net nog en nog wil hoor en sien. Dis iemand wat opstaan en jou bedank ná ’n werksessie en uit hul hart uit praat oor wat iets vir hulle beteken het. Dis ’n ander vriend wat ons innooi om by sy kombuistafel te sit en met spys en drank en stories ’n gul middag te skep wat vir lank nog gaan leef in my gedagtes.

Ek vermoed dit wat my hart laat oorloop, is ander mense wat ruim van gees is. Mense wat gee en deel. Wat moeite doen en ekstra myle loop. Soms op ’n grootste skaal, meestal in hul dag-tot-dag-omgang met die gewone goed in die lewe. Soms tik ek ’n boodskap en sê: That is so generous of you. Maar ruim van gees is eintlik mooier. Dit beteken iemand het sy binnewêreld verruim sodat hulle genoeg het om self te floreer, maar nog genoeg oor het om ander te help in hierdie seisoen van gestrooptheid. Dis ’n kettingreaksie van welwillendheid wat geskep word; die verder vat van die pay it forward-beginsel. Al loop my beker nie heeltyd oor nie, kan ek nou iets vir ander gee danksy hierdie verruiming van wat ons kan wees.

Natuurlik speel hierdie goed als in my gedagtes af in die week wat Johnny Clegg aanbeweeg het. Niemand versinnebeeld dalk die hele idee van ruim van gees meer as hy nie. Om hom op die verhoog te sien was ’n tsoenami van menslikheid wat deur ’n vertrek spoel. Sy woorde, sy musiek, sy dans. Dit waarvoor hy gestaan het. Maar veral dit wat hy gedoen het. Elke druppel sweet wat hy agtergelos het sal bly voortleef as die werk wat hy ingesit het om ons almal se geeste te verruim.

There’s a highway of stars across the heavens,

The whispering song of the wind in the grass;

There’s the rolling thunder across the savanna,

A hope and a dream at the edge of the sky;

And your life is a story like the wind,

Your life is a story like the wind.

Gielie Hoffmann

Maslow se behoefte-hiërargie eindig met self-aktualisering as die toppunt van ons menslike bestaan. Maar daar is iets daarna: altruïsme. Iets wat later bygevoeg is. Daar waar dit nie meer oor jouself gaan nie, maar oor wat jy vir ander kan wees en gee. En alhoewel mens sekerlik jou primêre behoeftes eerstens wil aanpak, dink ek dis nie ’n lineêre proses nie. Nee, ek sien dit daagliks: Mense wat nog worstel met kos en behuising en sekuriteit is reeds besig om altruïsties te leef. Dalk is die strewe na altruïsme die roete na self-aktualisering. Dis nie 67 minute jaarliks nie, maar ’n minuut daagliks, êrens.

En ons het dit natuurlik nou meer nodig as ooit. Dit is die era waar beursies knyp, grense verklein, skeidslyne vergroot, aanslae feller en wonde dieper as ooit is. ’n Skaarsheid van gees heers. Hoe versag ons hierdie skerp hoeke wat nog soveel rou seer inhou? Hoe maak ons dit ronder en minder? In woorde, sekerlik. Maar ook in dade, altyd. Dis hoe ons haat en weemoed kan teëwerk. Dis hoe ons kan vorentoe beweeg. Deur die idee van wie en wat ons is te verruim. Ek glo nog steeds in die goedheid van mense, al is die teenargument tans sterk. Ek glo die status quo is een wat ons kan wysig deur daaglikse skaafwerk. Dis hoe ons ander kan help gesond word. Maar ook self kan genees. Deur die verruiming van ons eie gees. Dankie, Johnny.

* Lirieke uit “Great Heart”, Johnny Clegg

  • Gielie Hoffmann is ’n bestuurskonsultant en spreker van Pretoria wat graag gesels oor kultuur, identiteit en verandering.
Meer oor:  Johnny Clegg  |  Gielie Hoffmann
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.