Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Teenstrydighede van demokrasie

Persoon. Vrou. Man. Kamera. TV. . . Dís die woorde en volgorde daarvan wat pres. Donald Trump glo moes onthou as deel van ’n toets wat, volgens hom, sy goeie geestesgesondheid bewys het.

Amanda Gouws
Prof. Amanda Gouws Foto: Verskaf

Hy is baie trots daarop dat hy die toets geslaag het, maar intussen skeer die wêreld met hom die gek.

Ek vra myself gereeld die vraag af hoekom demokrasie dit toelaat dat gekke regeringshoofde word. Amerika sit met ’n gek; ons het Jacob Zuma gehad.

As enige persoon aansoek doen vir ’n werk, moet hy/sy kan wys dat hulle gekwalifiseerd is om die werk te doen. Jy moet bewyse van jou opleiding kan lewer, jy moet gewoonlik deur ’n onderhoudsproses gaan, en jy moet getuigskrifte kan voorlê. Dít is nie die geval met politieke leiers nie.

Indien ons kwalifikasies verpligtend vir politieke leiers sou maak, sal dit indruis teen die beginsel van demokrasie dat enigiemand as ’n kandidaat kan staan en verkies kan word. Anders word dit ’n stelsel wat elitisties is.

’n Belangrike demokratiese beginsel is dat elkeen moet kan stem. In die verlede is baie kategorieë mense uitgesluit, soos vroue en swart mense. In Suid-Afrika is daar ’n bevrydingstryd geveg sodat elkeen stemreg kan kry.

Om ’n kwalifikasie ’n vereiste te maak ook vir mense om te kan stem, word ’n “epistokrasie” genoem (met verwysing na epistemologie, wat die teorie van kennis is).

Ek vra myself gereeld die vraag af hoekom demokrasie dit toelaat dat gekke regeringshoofde word. Amerika sit met ’n gek; ons het Jacob Zuma gehad.

Met verwysing na epistokrasie voer Jason Brennan, ’n Amerikaanse filosoof, die argument dat om reg te stem ’n morele verpligting van die kieser is. Daar is geen verpligting om te stem nie, maar as jy besluit om wel te stem, moet jy stem op ’n manier wat die wêreld ’n beter plek sal maak.

Hy redeneer daar is geen verpligting om ’n ouer te word nie, maar as jy een word, moet jy ’n goeie ouer wees. In die geval van ’n kieser (en ouer) moet jy buite stemming bly as jy dit nie kan doen nie. Volgens hom sal dit dus beteken dat meer opgevoede kiesers vir beter kandidate of beleide sal stem.

Dit beteken dus ook dat jou beter gekwalifiseerde kieser die een is wat moet stem. Dit sou ’n “gekwalifiseerde” stem beteken. Daar is al baie stelsels vir ’n gekwalifiseerde stem bedink (almal beskou as elitisties), soos byvoorbeeld dat iemand met ’n tersiêre opvoeding twee stemme moet kry.

Só ’n stelsel sal wel die “een mens, een stem”-beginsel van demokrasie ondermyn. En ons weet ook dat dit ’n glibberige glybaan is met betrekking tot die demokrasie.

In die verlede kon byvoorbeeld net mans wat eiendom besit, stem. Dit het die grootste meerderheid van die bevolking dus sonder stemreg gelaat. Vroue het nie stemreg gehad nie omdat hulle mans namens hulle kon stem. As ons aandring op kwalifikasies, sal dit ook ’n groot hoeveelheid mense uitsluit.

Ons aanvaar dat mense leiers sal kies wat gekwalifiseerd is om hulle goed te regeer. Wat ons egter moet besef en verstaan, is dat mense stem vir diegene wat soos hulle is.

Verteenwoordigende demokrasie vereis dat kiesers in die regering verteenwoordig word, en hoekom sal jy iemand kies wat anders as jy is om jou belange te verteenwoordig? In Amerika sien ons dat Trump se ondersteuners baie soos hy is – oningelig, voortvarend, met mindere kwalifikasies.

Dit is die dilemma van demokrasie: Ons verwag goed gekwalifiseerde leierskap, maar die meganismes van demokrasie maak dit nie vir ons moontlik nie. En nou is daar Kanye West, die multimiljoenêr-rapper wat homself vir die Withuis beskikbaar gestel het. Sterkte aan die Amerikaners!

  • Prof. Gouws is verbonde aan die departement politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Amanda Gouws  |  Presidentskap  |  Demokrasie  |  Leiers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.