Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Teerpadspel raak ál meer onvoorspelbaar
Esté Gross

Die skrywer C.S. Lewis het gesê: “Die realiteit is nie netjies nie, ook nie vanselfsprekend nie en nooit soos jy dit verwag nie.” Dít raak vir my al hoe meer ’n waarheid, veral as jy die strate in Johannesburg moet aandurf in jou motortjie.

Dit voel nie vir my soos ’n voorspelbare realiteit nie, maar eerder na ’n ingewikkelde bordspeletjie. ’n Spel van gebiedsbesit, baie soos RISK, maar met die tradisionele Monopoly-karakters daarin.

Daar is die hond, die strykyster, vliegtuig, die stewel, die vingerhoed, kruiwa en hoed. En jy leer elke dag nuwe spelers ken. Baie van die padspelers is salig onbewus daarvan dat hulle motor se ruit nie so donker getint is – en hulle nie so onsigbaar is – soos wat hulle hoop hulle is nie.

En as jy van punt A tot punt B wil kom, het jy nie ’n keuse nie, jy móét speel. Die spel is al hoe minder verbonde aan reëls en regulasies. En daar is baie warm strykysters, kruiwaens en prikkelbare vingerhoede op die pad. Sommige dink ook hulle is die vliegtuie, maar baie stewels wil hulle skop. Ander kies graag die hondegeblaf om die spel mee te speel.

Daar is altyd die speler wat kortpad wil vat en sy eie reëls opmaak.

Daar is altyd die speler wat kortpad wil vat en sy eie reëls opmaak. Dit is baie keer die hoed (laag oor die oë en die donkerbril op) wat dan maak of hy niks raaksien nie. Sommige het al lankal die pamflet met die reëls van die spel weggegooi. Ander het nooit daardie papier onder oë gekry nie . . .

Ek glimlag vir die klein motortjie voor my se groot wit en rooi plakker op die agterruit. Die outjie is duidelik moeg daarvoor om geboelie te word. Die waarskuwing lees: “Warning: this car stops at stop signs and orange robots.” Ek oorweeg dit skielik sterk om ook vir my so ene te laat druk, want die reëls is nie meer so vanselfsprekend op die teerpadbordspel nie. Sommige padvrinne raak deesdae warm onder die kraag as jy stop by die stopteken, dis glo oudmodies!

Jy word met ’n lang getoet gestraf vir jou daad. Daar is ook handgebare en vurige woorde, maar ek kan dit gelukkig nooit mooi uitmaak nie . . .

Om deel te wees van die spel, is ook duur. Voor jy die dobbelstene kan gooi om vorentoe te beweeg moet jy petrol ingooi. So, ek hou by die vulstasie stil. Die petroljoggie probeer om my te oortuig om 95 in te gooi, voor ek onbeskaamd sê: “Die cheap one, 93, asseblief.” Dan gooi hy vir my van daardie peperduur gourmetsousie in en ek groet, reg vir nog ’n rondte.

Die reëls van die spel is eintlik heel eenvoudig – en die ironie van die saak is dat almal kan wen. Almal wil die groot prys wen, om veilig by die huis te kom vanaand.

Maar dit raak al hoe moeiliker. Jy gooi maar elke keer die dobbelstene vir nog ’n kans. En môre begin die spel weer van vooraf . . .

Meer oor:  Esté Gross  |  Sielsgoed  |  Lewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.