Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ten minste kloof ons nie hare oor CR
Blou Willem

Ag, mense, was ’n gelykopuitslag al ooit lekkerder?!

En die held toe sowaar weer die klein Jantjies!

Ek kyk hom so met die sing van die volkslied en ek sien hy slaan sy kortbroek om sodat dié nie op die gras sleep nie en ek dink by myself: “Seuntjie, weet jou ma jy’s nie by die huis nie en meer nog, weet sy jy gaan teen die magtige All Blacks opdraf?”

So, baie geluk. mev. Jantjies, maar my vrou sê as jy hom eendag nie meer wil hê nie, sal sy hom enige tyd aanneem.

Ons ou landjie het baie Zondes wat ons lewe vertroebel, maar ons mors darem nie tyd om oor ons staatshoof se hoof te kibbel nie.

Met ou Boorish Johnson se verkiesing as nuwe inwoner van 10 Downing Street, is die grootste besprekingspunt mos nie Breekit nie. Nee, dis of hy of die windverwaaide ou daar in Washington die rampspoedigste haarstyl het (hoewel, as jy jou hare soos hulle twee die een oggend met ’n eierklitser kam en die volgende oggend met ’n bomklapper, kan ’n mens seker nie van ’n haarstyl praat nie).

Dit vat sekerlik baie moed om ’n blinde ou as jou persoonlike haarkapper aan te stel.

Die een ding waarvoor hulle albei darem krediet moet kry, is dat hulle omgee vir gestremdes, want dit vat sekerlik baie moed om ’n blinde ou as jou persoonlike haarkapper aan te stel.

Ek wil nou nie aankarring met ’n harige tema nie, maar as lewenslange erelid van die KKK (Kaal Kop Klub) wat hom onder meer beywer vir afslagpryse by haarklappers, glo ek daar word steeds teen ons soort gediskrimineer.

Wat is byvoorbeeld die kans dat die Amerikaners met hul obsessie met TV-presidente ooit weer ’n kaalkop as president sal kies? Die laaste was Dwight Eisenhower daar in 1953, wat so bles was dat jy sy gedagtes kon lees en bekend was vir sy gevatte opmerkings oor alles onder die son en ander planete.

In die gevleuelde woorde van wyle Ike: “There is one thing about being president – only your wife can tell you when to go to the barber.” Duidelik luister Trumpetter en Boorish nie na húl wederhelftetjies nie.

Ja, en selfs op die sportvelde word teen die kaalkoppe gediskrimineer.

Die firma Opta Index, wat statistieke byhou van die Engelse Premier-sokkerliga, het ’n jaar of wat gelede bekend gemaak dat ’n sokkerspeler met ’n kaal kop se kans om ’n geel- of rooikaart in ’n wedstryd te kry, byna drie keer groter is as dié van sy spanmaat met ’n welige bos hare. Sewe van die tien spelers wat die meeste kere daardie seisoen vir vuil spel aangetree is, was dan ook lede van die KKK!

Praat van misdadige diskriminasie – sies, julle!

Met ons president Cyril se hare het ons gelukkig nie hare te kloof nie en oor sy probleem met die OB (Onbekwame Beskermengel) kan ons ook maar net vir Ike aanhaal: “Never waste a minute thinking about people you don’t like.”

Meer oor:  Blou Willem  |  Oos-Kaap Naweek  |  Rugby  |  Haarstyle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.