Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ter wille van almal moet Kaapse lughawe Krotoa heet

Kaapstad se lughawe moet die naam van Krotoa dra, want dit sal weer klem lê op die Vryheidsmanifes se aanhef wat sê Suid-Afrika behoort aan al sy inwoners, skryf Danny Titus.

Baie mense glo die waardigheid van Suid-Afrika se oorspronklike inwoners kan herstel word deur Kaapstad se lughawe na Krotoa te vernoem. Foto: Argief

Ek moet my stem voeg by diegene wat wil hê die Kaapstadse lughawe moet herdoop word na die Krotoa Internasionale Lughawe.

Die EFF se ywer om dit na wyle mev. Winnie Madikizela-Mandela vernoem te kry en die ANC se wens dat dit die naam moet dra van oudpres. Nelson Mandela, is ’n klinkklare bewys van die oorwinningskrete van die nuwe heersersklas in post-apartheid Suid-Afrika.

Weg is enige sweem van onderhandeling, van die soeke na gemeenskaplikheid; die spanninge en kompromieë van Kodesa is ’n vae herinnering.

Die aanhef van die Vryheidsmanifes – “South Africa belongs to all who live in it, black and white” – geld glad nie meer nie. Wat nou geld, is die ANC se “blacks in general and Africans in particular.”

Kan dit wees dat ons gedagtegange steeds deur koloniale denke besmet word? Helaas is die naweë van kolonialisme en apartheid nog lank nie uitgewerk nie.

Hoe dit nou rym met “non-racialism” maak glad nie meer saak nie.

Floyd Shivambu, adjunkleier van die EFF, is veel meer direk as toe hy ’n wit joernalis rondgeruk het wanneer hy Ismail Momoniat, adjunkdirekteur-generaal van die tesourie, daarvan beskuldig dat hy die “Africans” in sy departement koloniseer. Teen die agtergrond van die hedendaagse hegemonie is daar ook die eenogige kyk op ons geskiedenis vanuit die perspektief van die Europese skepe.

Selfs die dokumentêre TV-program “Die Afrikaners” ontkom nie van die eenogige, eendimensionele kyk op ons veelkantige Suid-Afrikaanse geskiedenis nie.

Die regering se plan om geskiedenis ’n verpligte skoolvak te maak, het juis ten doel om hierdie eenogigheid om te draai.

Kan dit wees dat ons gedagtegange steeds deur koloniale denke besmet word? Helaas is die naweë van kolonialisme en apartheid nog lank nie uitgewerk nie.

Naam sal nuwe perspektiewe vir mense van SA bring

Crystal-Donna Roberts het die rol van Krotoa vertolk in die rolprent met dieselfde naam. Foto: Argief

Krotoa bring vir ons balans omdat dit ons Suid-Afrikaanse geskiedenis nie net vanuit die perspektiewe van die Europese skepe sal vertel nie, maar juis vanuit die lewens van die mense wat reeds in die land was.

Wie was hulle, wat was hul lewenswyse, hul begrippe van goed en kwaad, hul gelowe en praktyke en waar het hulle die enorme voorraad vleis vir die skepe in de hande gekry?

Nee, die land was nie leeg nie, daar was nie ’n res nullius, ’n leë land wat net goedsmoeds ingepalm of “ontdek” kon word nie.

Prof. Christo van Rensburg, wat verlede week op Stellenbosch gehuldig is deur die Het Jan Marais-fonds vir sy lewensbydrae tot Afrikaans, verwys in sy toespraak weer na die eerste optekeninge van Afrikaans.

“Daardie eerste Afrikaans, wat aan die Kaap begin is, reeds 50 jaar voordat (Jan) Van Riebeeck hier anker gegooi het . . . die resultaat van die taalwisselwerking tussen Hollandse skeepslui en die Khoi-Khoi.”

’n Bydrae van die mense van Krotoa tot Afrikaans wat nog ruimer erken moet word. Maar nee, die perspektief is eerder, Afrikaans en sy Europese verlede. Dit, terwyl Afrikaans en sy Khoi-verlede, sy Krotoa-verlede, moeisaam sy kop begin oplig.

’n Eenvoudige vrou tussen Afrika en Europa, tussen die manne van die tyd en tussen die manne van haar Khoi- mense.

Krotoa wat ook moeitevol haar begin lig in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, iemand wat begin het in Van Riebeeck se huishouding as 11-jarige en later gedy het as onderhandelaar tussen die Khoi en die Hollanders, gedug in haar verstaan van beide kulture en tale.

’n Eenvoudige vrou tussen Afrika en Europa, tussen die manne van die tyd en tussen die manne van haar Khoi- mense.

Sy was van die eerste Khoi-dopelinge in die NG Kerk, die eerste Khoi-vrou om met ’n Europeër, die Deen Pieter van Meerhof te trou, en, sê dr. Willa Boezak, die eerste Khoi-persoon wat ’n Christelike begrafnis in die Kasteel gehad het.

Haar stamboom sluit in vanne soos Zaayman, Loubscher, Snyman, Van der Linde, Harmse, Peltzer en Viljoen. Familiegeskiedenisse is ook op die gebruiklike eenogige wyse saamgestel. Haar wyer familie, die Khoi- en “African”-nakomelinge, figureer natuurlik bitter min. Genealogie in Suid-Afrika is sterk rasgekleurd.

Al wat RSG se nuusbulletin oor Krotoa kon sê, was dat “sy in Van Riebeeck se kombuis gewerk” het.

Naam sal sê SA behoort aan al sy inwoners

Danny Titus

Kan ons met Krotoa as naam vir Kaapstad se lughawe begin om die ongeregtighede van die verlede en die hede opnuut te beklemtoon?

Kan dit ’n nuwe gesprek oor ons Suid-Afrikaansheid begin in ons huidige era van polarisasie en onverdraagsaamheid?

Kan dit ons laat uitstap uit ons eie kringe en laat teruggaan na die Vryheidsmanifes wat sê Suid-Afrika behoort aan almal wat in die land bly?

Ek dink beslis so.

Daarmee sal ons die diversiteit van ons land erken, ons sal terugkeer na die Grondwet se inherente waardigheid, ons tale en kulture.

Die film Krotoa is internasionaal mildelik bekroon.

Dit sal nie so ’n moeilike oorgang wees nie. Te midde van al ons verskille is hier ’n uitspraak van ’n naam, ’n geskiedenis, ’n identiteit wat ons Suid-Afrikaansheid met beslistheid sal terugbring.

Ek hoor al vir Trevor Noah: “Attention all passengers! You have landed in Cape Town. Krotoa International Airport welcomes you.”

* Dr. Titus is uitvoerende hoof: korporatiewe aangeleenthede van die ATKV.

Meer oor:  Floyd Shivambu  |  Krotoa  |  Danny Titus  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.