Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Terloopse gedagtes wyl donshael om jou gons
Tom Dreyer

Jy kom by jou bestemming aan en ’n kombi staan dwars voor die tuinhekkie geparkeer.

Jy vermoed nie onraad nie en stap óm die bussie. Maar wanneer jy aan die bakwerk raak, klap twee styfgespande slagyster-kake toe, sentimeters voor jou gesig.

Maar jou reflekse red jou, en jy stap die werf binne, waar jy moet lig loop vir die struikeldraad.

Dié draad is verbind aan ’n wig wat ’n enorme ronde jacuzzi in posisie hou. Gou kom die ding teen die steilte af na jou toe aangerol, en jy moet uit die pad uit duik soos Indiana Jones in Raiders of the Lost Ark.

Jy oorleef hierdie interaksie en vorder tot by die motorhuis.

Hier moet jy op jou hoede wees, want as jy die motorhuis se roldeur sou lig, sal vislyn ’n herboude muisval op ’n slagpennetjie laat toeklap, ’n haelgeweerpatroon sal ontbrand, en jy sal donshael kry waar dit die seerste maak.

Jy skuif die rolstoel opsy, ’n ketting van interaksies volg, en ’n ontploffinkie begrawe etlike stukkies skrapnel in jou kuite.

Maar jy is uitgeslape en spring ook hierdie gevaar vry en baan jou weg tot op die stoep, waarna jy plofstof gebruik om deur die versterkte voordeur te kom. Eers in die ingangsportaal, waar ’n rolstoel ongeërg eenkant staan, begaan jy ’n oordeelsfout. Jy skuif die rolstoel opsy, ’n ketting van interaksies volg, en ’n ontploffinkie begrawe etlike stukkies skrapnel in jou kuite.

Dít is presies wat op 7 September 2018 met ’n FBI-agent gebeur het toe hy in Williams, Oregon, die huis van ene Gregory Rodvelt betree het om ’n uitsettingsbevel op hom te beteken. Rodvelt is nie ’n laissez-faire- soort ou nie, en was klaar op parool weens ’n ander aanranding op ’n polisiebeampte ná ’n dramatiese jaagtog wat gelei het tot die sluiting van etlike paaie.

Rodvelt het sy eie beskouing oor reg en geregtigheid en het dae lank gewerk om seker te maak dat die uitsetting op sý voorwaardes sou geskied.

Op ’n manier was Rodvelt se ganse lewe, al daardie duwweltjies en misverstande, ’n voorbereiding op hierdie oomblik.

Neem byvoorbeeld die insidentjie toe hy en ’n boesemvriend, Dean Carlson, mekaar in 2016 vir die eerste keer in jare gesien het. Hulle was glo by Carlson se joert in die woude van Washington-staat en het ’n bietjie rondgery om te drink en vuurwapens af te vuur.

Rodvelt is ’n man met opinies, en in sy opinie het Carlson te stadig gery. Hy het hierdie punt benadruk met ’n vinnige opstopper teen sy vriend se linkerwangbeen, waarna die atmosfeer vinnig agteruit gegaan het. Terug by die joert het Carlson vir Rodvelt gevra om te skoert.

Maar niemand sê vir Gregory Rodvelt wat om te doen nie, en slegs die aanmoediging van ’n dubbelloop kon hom en sy Rottweiler aan die gang kry. Baas en hond was elk ’n paar haelkorrels ryker, maar Rodvelt kon agter ’n buite-yskassie teen die ergste van sy vriend se emosie gaan skuil.

Ek weet nie presies wat in daardie skuilplekkie deur Rodvelt se gedagtes gespeel het nie.

Dalk het hy besin oor die ontsettende wispelturigheid van die lewe. Dalk het hy, met sy vingertoppe op die vlekvryestaalverkoeler, besef dat ’n mens ten slotte slegs op tegnologie kan staat maak.

Dalk het hy, terwyl ’n oop tronkdeur vir hom wink, besef dat hy voortaan sal moet sorg dat hy reg is vir enige gebeurlikheid.

  • Dreyer is ’n bekroonde skrywer.
Meer oor:  Tom Dreyer  |  Avontuur  |  Fbi  |  Donshael  |  Slaggate  |  Jacuzzi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.