Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Terreur: Mosambiek moet oop kaarte speel

Suid-Afrikaners wonder of hulle nog aan die kus van Mosambiek rustig sal kan vakansie hou sonder om besorg te wees oor hul veiligheid.

Die geweld wat verbind word met Islamitiese ekstremisme in die land is tans beperk tot Cabo Delgado, die provinsie heel in die noorde, maar daar is al hoe meer berigte van gewapende aanvallers wat mense onthoof en doodskiet. Kenners praat van sowat 700 mense wat al sedert 2017 gesterf het en 156 000 mense is al uit hul dorpies verjaag.

Liesl Louw-Vaudran

Dis belangrik om te waak teen sensasie, veral omdat daar so min inligting oor die aanvalle beskikbaar is. Die regering verbied enige media of navorsers om in Cabo Delgado ondersoek in te stel.

Tog kan ’n mens dit nie net ignoreer nie. Elders in Afrika het regerings lank die bedreiging probeer wegpraat. Uiteindelik moes hulle erken dat hulle met die hande in die hare sit oor terreur, wat soos ’n veldbrand in dele van die vasteland versprei, soos in Nigerië (Boko Haram) en in Mali, waar Franse troepe ingegryp het.

Terwyl baie mense destyds Frankryk se rol verwelkom het, is daar al hoe meer vrae oor die internasionale betrokkenheid. Frankryk het meer as 4 000 troepe in die Sahel-lande, wat Mali, Niger, Burkina Faso en Tsjad insluit.

Tog het die terreurbewegings net gegroei en brei dit steeds uit. Daar was trouens in 2019 dubbel soveel terreuraanvalle in die Sahel-lande as in 2018.

Is dit die rede waarom die Mosambiekse regering so lank stilgebly het oor die terreuraanvalle? Wou hy dié soort “herkolonisering” verhoed?

Pres. Filipe Nyusi het wel verlede jaar ’n groot getal Russiese huursoldate “genooi” om die aanvallers te probeer stuit. Dit het glo liederlik misluk en die Russe het groot verliese gely.

Die probleem met geheimhouding is dat dit tot allerhande vals berigte lei en paniek kan veroorsaak.

Dit kan ook wees dat dit vir Mosambiek bloot ’n kwessie van nasionale trots is.

Die vrees dat toeriste sal wegbly as daar te veel oor die bedreiging gepraat word, is geldig. Dit was een van die redes waarom Kenia destyds in 2011 sy leër ontplooi het om die Somaliese terreurgroep al-Sjabaab te verjaag. Dit was ná ’n reeks aanvalle op toeriste in die noordelike kusgebied van Kenia.

Vir Mosambiek gaan dit ook oor die belangrike gasaanlegte en myne in Cabo Delgado wat in die gedrang kan kom as die terreurbedreiging uitbrei.

Die probleem met geheimhouding is dat dit tot allerhande vals berigte lei en paniek kan veroorsaak.

Die laaste paar weke het die Mosambiekse regering wel op ’n diskrete manier op geslote vergaderings van die Afrika-Unie en op vergaderings met die Angolese regering erken dat hy hulp nodig het om die probleem met “gesiglose aanvallers” in Cabo­ Delgado te bowe te kom.

Om sy toerisme in die res van die land te beskerm, is dit dalk beter om oop kaarte te speel en aan te dui dat daar wel in een deel van die land ’n bedreiging bestaan.

Dit kan reisigers dalk effens gerusstel en ook verhoed dat gerugte en wanvoorstellings na die res van die land versprei.

  • Louw-Vaudran is ’n konsultant vir die Instituut vir Sekerheidstudies.
Meer oor:  Liesl Louw-Vaudran  |  Veiligheid  |  Standpunt  |  Terreur  |  Vakansie  |  Meningsberig  |  Mosambiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.