Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Terugblik: Hoe eensydig sien ons die geskiedenis!

Hoe langer ek met die geskiedenis te make het, hoe meer besef ek ons almal dwaal maar in mindere of meerdere mate in ons eensydige siening daarvan. Noem dit halwe kennis of gewoon onkunde. In die lig van die regering se plan om geskiedenis as vak verpligtend tot matriek te maak, is dit belangrik om hierdie gevaar van eensydigheid by die kurrikulumskrywers tuis te bring.

Gewapende swart mans pas tydens die Anglo-Boereoorlog ’n Britse blokhuis op. Foto: Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, Bloemfontein

Ek was onlangs by ’n Anglo-Boereoorlog-naweek.

Dis byna uitsluitlik amateur-historici en daarom kan jy moontlik die volgende opmerking van ’n welwillende Engelssprekende deelnemer vergewe: “De Wet? Oh, he changed sides with the Rebel­lion (of 1914).”

Kan jy nou meer. Hoeveel begrip het die man van Afrikaner-ideale in die geskiedenis? Hoe kan hy “ons” begryp as hy nie besef dat dit Louis Botha en Jan Smuts was wat sides gechange het nie, dat De Wet die Afrikaner-ideale van ’n republikeinse onafhanklikheid voortgedra het, hoe veroordelend jy daaroor mag voel?

’n Dekade gelede toer ek saam met dr. Pierre Edwards en die gr. 10-Affies na die Natalse slagvelde. By die Ladysmith-museum vertel die geesdriftige Engelssprekende beampte dat die Boere in die paar jaar voor die Anglo-Boereoorlog op groot skaal wapens en ammunisie aangekoop het. “So, you can see their intention to start a war.”

Ai. Toe Cecil Rhodes se Jameson-inval van 1896 daarin misluk om die Zuid-Afrikaansche Republiek van pres. Paul Kruger omver te werp, het die ZAR-regering met ontnugtering agtergekom dat meer as 40% van sy dienspligtige Boere geen gewere besit nie, terwyl die res feitlik almal met verouderde gewere bewapen was. Ditto in die Vrystaat. Met ’n duidelike Britse bedreiging was dit bloot logies dat hulle hul sou bewapen – om hulle te verdedig, nie om ’n oorlog te begin nie.

Die traktaatjie by die Ncome-museum (oorkant die terrein van die Slag van Bloedrivier) vertel dat die Zoeloes aangeval het, maar nie die laer met hul steekassegaaie kon binnedring nie. Gevolglik het hul aanvoerder, Ndlela kaSompisi, sy krygers onttrek, met slegs tien gesneuweldes. Sommer so ’n ou kort geveggie.

Sak Sarel, ek bedoel Nkosi. Talle Voortrekkerdokumente wys dat die geveg tussen twee en vyf uur geduur het, waartydens die Trekkers die laer te perd verlaat het. Pretorius het die volgende dag die lyke deur sy geleerde sekretaris laat tel – meer as 3 000.

Talle Voortrekkerdokumente wys dat die geveg tussen twee en vyf uur geduur het, waartydens die Trekkers die laer te perd verlaat het.

Die laaste voorbeeld gaan oor my eie dwaling. Tydens my studies vir die doktorale eksamenkursus aan die Universiteit van Leiden in die 1970’s, sien ek twee Nederlandse studente in die geskiedenisleeskamer lees N.J. van der Merwe se werk oor president M.T. Steyn. Hulle vertel my hulle is besig met ’n skripsie oor “De zwarten in de Boerenoorlog.” “Maar zij waren niet betrokken,” kom my verbaasde opmerking.

Hoe skaam-verkeerd was ek nie! Opgelei in ’n Afrikanernasionalistiese paradigma waar die Afrikaner sentraal in die geskiedenis gestaan het, is ons nooit geleer watter rol swart mense in die Anglo-Boereoorlog gespeel het nie – vandaar dat sommige mense die benaming Suid-Afrikaanse Oorlog verkies.

Waarmee gaan die kurrikulumskrywers vorendag kom? Ons is mos nou ’n demokrasie. ’n Ware inklusiewe geskiedenis?

Meer oor:  Geskiedenis  |  Fransjohan Pretorius
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.