Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Terugblik in 2099 op jaar van die virus
Madré van Tonder

In die jaar 2099 grawe ’n geoloog ’n bliktrommel uit ’n kimberliet-lyn in ’n veld naby Kimberley. Op die deksel het iemand met ’n merkpen geskryf: “Suid-Afrika. Covid-19. 2020” Heel bo in die trommel is ’n vergeelde brief.

“My naam is Jan Publiek. Wanneer jy hierdie brief lees, is ek lankal dood. Of die virus die oorsaak sou wees, weet ek nie. Ek wil net almal laat weet hoe dit in die jaar 2020 in Suid Afrika was.” Etlike bladsye dagboekinskrywings volg.

Die geoloog steek die brief in sy sak en kyk verder. ’n Halwe rol toiletpapier het verkrummel tot amper as. Daar is ’n gesigmasker uit materiaal met ’n tiervel-motief. En twee A4-grootte foto’s wat hy van die son moet afskerm om die beeld te kan uitmaak. Een foto is van ’n man met ’n swart hoed met ’n “Geen alkohol”-teken op die voorkant. Die ander van ’n bejaarde vrou met ’n kopdoek en “Rook verbode” in rooi letters daarop.

Hy haal ’n resep vir tuisgestookte pynappelbier uit. ’n Pakkie rooibostee, ’n potlood en papier met instruksies hoe om zolle uit tee te maak volg.

Fassinerend, dink die geoloog. Het mense in 2020 sowaar nog gerook? Nou het die mensdom rook al dekades gelede verban. En het niemand hul eie tuisdistilleerders vir wyn nie?

Kaalvoet-kinders het verskrik in lang rye vir ’n sny brood en dalk ’n bietjie sop gewag.

Daar is ’n plakboek vol rubrieke oor die virus. Dit was in die tyd toe koerante nog gedruk uitgegee was.

Ene Dana Snyman skryf: “Dit was die herfs toe almal te veel toiletpapier en te min wyn gekoop het.”

Koerantberigte vertel van mense wat op straat hardhandig deur polisiebeamptes in blou uniforms rondgeruk is. ’n Soort vangwa neem hulle weg na ’n ontstellende onsekerheid.

’n Ander skrywer vertel van mense in sogenaamde plakkerskampe. Kaalvoet-kinders het verskrik in lang rye vir ’n sny brood en dalk ’n bietjie sop gewag.

Vaagweg herroep die geoloog gemompelde gesprekke tussen sy ouers en oupas en oumas oor “daardie tyd”. Dit was in die jaar toe sy ouers gebore is.

“Wees net bly ons het oorleef,” het sy ouers gesê as hy hulle daaroor uitvra.

Hy is grootgemaak met lensies en groente as stapelvoedsel. Die eet van diere soos in vervloë tye is aan hom onbekend. Iewers het hy gelees in ’n plek genaamd die Ooste het mense selfs honde en vlermuise as kos verbruik. Sy ma het nooit toegelaat dat hy daaroor uitvra nie.

“Dis nie dinge waaroor ’n mens praat nie,” het sy gesê.

Die geoloog pak sy gereedskap weg en stap met die trommel na sy sonkrag-voertuig. Hy het nie vandag kimberliet gekry nie.

Maar hy kan nie wag om te lees wat Jan Publiek verder geskryf het nie.

Eindelik kan hy self uitvind hoe dit in daardie tyd was. In Suid-Afrika in 2020.

Van Tonder is ’n vryskutskrywer van Brandfort.

Meer oor:  Madré Van Tonder  |  Terugblik  |  Korona
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.