Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Terugblik: Smuts vat mynstakers vas

Stakings is niks nuuts in ons ou landjie nie. Wat meer is, in die Randse mynwerkerstaking van 1922 was – miskien ’n vreemde gedagte – 90% van die stakers volgens die destydse minister van mynwese, Deneys Reitz, Afrikaners.

’n Wêreldwye ekonomiese insinking ná die Eerste Wêreldoorlog het ook Suid-Afrika en veral die goudmynbedryf getref.

Die saamtrek van die Newlands-stakerskommando. Let op die banier regs: “Workers of the world fight and unite for a white South Africa”. (Foto uit: A.G. Oberholster, Die mynwerker-staking, Witwatersrand, 1922.)

Volgens ’n ooreenkoms van 1918 tussen die Kamer van Mynwese en die Mynwerkersunie is geskoolde en halfgeskoolde werk vir wit mynwerkers geoormerk en ongeskoolde werk vir sowel wit as swart mynwerkers. Maar in die spartelende ekonomie het die mynbase nou meer (laer betaalde) swart mynwerkers as oplossing gesien. Dit het ’n bedreiging vir ongeskoolde, wit, hoofsaaklik Afrikanerwerkers ingehou. Ná die Anglo-Boereoorlog was daar verstedeliking en ’n armblankeprobleem.

Op 28 Desember 1921 het die Kamer van Mynwese bepaal dat swart mynwerkers ook in halfgeskoolde posisies kon werk – sowat 2 000 halfgeskoolde wit werkers sou hul werk verloor. Op 10 Januarie 1922 het meer as 20 000 wit mynwerkers begin staak. Swart werkers is deur die Kamer van Mynwese huis (reservate) toe gestuur om uitgawes tydens die staking te verhoed.

Jan Smuts, eerste minister, wou nie die mynwerkers vervreem nie, maar die goudmynbedryf was ’n belangrike inkomste vir die staat.

Op 7 Maart het ongekende geweld aan die Witwatersrand uitgebreek. Swart werkers is aangeval en vandalisme en sabotasie was aan die orde van die dag.

Drie dae later het Smuts krygswet afgekondig. Hy het regeringstroepe en burgermageenhede opgeroep om die stedelike terreur te beëindig.

Selfs die lugmag is betrek. By Benoni het hulle ’n masjienge­weeraanval uitgevoer op ’n gebou waar die stakers hulle verskans het en vier bomme is oor die mynwerkersaal van Benoni losgelaat. Op 14 Maart het regeringstroepe die stakers se laaste vesting, Fordsburg, ingeneem.

Drie dae later het die vakbonde die staking afgelas. 43 troepe, 29 polisiemanne en 81 burgerlikes is gedood en 650 gewond.

Die vakbonde se mag is gebreek. Die mynbedryf het weer winsgewend geword.

Meer oor:  Fransjohan Pretorius  |  Aktueel  |  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.