Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Terugkeer na die oorsprong van bestaan
Hennie van Coller, redakteur van Perspektief en profiel.

Dis deesdae opvallend hoeveel mense hulle besig hou met hul herkoms.

Baie kennisse van alle ouderdomme soek voortdurend in argiewe na die geskiedenis van hulle voorgeslagte wat uit alle windstreke verhuis het na hierdie “wye en droewe land”.

Die meerderheid uit die stamlande: Nederland, Vlaandere, Duitsland en Frankryk.

Maar ook uit Engeland, Skandinawië, Portugal en Italië het hulle na die Kaap gestroom. Soms teen hul sin as slawe.

Ander vriende besoek gereeld begraafplase waar oorledenes se geboorte- en sterfdatums noukeurig neergeskryf word om die Mormone van Utah te help om hul databasisse volledig te kry.

In die familiegeskiedenis is ons reisende voorouers dikwels mitologies omvorm tot voortvlugtendes weens ’n ongeoorloofde liefdesverhouding, die dood van ’n teenstander in ’n tweegeveg of om gevangenskap te ontduik weens rebellie teen ’n despoot.

Maar meestal was die motivering om ’n gevaarlike boottog te onderneem – waartydens skeurbuik, skipbreuk en kielhaal ’n sterk moontlikheid was – bloot toe te skryf aan armoede of avontuurlus.

Afrikaners is swerflustiges en het al groot trekke onderneem na Afrikalande, soos Angola, of selfs na die verre Argentinië.

En hierdie gene moet tog êrens vandaan kom, of hoe?

Daar word geglo dat as jy jou oorsprong ken, jou identiteit makliker bepaalbaar is.

Die sogenaamde genealogiese prosawerk is van alle tye, maar het in die afgelope dekades in gewildheid toegeneem en was in Vlaandere vir ’n lang tyd dié gewildste soort roman. Maar ook in Afrikaans is “herinneringsletterkunde” reeds vir ’n lang tyd gewild. As fiksie én niefiksie.

Soms word in hierdie skryfwerk veral op die jeugjare gekonsentreer en kry die leser ’n hele lys van “eerstes” voorgesit: Die eerste skooldag, die eerste kys of seksuele ervaring, maar soms ook die eerste keer toe die skille van die oë afgeval het en jeugdige onskuld vir ewig vernietig is.

Kenners van genealogiese skryfwerk wys daarop dat in die Westerse kultuur veral, oorsprong belangrik is. Vir baie mense lyk dit na die belangrikste voorwaarde vir betekenis en betekenisskepping.

Daar word geglo dat as jy jou oorsprong ken, jou identiteit makliker bepaalbaar is. Daarom is anekdotes so belangrik in enige historiese relaas.

Asof ’n mens die somtotaal is van al sy ervarings en evolusies.

Dit is verleidelik om hierdie obsessie met herkoms en oorsprong te koppel aan onthegting en ontheemding, kenmerke van die (post-) moderne bestaan. Aangehelp deur globalisering en migrasie, prosesse wat die begrip “tuiste”, “tuis-” of “moedertaal” problematiseer en alle identiteite bevraagteken.

Moderne jong mense keer daarom terug na ’n geborge bestaan, leef beskeie, maar betrokke in hul gemeenskap. Maak ouma se resepte, besoek klein winkeltjies en gee weer familiename aan kinders.

Gelukkig maar, want vir my smaak “Donovan”, “Brad” of “Benedict” Koekemoer (óf van Coller) soos gruis.

Meer oor:  Hennie Van Coller  |  Afrikaans  |  Name
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.