Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
The Donald veg om oorlewing
Gert Coetzee

Soos Leopold Scholtz Woensdag in Volksblad sê: Of Donald Trump of Joe Biden die Amerikaanse presidensiële verkiesing Dinsdag wen, is vir Suid-Afrika om’t ewe. Vir die VSA is ons ’n nul op die kontrak.

Tog weet Trump seker Suid-Afrika is een van Afrika se “shithole countries” En Biden het darem al valslik beweer hy is tydens apartheid in Soweto in hegtenis geneem.

Kies jou man. Met ’n rekordtal van meer as 50% van Amerikaanse stemgeregtigdes of bykans 60 miljoen wat al hul kruisie vroeg of per pos getrek het, loop Biden naelskraap voor. Die sentiment is egter dat die verkiesing eerder daaroor gaan of Trump dit gaan verloor as oor of Biden dit gaan wen.

Die Demokrate se keuse van Biden (op 77 die oudste deelnemer nóg aan die presidensiële wedloop) is bietjie soos ’n rugbyspan wat speel om nie te verloor nie eerder as om voluit te wil wen. Al was “Sleepy Joe” (Trump se skelnaam vir hom) in die laaste twee presidensiële debatte nie heeltemal so slaperig nie is Trump (74) die een oor wie die gemoedere hoog loop, hetsy positief of negatief.

Hy het sedert 2016 as die 45ste “commander in chief” van “the land of the free and the home of the brave” onder die Star-Spangled Banner politieke patrone en internasionale betrekkinge versteur sodat hy, volgens sy styl, die ontwrigting kon bestuur.

In ware Amerikaanse trant is Trump larger than life, soos daai WWF-stoeihelde wat bomenslike truuks uithaal, maar nooit seerkry nie. Vir niemand is hy bang nie, nie eens vir Covid-19 nie.

In ware Amerikaanse trant is Trump larger than life, soos daai WWF-stoeihelde wat bomenslike truuks uithaal, maar nooit seerkry nie. Vir niemand is hy bang nie, nie eens vir Covid-19 nie.

En hy maak sy eie reëls, wat vir andere geld, maar nie vir hom nie. Ondanks sy aartspopulisme, bullebak-gedrag (insluitende seksuele afknouery van vroue) en los mond is hy vir baie ’n superheld. The Donald is die cowboy met twee six-shooters wat teen sonop die dorpie binnery en teen sononder het hy skoongemaak. Net die saloon se swaaideure klap nog in die windjie.

En het Trump nie skoongemaak nie.

Hy het honderde top-amptenare, baie van hulle eens vertrouelinge in die Withuis, afgedank of hulle het self padgegee. Dis ’n personeelomset vyf keer hoër­ as vorige presidente s’n. Die sepie-verhaal, soos op werklikheidstelevisie, duld net een hoofakteur.

Trump-bashing is maklik, juis omdat die kêrel met die kuif, jeukerige Twitter-vinger en leuens (wat hy self glo is die volstrekte waarheid) hom karikatuuragtig daartoe leen. Hoekom veg so ’n bombastiese figuur om politieke oorlewing? En as hy verloor, het hy al by voorbaat ’n ekskuus opgestel – dat die verkiesing bekook is.

Teen die verwagting in het Trump die 2016-verkiesing op die rug van ’n Mexikaanse muur, Obamacare en “Make America great again” weggeraap voor Hilary Clinton wat reg was om die VSA se eerste vroulike president te word. Dit lyk nie of “Make America great again, again” so lekker werk nie.

Ekonomies gesproke het Trump die Navo-lande, China en ander in ’n blik gedruk. Oënskynlik het hy ook deurbraak-ontmoetings met Xi Jinping, Wladimir Poetin en Kim Jong-oen (“Little Rocketman) gehad. Maar al drie staan sterker as ooit. En sy vredesplan vir die Israeli-Palestynse konflik kry nie dieselfde lof van alom nie.

Op die nippertjie het Trump vir regter Amy Coney Barrett tot die hooggeregshof verkies gekry, wat aan dié hof ’n Konserwatiewe voorsprong van 6-3 gee. Of dit sy laaste ontwrigtingsdaad was, bly te siene. Ontleders meen Barrett neig eerder middelgrond toe.

Oor Black Lives Matter en #MeYoo is Amerikaners verdeel. Ironies genoeg is dit Trump se traak-my-nie-agtigheid oor Covid-19 wat die beslissende faktor in die verkiesing kan wees. Op 3 November sal ons weet of die sepie voortduur. En of dit ’n slaaptydstorie word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.