Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘The Post’: Pers het een keuse
Gert Coetzee

Dis toevallig dat die Oscar-benoem­-de The Post wys in die week dat Volksblad berig oor die pers­-om­budsman se beslissing oor die sake Volksblad versus The Weekly en andersom. Die beginsels van persvryheid kom aan bod.

Die rolprent belig The Washington Post se keuse of hy gaan berig oor die Pentagon Papers, wat onthul die Amerikaanse regering het sy land in die Viëtnamese oorlog gedompel in die wete dat dit ’n verlore stryd is. Dit het tot tienduisende se vergeefse dood gelei.

Gegewe ’n hofbevel, besin die uitgewer Katharine Graham en die redakteur Ben Bradlee daaroor of hulle ter wille van die waarheid tronk toe sal gaan. Die fliek wemel van joernalistieke waarhede wat vir (ware) lede van die Vierde Stand alte bekend is.

  • Daagliks is daar druk om te berig oor dinge wat diegene wat daarop aandring, goed sou laat lyk. En druk om nié oor hul brouwerk te berig nie.
  • Die gewone stukkie manipulasie is dat die koerant ’n agenda teen die betrokkene sou hê. Asof die redakteur soggens opstaan en besluit vandag het ons ons mes vir so-en-so in, en gaan hulle bykom.
  • Dus: Skiet die boodskapper om die aandag van jouself af te lei. Die teorie van sameswering is die ou truuk.
  • Elke bron wat iets gepubliseer wil hê, of nie, het ’n agenda. Fluitjieblasers speel ’n onontbeerlike rol, maar hul inligting móét getoets word. As hulle anoniem moet bly, raak dit moeiliker.
  • Om te publiseer of nie? Dít is die daaglikse balanseertoertjie. As jy wel publiseer, is die vraag: Hóé publiseer jy?
  • Ofte wel: Quis custodiet ipsos custodes? Wie bewaak die wagters?

As besetter van die magskussings het die regering ’n bepalende rol in hoe die teorie van persvryheid in ’n land hom in die praktyk uitspeel. Gewoonlik gee hy hoog op oor spraakvryheid – totdat vergrype en wanbestuur onthul word.

Dan begin die aanslag om sy eie weergawe van die waarheid te laat geld. The Post gee ook die klassieke gevallestudie weer van hoe die Nixon-regering die pers afgedreig het.

Fluitjieblasers speel ’n onontbeerlike rol, maar hul inligting móét getoets word.

In Suid-Afrika se Inligtingskandaal in die 1970’s was dit die NP-regering van PW Botha wat deur The Citizen en To The Point sy eie waarhede (lees: propaganda) oor apartheid wou skep.

Op ’n Vrydagoggend in November 2017 pryk ’n plakkaat van The Weekly, gefinansier deur die Vrystaatse ANC-regering van Ace Magashule, teen Bloemfontein se lamppale – oor sy exposé oor Volksblad se rol in ’n “rasse-sameswering om Magashule en swart sakelui af te takel”. Die storiekern: Naamloses het bevestig dat wittes in die regering inligting aan Volksblad uitlek!

Hierop het Volksblad ingevolge die SA Perskode by die persombudsman ’n klag teen The Weekly ingedien. Die week daarna is dit begroet met ’n teenklag oor ’n berig van Volksblad vanuit die wetgewer se komitee oor openbare rekeninge oor ’n tender vir webtuistes wat aan Letlaka Media (eienaar van The Weekly) toegeken is, en waarvoor R95 miljoen opgedok is. Dít sou dan Volksblad se ras-agenda bevestig. Nes in die aanvanklike The Weekly-berig gesê is, staaf beriggewing oor die Vrede-suiwelplaas glo die ras-agenda.

Die ombudsman het Volksblad se klag gehandhaaf, en The Weekly s’n weggewys. Hy moet vir sy “ernstige oortredings” verskoning aanteken.

Dis nie om behae uit te put nie.

Soos vir The Post (die koerant) is daar net een keuse: “Die pers dien nie die regeerders nie, maar diegene oor wie geregeer word.”

Al beteken dit – soos vir The Post – jy word van teepartytjies in die Withuis geskors. Of loop gevaar van tronkstraf. The Post (die rolprent) eindig met die Watergate-inbraak. Die “first rough draft of history” vervolg.

Meer oor:  Pers. The Post  |  Etiek  |  Joernalistiek  |  Persvryheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.