Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Theo Venter: Het ons politieke korrektheid nodig?

Politieke korrektheid het ’n positiewe funksie in verdeelde samelewings, maar die oordrywing daarvan het ook nadele, skryf Theo Venter.

Pres. Donald Trump van die VSA het die term “politieke korrektheid” opnuut in die soeklig geplaas tydens sy verkiesingsveldtog. Foto: AP

Politieke korrektheid as ’n benadering het wêreldwyd opnuut onder almal se aandag gekom toe pres. Donald Trump van die VSA dit tydens sy verkiesingsveldtog in 2016 duidelik gemaak het dat hy glad nie politiek korrek gaan wees nie.

Hy sou dus politieke vraagstukke op die naam noem en nie sagte, genuanseerde en diplomatieke verwysings na immigrasie, internasionale handel en buitelandse beleid gebruik nie. Dit het baie van sy ondersteuners nog sterker na hom aangetrek, maar sy teenstanders verder weggedryf.

Dit was twee jaar gelede.

Politieke korrektheid is ’n tweesnydende swaard.

Die New York Times het onlangs berig die Withuis het die hoofstroommedia versoek om Trump meer beweegruimte te gee en hom met meer genuanseerdheid te behandel!

Politieke korrektheid is ’n tweesnydende swaard.

Vir Suid-Afrika, wat nie die Demokraties/Republikeinse verdeling het wat die VSA kenmerk nie, is politieke korrektheid iets anders.

Rasseverwysings is wel ’n ooreenkoms tussen die twee lande omdat albei sekere historiese ontstaansgronde en koloniale erfenisse deel.

Meningsverskille oor koloniale erfenis, rasseverdeling, taalverskille, etniese verskille en godsdienstige onderskeide skep ’n mosaïek van diversiteit waarin politieke korrektheid gedy.

Politieke korrektheid hét positiewe dimensie

Die debatte rondom rassisme en kolonialisme waarin Helen Zille, premier van die Wes-Kaap, haar bevind, selfs die Ashwin Willemse-geval en tot ’n mindere mate die geskil tussen my en Carl Niehaus illustreer die mynveld wat politieke korrektheid is.

Politieke korrektheid word dikwels in negatiewe en afwysende terme gebruik, maar dit het beslis ook ’n positiewe dimensie.

Die doel is dus om ’n sensitiwiteit te kweek, verdraagsaamheid aan te moedig en groter sosiale kohesie te skep.

Dit help ons om polities fatsoenlik en noukeurig te wees en te formuleer. Dit help ons om kwetsende verwysings na sensitiewe sake te vermy.

Politieke korrektheid word gewoonlik positief gedefinieer as die proses waarin taal, beleide en maatreëls aangewend word om kwetsende verwysings na spesifieke groepe in die samelewing te vermy.

Die doel is dus om ’n sensitiwiteit te kweek, verdraagsaamheid aan te moedig en groter sosiale kohesie te skep.

Politieke korrektheid verdiep polarisasie

Ongelukkig het politieke korrektheid in die praktyk ook ’n ander toepassing en invloed: Dit verdiep gepolariseerde persepsies en standpunte, eerder as om dit te versag.

’n Niepolitieke voorbeeld kan hier as voorbeeld dien: Is dit selfdood of is dit selfmoord?

Laasgenoemde is gevestig in die volksmond, maar is ’n baie wrede, amper kriminaliserende term, terwyl selfdood sagter en meer simpatiek is.

Politieke korrektheid is nie iets wat in wetgewing vasgelê word nie, dit is ’n informele proses wat gedra word in die media en sterk figureer onder die intelligensia van ’n samelewing, soos op universiteite.

Uiteindelik ontstaan daar ’n soort ongeskrewe kode oor wat gesê en wat nie gesê mag word nie.

Julius Malema, leier van die EFF, weet hoe om die ongeskrewe reëls van politieke korrektheid te breek. Foto: Argief

Politieke brekers, soos Trump en Julius Malema, leier van die EFF, weet egter intuïtief dat om die ongeskrewe reëls doelbewus te breek, sekere politieke voordele het, al is die skade wat hul optrede aanrig baie groot.

Die term “politieke korrektheid” is in die laat 1920’s gevestig deur die Sowjet-Unie en sy ideologiese meelopers wêreldwyd om te beskryf wat dit beteken om ’n goeie kommunis en lojale partylid te wees.

In sy negatiewe aanwending is politieke korrektheid ’n soort ideologie wat politieke onderdanigheid aan ’n elite vereis.

Josef Stalin, leier van die Sowjet-Unie, het mense verplig om politiek korrekte terme te gebruik of die gevaar te loop om vervolg te word.

Nêrens is daar egter ’n beter verwysing na die gebruik van politieke korrektheid as in die politieke satire Animal Farm (1945) van George Orwell nie.

In dié satire word daar na die Russiese Rewolusie van 1917, Stalin se diktatorskap en ook die Spaanse burgeroorlog verwys en word die onderdanigheid aan ’n heersende elite en ideologie baie goed geïllustreer.

Onderdanigheid aan ’n elite

Helen Zille, premier van die Wes-Kaap, was in die spervuur oor haar twiets oor kolonialisme. Foto: Argief

In sy negatiewe aanwending is politieke korrektheid ’n soort ideologie wat politieke onderdanigheid aan ’n elite vereis.

Word politieke onkorrektheid net met ’n regse gedagtegang of oriëntasie geassosieer?

Daar word dikwels, veral in die Europese en Amerikaanse konteks, gesê regse groeperinge het die monopolie op politieke onkorrektheid. Dit is egter ’n baie eensydige beeld, want die ideologiese dwang van die radikale linkerkant of godsdiens kan net so politiek onkorrek wees.

Plaaslik slaag Malema hierdie toets met feitlik elke toespraak, veral met sy kwetsende uitsprake oor wit Suid-Afrikaners en dié van Indiër-afkoms.

’n Ander vorm van politieke korrektheid wat dikwels in Suid-Afrika ervaar word, is wanneer daar in die openbaar verwys word na regeringsbeleid en -optrede nog voordat dit geformaliseer of aanvaar is. Dit is amper ’n soort voortydige onderhorigheid wat grens aan politieke skynheiligheid.

Die sensitiwiteit rondom pleknaamveranderinge het baie sulke voorbeelde. Dit het telkens gebeur dat die verandering van plekname nog in die besprekingsfase was, maar dat die regering die nuwe name reeds amptelik begin gebruik het as ’n soort van voorsprongaksie.

Die media het dit ook begin doen, hoewel daar nog geen formele besluit daaroor was nie.

Rassisme en politieke korrektheid

Die rassismedebat in Suid-Afrika en politieke korrektheid is besig om verstrengel te raak. Enersyds word daar geargumenteer dat net wit mense rassisties kan wees en dat die onderdrukte slagoffers van apartheid per definisie, nie rassisties kan wees nie.

Rassisme is nie die eksklusiewe domein van wit mense of mense van Europese- of koloniale afkoms nie, want Nazisme word gesien as ’n vorm van rassisme en die optrede van die Duitsers teenoor Jode in die tydperk van Adolf Hitler was nie ’n wit-swart stryd nie.

Iets ander lê rassisme ten grondslag.

Etniese of ander verskille tussen mense en groepe is dikwels eerder die gevolg van geïnstitusionaliseerde stereotipes as wat dit rassisme is.

Rassisme kom voor wanneer daar ’n hiërargie in sosiale verhoudings is. Dit wil sê, daar moet sprake van ’n dominante klas/groep/elite en ’n onderdanige of onderdrukte groep of klas wees.

Theo Venter. Foto: Sarel van der Walt

Kortom, dis die baas-klaas-verhouding wat rassisme ten grondslag lê.

Die dominerende groep besef nie altyd hoe dramaties sy optrede, feitlik onsigbare meerderwaardigheid, taal en verwysings die voormalig onderdrukte groep kwets nie.

Groepe wat in die verlede onderdruk is, besef nie altyd hoe die onderdanigheidskultuur en feitlik onsigbare minderwaardigheid deel van hul persepsies en optrede geword het nie.

Ek glo rassisme is ’n inherente deel van ons samelewing en dat dit heeltemal te maklik en polities opportunisties misbruik word. Om rassisme te oorkom, het ons brugbouers nodig en nie mense wat brûe afbreek nie.

Dit is ’n baie sensitiewe situasie waar politieke korrektheid ’n belangrike rol speel.

Politieke korrektheid het ’n positiewe funksie in verdeelde samelewings omdat dit probeer om sensitiwiteit vir ’n komplekse situasie te probeer skep.

Maar die oordrywing van politieke korrektheid kan ideologiese onderdanigheid aanmoedig en daartoe lei dat mense hulself sensor.

Suid-Afrika het die wêreld gewys hoe om ’n konfliksituasie te transformeer in ’n ontwikkelende demokrasie. Om dié proses volhoubaar voort te sit, sal ons meer met mekaar in nasionale gesprek moet tree oor wat ons mag sê en wat nie.

Anders kry ons weer ’n dominante politieke elite wat bepaal wie is baas en wie is klaas op die Suid-Afrikaanse Animal Farm.

* Venter is ’n politieke ontleder by die Noordwes-Universiteit se besigheidskool.

Meer oor:  Carl Niehaus  |  Theo Venter  |  Julius Malema  |  Helen Zille  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.