Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Theo Venter: Ons moet nooit weer in Augustus stem!
Die politieke ontleder Theo Venter reken Augustus is nie die ideale tyd vir ’n verkiesing nie. Slegte weer kan apatiese kiesers ontmoedig.

Theo Venter.
Met die aankondiging dat 2016 se verkiesing in Augustus sou plaasvind, het baie mense gewonder of dit werklik ’n goeie idee is. Die OVK het egter min opsies gehad omdat die Grondwet vereis het dat die verkiesing voor 16 Augustus 2016 moes plaasvind, anders was ons in ’n grondwetlike krisis.

Hierdie situasie was natuurlik direk herleibaar na die verkiesingshof en konstitusionele hof se uitsprake oor die kieserregistrasieproses in die saak van Kham en ander onafhanklikes van 2013 tot 2016.

Augustus word allerweë beskou as ’n winderige maand in Suid-Afrika, met die laaste koue fronte wat die Kaap teister en soms baie koue dae en weke in die binneland veroorsaak. Baie mense beskou Augustus ook as ’n neerdrukkende tyd, iets wat die ANC, en veral Beaufort-Wes se omstrede burgermeester, Truman Prince, die afgelope dae opnuut ontdek het. Ons weet dat kiesergedrag sterk deur weersomstandighede beïnvloed word en dat kiesermobiliteit sterk deur reën en koue beperk word.

Die vraag waarom verkiesings tradisioneel nie in Augustus plaasvind nie, het opnuut weer na vore getree as daar ná ’n tydperk van 106 jaar se verkiesings in Suid-Afrika gekyk word in die tydperk 1910 tot 2016.

Tot nou het 32 verkiesings op nasionale vlak plaasgevind. Voor 1994 was daar 21 en ná 1994 het daar vyf nasionale verkiesings en vyf plaaslike verkiesings op nasionale vlak plaasgevind, waarvan die November 1995-verkiesing oorgeloop het na Mei 1996.

Sedert 1910 het 21 van al die verkiesings in die maande Maart, April, Mei en Junie plaasgevind, dit wil sê twee-derdes van alle verkiesings (65,6%) vind in die Suid-Afrikaanse herfs plaas. Weerstoestande is dan baie matig en buitengewone koue of reën is seldsaam. As net April en Mei uitgesonder word, het 15 verkiesings (46,8%) in daardie twee maande plaasgevind. April is oor die afgelope 106 jaar die gewildste verkiesingsmaand (8 verkiesings) en in Januarie het daar nog nooit ’n verkiesing plaasgevind nie.

Wat is die boodskap aan politieke partye en die OVK? Hou by die April en Mei-verkiesingstradisie en vermy Augustus, want slegte weersomstandighede ontmoedig reeds apatiese stemgeregtigdes om die moeite te doen om wel te gaan stem.

* Theo Venter is Netwerk24 se politieke ontleder tydens die verkiesing. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.